Taxi’s is noodsaaklike euwels
Thusie Gamibes – Die eeueoue Wet van Mede en Perse of liewer van die sogenaamde moderne wêreld wat sê “ladies first” werk nie daar waar ’n Katutura- of Khomasdal-taxi geklim word nie.
Jy benodig hare op jou tande, hope uithouvermoë en bykomende adrenalien in jou bloed en dis alles nodig om Windhoek lewend te haal of terug na jou woonplek in een stuk gedurende spitstye te kom.
Die ander ou kry jou geensins jammer wanneer dit by taxiry kom nie en jy word weggestamp in die wedloop om ’n sitplek in die taxi te kry.
Hoekom kan jy dan nie die vrou jammer kry en haar geleentheid gee om voor jou in die taxi te klim nie.
Veral ons van Okuryangava en Havana Fourway kry baie swaar en dis veral erg op maandeinde.
Enigiets kan gebeur, maar as die taxibestuurder ook in Okuryangava bly, sien hy nie kans om jou huis toe te vat nie.
Polisiemanne, onderwysers, vooraanstaande mense in die samelewing, werkers van menseregte-organisasies en vroue self storm en stamp sommer ander vroue weg wanneer daar taxi geklim word.
As jy al jou belewenisse met ’n taxirit vergelyk, blyk dit dat ’n donkiekar in vergelyking met ’n taxi goedkoper, veiliger en geriefliker is om jou in een stuk by die werk of van die werk tot by jou blyplek te kry.
Daar is nie tyd om nog vrae te vra as die taxi langs jou tot stilstand kom nie; jy moet maar inspring anders gaan die persoon wat langs jou staan (man of vrou) jou voorspring en in die taxi klim wat jý gestop het.
In die eerste plek, die oomblik wat jy jou voet in die voertuig sit, moet jy alreeds die taal verstaan wat die taxibestuurder praat. Hy is so trots dat hy beslis in sy huistaal vir jou gaan vra waarheen jy wil gaan.
“Wees tog net versigtig” is die woorde wat brand om by jou mond uit te glip, maar die twee tannies wat langs jou sit, loer-loer heeltyd fronsend met koue oë na jou – asof hulle wil sê: “Hou net jou mond, want Sewende Laan en Suidooster begin nou en ek weier om ’n episode oor jou praatjies te mis”.
Ja-nee, daar is mense wat ander prioriteite het as die veiligheid van hul lewens. Die ander baie vieslike eienskap van taxibestuurders is die oorverdowende musiek wat jy moet trotseer tot jy uit die taxi kan klim. Maar dit is daardie man se taxi en jy kan hom nie voorskryf watter musiek hy moet speel en hoe hard nie.
’n Nuwe gier het weer by die taxibestuurders voor Shoprite posgevat. Jy kan nie met jou pakkies uit die winkel stap nie of die taxibestuurders gryp jou inkopies links en regs sodat jou kos en voorrade waarvoor jy so duur betaal het, óf op die grond te lande kom of selfs breek.
Dit beteken jy is tydelik aan die genade van die bestuurder oorgelaat wat jou inkopies in sy hande het.
Ek kan nie eens praat van die klein karretjies wat die mense na verskeie dorpe buite die stad vervoer nie. Jy word gegryp en jou bagasie word in die ander ou se taxi geboender en jy in ’n heel ander een.
By die huis gekom, soen jy die geroeste staalhekkie en groet jou nors buurvrou met ’n sonskynglimlag, want met die Heer se genade het jy sowaar weer vandag die dood vrygespring! Dit is erg genoeg om minstens tien minute in ’n geregistreerde taxi deur te bring wat nog te sê van die sogenaamde pirate-taxi’s wat in die voorstede rondbeweeg. Dis nie altyd ’n goeie idee om in een te klim nie.
Die slotsom is: Windhoek se taxi’s is wat my betref een van die noodsaaklikste euwels in hierdie stad. Te voet, kan niemand orals uitkom nie, maar in een van daardie vaartuie mag jy dalk net gouer by die graf uitkom.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie