Taxi’s: Dis oorlog!
Vinniger, goedkoper sewesitplekvoertuie raap klandisie voor minibus-operateurs se neuse weg.
Catherine Sasman – Die Namibiese Bus- en Taxivereniging (Nabta) en die Namibiese Openbare Passasiersvervoervereniging (NPPTA) het gister ‘n gesamentlike protesaksie gehou.
Tydens dié aksie is sewesitplektaxi’s in Windhoek omsingel en geblokkeer.
Die protesaksie het by die B1-diensstasie oorkant die Katutura-staatshospitaal, waar die sewesitplekvoertuie hul klante oplaai, ’n hoogtepunt bereik.
Die optog het vroeër die oggend by die Rehoboth-taxistaanplek begin en later na nog ander staanplekke beweeg.
Die unies beweer die sowat 100 sewesitplekvoertuie op Namibië se paaie doen, is onwettig.
Dit hou die meer as 500 minibusse wat wettig diens doen, van die pad af en sonder klante, sê hulle.
Die sewesitplekvoertuie het hul toetrede tot die openbare vervoermark sowat vyf jaar gelede met die toenemende invoer van goedkoop tweedehandse voertuie uit Japan gemaak.
Sommige van dié voertuie het na bewering pendelpermitte wat hulle toelaat om passasiers slegs ná en van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako te vervoer.
Volgens Nabta en NPPTA bepaal wetgewing dat sewesitplekvoertuie toegelaat word om passasiers binne ‘n radius van 70 kilometer te vervoer. Plaaslike taxi’s word toegelaat om passasiers slegs binne ‘n radius van 25 kilometer te vervoer.
Die sewesitplekvoertuie pak egter langafstandreise van Windhoek af na Walvisbaai, Grootfontein, Tsumeb, Rundu en ander noordelike dorpe aan.
Hulle is glo ook die oorsaak van minstens twee padongelukke per maand omdat hulle jaag.
“Elke voertuig wat val, is ‘n sewesitplekvoertuig,” sê die sekretaris-generaal van NPPTA, mnr. Nathan Africa.
Die unie sê verder terwyl minibussies verplig word om sleepwaentjies vir hul passasiers se bagasie aan te skaf, word passasiers in sewesitplekvoertuie dikwels gedwing om hul bagasie op hul skote vas te hou.
Die vinniger sewesitplekvoertuie draf glo ook tot 10 langafstandreise per week kaf, terwyl die minibussies net sowat twee per week voltooi.
Busbestuurders sê terwyl daar voorheen ten minste 49 minibussies was wat die Rhinopark-staanplek verlaat, was daar verlede maand net nege.
Die minibusbestuurders sê hul maandelikse salarisse het met sowat N$7 000 gekrimp, terwyl onwettige operateurs van sewesitplekvoertuie maklik tot N$18 000 in hul sakke steek.
“Dié wat permitte uitgereik het, moet hierdie gemors oplos,” sê mnr. Edison Handura, voorsitter van die B1-staanplek.
“As die regering onwettige bestuurders toelaat, dan moet hulle ons almal toelaat om onwettig op die paaie te bestuur.”
Vereistes vir openbare vervoeroperateurs is ‘n lisensieskyf, ‘n operateurslisensie, ‘n permit, asook ‘n padwaardigheidspermit. Die sewesitplekvoertuie het glo nie lisensies óf permitte nie.
Busbestuurders dring ook aan op omvattende inspeksies by padblokkades.
“As dinge so voortgaan, gaan ons alle sewesitplekvoertuie verbrand,” het ‘n ontstoke minibusbestuurder gesê.
Tydens gister se protesaksie het ‘n sewesitplekvoertuig ‘n paar klante opgelaai wat glo deur minibusbestuurders met geweld uit die voertuig verwyder is.
“Ons tel nie passasiers by Rhinopark op nie. Ons steel nie die pad nie,” het die eienaar van ‘n sewesitplekvoertuig, mnr. Mike Jacob gesê.
“Ons het nie ‘n probleem met die minibussies nie. Dit is die ouens met die bussies wat ‘n probleem met ons het.”
Jacob sê sommige sewesitplekvoertuie het wél langafstandpermitte. Dit word egter deur die unies bevraagteken.
Die wrywing by die B1-laaisone is ontlont nadat die unies, die eienaar van die B1-diensstasie, mnr. Len Haasbroek, en die polisie vergader het en besluit het alle sewesitplekvoertuie én bussies moet die perseel verlaat.
Mnr. Pendapala Nakathingo, sekretaris-generaal van Nabta, het gesê die unies gaan met die ministerie van werke en vervoer en NaTIS onderhandel om te verseker dat die orde herstel word.
“Ons gaan hierdie wetteloosheid nie langer duld nie,” het Nakathingo gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie