Tara skud vere reg vir 51ste byeenkoms

Hoewel dié tydren vier keer in ses jaar deur Japie van Niekerk gewen is, kon geen deelnemer dit nog in drie jare opeenvolgend inpalm nie.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Windhoek-motorklub (WMK) in samewerking met Walvisbaai-motorklub bied vanaf 21 tot 23 November die 51ste Total Tara-tydren vanaf Swakopmund na Windhoek aan.

Total Namibië sal soos verlede jaar opnuut sy gewig as hoofborg agter die Tara ingooi om dié ikoniese byeenkoms weer 'n fenomenale sukses te maak.

Vanjaar se kompetisie vind weer oor drie dae met 19 supersneldele (SS), twee spesiale supersneldele en 'n renafstand van 224.62 kilometer plaas.

Japie van Niekerk, die vlieënde Suid-Afrikaner, sal weer vanjaar sy titel kom verdedig. Met sy 4x4-Ford Fiesta Super 2000 (S2000), is hy die enigste deelnemer in die afgelope 50 jaar wat die Tara vier keer kon inpalm.

Van Niekerk het met sy eerste probeerslag in 2013 gewen en dieselfde in 2014 met navigator Gerhard Snyman vermag.

In 2016 skuif Robin Houghton saam met Van Niekerk in die Ford in om die titel te buit en verlede jaar was Snyman weer langs Van Niekerk om die Tara-trofee as algehele wenner te lig.

Behalwe Van Niekerk word nog inskrywings uit die buurland verwag. Die veldrenafdeling (Off-road, OR) het in 2018 vir die eerste keer afsonderlike titels aan jaers vir spanne in dié vyf klasse gebied. In vanjaar se weergawe word selfs meer opwinding hier voorspel, veral met Jaco van Dyk en Michel Rust wat vir die 2020 Dakar gekwalifiseer het.



DIE SKOFTE

Vanjaar sal nie anders wees nie, met die brullende V8-Dakar-bakkies en plaaslike spanne wat met minder gesofistikeerde tegnologie die Tara in verskillende klasse gaan aandurf.

Vanjaar se okkasie spring die Donderdagnamiddag omstreeks vyfuur by The Dome in Swakopmund weg, waarna vier spesiale sneldele in die omgewing van Daggabos, die MX-baan, Rössmund en die ou kragstasie gejaag gaan word.

Die Vrydagoggend spring die spanne by TransNamib weg met SS5 tot SS14 wat vanaf Swakopmund tot by Wilhelmstal gejaag word. SS15 en SS16 word die Vrydagaand (18:00 tot 19:00) by die Tony Rust-renbaan aangebied waar twee opwindende spesiale supersneldele op en in die omgewing van die baan gejaag word.

Die Saterdagoggend vroeg vertrek die spanne na Okahandja waar SS17 en SS20 by die vliegveld suid van die dorp, SS18 (Okazizi) en SS19 (Waldau) aan die beurt kom. Die laaste trajek (SS21) is by Tony Rust waar toeskouers vir oulaas die deelnemers in aksie kan sien.



AFSTAND EN KLASSE

Die totale afstand wat spanne saam met die 224.62 km resies moet aflê, is op 701.27 km veel langer as net die sneldele waar die deelnemers se tyd gemeet word.

Klasse waarin die sedankarre sal jaag, is S1 (maksimum 1600cc, 4x2-aandrywing), S2 (1601cc tot 2000cc, 4x2), S3 (2001cc tot 3000cc, 4x4) en S4 (meer as 3000 cc, 4x4).

Die veldjaers (Off-road, OR) se voertuie wat bakkies en doelgeboude monsters soos die BAT-veldwa en Dakarbakkies insluit, word in OR A-klas (ses- en agtsilinders, 4x4-aandrywing), OR B (4-silinders, 4x4), OR C (6- en agtsilinders, 4x2), OR D (4-silinders, 4x2), OR E (BAT, 4x2) ingedeel.

Interessant is dat 'n sedankar met 'n 1400cc-kragbron en 4x2-aandrywing wat ook oor turbo-aanjaging beskik, wel volgens 'n maklike formule na 'n hoër afdeling geskuif sal word. Turbo-aangejaagde enjins (alle klasse) se enjinkapasiteit word met 1.4 vermenigvuldig, terwyl 'n Rotary-enjin met twee gemaal word om 'n verhoogde enjinkapasiteit te bereken. Ongeag die enjingrootte, word 4x4-aangedrewe sedans ook met die 1.4-faktor vermenigvuldig om sy klas te bepaal.

'n Voertuig met 'n 1400cc-enjin en 4x2-aandrywing sal sonder turbo-aanjaging aan die S1-klas deelneem. Indien dit oor 'n turbo beskik, sal die enjinkapasiteit 1960cc wees wat hom vir die S2-klas laat kwalifiseer.

Dieselfde geld vir 'n 1400cc-enjin (sonder turbo) met 4x4-aandrywing wat weens sy beter vastrapvermoë in 'n meer kompeterende klas sal jaag. Die kleiner Rotary-enjins wat veel meer skop by sy aandrywingswiele lewer om groter enjins die stryd aan te sê, word met twee gemaal. Dus sal 'n 4x2- Rotary-enjin van 1 600c met 4x2-aandrywing die S3-deelnemers die stryd moet aansê.

Die algehele wenners (sedans) van 2018 was: 1 Japie van Niekerk/Gerhard Snyman, 2 Wilro Dippenaar/Riaan van der Westhuizen en 3 Jaco Redelinghuys/Dries Booysen. Die OR-afdeling is deur Jaco van Dyk/Michel Rust oorheers, met Richard Himmel/Adolf Botes tweede en die broers Stefan en Lappies Labuschagne in die derde posisie.

Ander borge wat die 2019 Total Tara & Friends-tydren saam met die Namibië Motorsportfederasie (NMSF) moontlik maak, is SAT-COM Communication Solutions, sky-way, Gobabis Toyota, Steckels Toyota, RS Freight Solutions, Kosmos 94.1, Super Tyres, City Clutch & Brake (CCB), J&P Hydraulics Racing en sealconsultingengineers.



WENNERS VAN DIE VERLEDE

1969 Chris Liebenberg (bestuurder) en André de Jager (navigator), beide Namibië, Renault Gordini.

1970 Pix von Prittwitz/Larry Kritzinger (Nam) VW-kewer.

1971 Dieter Gaus/Udo Weck (Nam) Ford Capri 3000.

1972 Louis Cloete/Willem van Heerden (RSA) Ford Escort.

1973 Louis Cloete/Willem van Heerden (RSA) Opel Manta.

1974 Jannie Kuun (RSA)/Peter Gaus (Nam) 1900 GSL Toyota.

1975 Buks Visser/Ingo Kiesewetter (Nam) 1600 SSS Datsun.

1976 Geoff Mortimer/Chris Hawkins (RSA) Leyland Marina.

1977 Sarel van der Merwe/R. de Jager (RSA) Leyland Marina.

1978 Geoff Mortimer/Spotty Woodhead (RSA) Chev Chevair.

1979 Uwe Molzahn/Louis v Zyl (Nam) Ford Escort.

1980 Manie Swanepoe/Siggi Wiedenroth (Nam) 1800 SSS Datsun.

1981 Sarel van der Merwe/Franz Boshoff (RSA) Ford Escort.

1982 Jürgen Engling/Peter van der Merwe (Nam) 140Y Datsun.

1983 Johan Hugo/Deon Barnard (Nam) 180Y Datsun.

1984 Laurence Koch/Dippies Dippenaar (Nam) 1600 Toyota Corolla.

1985 Laurence Koch/Dippies Dippenaar 1600 Toyota Corolla.

1986 Rolf Pretorius/Hans Pretorius (Nam) 1800 Toyota Corolla.

1987 Piet Oosthuizen/Wolfgang Pack (Nam) 2.8 Toyota Liftback.

1988 Llewellyn Anthony/Jan Gous (Nam) 2.8 Nissan Langley.

1989 Theo Coetzee/Willem Hugo (Nam) 2.8 Nissan Skyline.

1990 Uwe Kessler/Brian Enslin (Nam) 2.0 VW Golf.

1991 Junior Bruwer/Wicus Bruwer (Nam) B2600 4x4-Mazda-bakkie.

1992 Johan Evertse/Peter Cuffley (RSA) 4x4-VW Golf Syncro.

1993 Roelof Coertzen/Martin Botha (RSA) 4x4-Ford Sapphire.

1994 Roelof Coertzen/Jillian Tarlton (RSA) 4x4-Ford Sapphire.

1995 Fritz Flachberger/Wicus Bruwer (Nam) Ford Escort.

1996 Serge Damseaux/Pierre Arries (RSA) Toyota Conquest.

1997 Llewellyn Anthony/Wicus Bruwer (Nam) 4x4-Ford Sapphire.

1998 Enzo Kuun/Martin Botha (RSA) Daewoo.

1999 Richard Himmel/Adolf Botes (Nam) Toyota Conquest.

2000 Serge Damseaux/Guy Hodgson (RSA) Toyota Hilux-bakkie.

2001 Hannes Grobler/Richard Leeke (RSA) Nissan Hardbody-bakkie.

2002 Schalk Burger/Piet Swanepoel (RSA) 4x4-Subaru Impreza.

2003 Gerhard Truter/Tobie Barlow (Nam) 4x4-Audi Quattro.

2004 Gerhard Truter/Michael van Zyl (Nam) 4x4-Audi Quattro.

2005 Ettienne Lourens/André Vermeulen (RSA) Toyota Corolla.

2006 Richard Himmel/Adolf Botes (Nam) Toyota Corolla.

2007 Jean-Pierre Damseaux/André Vermeulen (RSA) Toyota RunX.

2008 Jean-Pierre Damseaux/André Vermeulen, Toyota RunX.

2009 Hergen Fekken/Pierre Arries (RSA) 4x4-VW Polo S2000.

2010 Hergen Fekken/Pierre Arries, 4x4-VW Polo S2000.

2011 Wilro Dippenaar/Morné du Toit (Nam) 4x4-Toyota RunX S2000.

2012 Willie Dames (Nam)/Armand du Toit (RSA) 4x4-VW Polo S2000.

2013 Japie van Niekerk/Gerhard Snyman (RSA) 4x4-Ford Fiesta S2000.

2014 Japie van Niekerk/Gerhard Snyman 4x4-Ford Fiesta S2000.

2015 Richard Slamet/Wiets Coetzee (Nam) 4x4-Toyota RunX S2000.

2016 Japie van Niekerk/Robin Houghton (RSA) 4x4-Ford Fiesta S2000.

2017 Wilro Dippenaar/Riaan van der Westhuizen (Nam) 4x4-Toyota Auris S2000.

2018 Japie van Niekerk/Gerhard Snyman 4x4-Ford Fiesta S2000.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!