Tasa steun Kunene met mens-dier-konflik
Tasa steun Kunene met mens-dier-konflik

Tasa steun Kunene met mens-dier-konflik

Toerisme- en bewaringsorgani­sasies span saam om gemeenskappe te help.
Francoise Steynberg
Met meer as 200 vee wat onlangs deur leeus in die Kunenestreek afgemaai is, ondersteun die Toer- en Safarivereniging van Namibië (Tasa) die mens-dier-konflikreaksieprogram deur middel van sy leeureaksiespan met N$200 000 oor twee jaar.

Die skenking is in samewerking met Tourism Supporting Conservation Trust (Tosco) wat hom bewyer vir verantwoordelike toerisme, en sal deur die Geïntegreerde Landelike Ontwikkeling en Natuurbewaring (IRDNC) bestuur word.

Die visevoorsitter van Tasa, mnr. Bernd Schneider, het gesê twee jaar gelede is besluit die organisasie wil aan die toerismebedryf teruggee en die Herbelê in Toerisme-fonds is gestig sodat die toerismebedryf en die plaaslike gemeenskappe daaruit kan baat.

“Die kriteria en projekte is tydens 'n streng proses gekies en ná maande lange analise is Tosco as projek gekies wat die leeureaksiespan geoormerk het,” het Schneider gesê.

Die geld sal gebruik word om die bedryfskoste van die span se reaksievoertuig te dek. Die voertuig word vir patrollies gebruik om bewaringsgebiede in die Kunenstreek waar leeus en olifante voorkom, met voorsorgmaatreëls teen konflik te help .

Mnr. Felix Vallat, voorsitter van Tosco, het gesê sedert die projek 'n maand gelede van stapel gestuur is, het die reaksiespan agt gevalle van mens-leeu-konflik suksesvol bygestaan.

“Altesaam 150 ongeregistreerde nedersettings is op die kaart geplaas wat deel is van die missie en mandaat van die Noordwes Leeubestuursplan soos deur die ministerie van die omgewing en toerisme bekragtig. Wat wonderlik van hierdie projek is, is dat verskeie bewaringsorganisasies as een span saamstaan,” het Vallat gesê.

Die uitvoerende direkteur van die IRDNC, mnr. John Kasaona, meen daar is 'n groot bedreiging vir gemeenskappe in die Kunenestreek om hul lewensbestaan te verloor.

“Die skenking kom op die regte tyd, net toe ons moedeloos raak.

“Nou sal die gemeenskap deur die teenwoordigheid en steun van die reaksiespan voordeel trek deur die vermindering van die vlak van konflik wat hulle tans ervaar.”

Sommige boere se lewensbestaan is onlangs byna heeltemal uitgewis toe 'n trop leeus oornag groot getalle bokke en skape in hul krale gevang het. Die ministerie van die omgewing en toerisme het intussen vyf van die leeus gevang en hervestig, het sy woordvoerder, mnr. Romeo Muyunda, bevestig.

Kasaona het ook vir dr. Philip Stander van die Woestynleeu ­Navorsingsprojek bedank wat 'n sleutel­figuur in bewaring is en met navorsing help.

“Mense staan nou saam met 'n gemeenskaplike doel en nuwe vennootskappe,” het Stander gesê.

Schneider het gesê “ons het die grondslag vir toekomstige projekte gevestig en dié projek is die eerste stap daarna. Tasa sal voortgaan om ons mandaat in die Namibiese toerismebedryf te vervul”.

First National Bank Namibia ­ondersteun ook die program met 'n skenking van N$20 000 vir uniforms, stewels en ander toerusting.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!