Te jonk hiervoor, te oud daarvoor
As jy vyf en ’n half is, voel dit asof jy die kind is wat die langste vyf en ’n half bly voor grootkind ses uiteindelik aanbreek.
Wanneer jy 16 is, begin jy die dae tel tot 17 sodat jy ’n afspraak vir jou leerlinglisensie kan maak. En dan kom 18. Nou mag jy in die volgende verkiesing stem en ’n bestuurslisensie bekom om alleen op openbare paaie te bestuur. In ’n stadium hou jy op vorentoe tel, want dit bring beperkings in plaas van vooruitsigte.
Parkeerterreine by inkoopsentrums het parkeerplekke naby die ingang wat vir senior burgers opsy gesit is. Sal ek dit waag om daar te parkeer? Nee, nog nie. Dieselfde met die spesiale kassier vir senior burgers by die bank. Nog ’n nee. Die afslagdae by sekere winkels benut? Miskien. Wat van die korting op toegang by uitstallings en ander geleenthede? Sterk moontlikheid. ’n Definitiewe ja is laer bankkoste en hoër rente op spaargeld.
Dit laat my wonder wanneer word jy as ’n senior burger of bejaard beskou. Selfs die alwetende Google het nie ’n klinkklare antwoord daarop nie. Soveel hoofde, soveel sinne.
Op die ou end lyk dit of daar nie algemene instemming is oor op watter ouderdom mens as bejaard geklassifiseer word nie. Dit word darem aanvaar dat die algemene gebruik om kalenderjare aan biologiese ouderdom gelyk te stel, nie noodwendig water hou nie.
My pa het gesê hy’t besef hy raak oud toe vrouens van 40 vir hom jonk begin lyk het. Of is dit wanneer jy besef dit sal stuitig wees om sekere klere in die openbaar te dra? Nie te lank gelede nie was mens op ’n sekere ouderdom te oud geag vir denims. Gelukkig nie meer nie, al verander die snit ongemerk met die tyd saam. Ouderdom is ’n relatiewe begrip en baie arbitrêr.
Werkgewers begin toenemend die ouderdom waarop jy moet aftree, verlaag. Maak dit jou bejaard of ’n senior burger omdat jy op ’n sekere ouderdom wat jou werkgewer bepaal ’n pensioenaris is? Behoede my as dit die maatstaf is.
Jy’s te oud om te werk, te jonk om handjies gevou by die huis te sit. Hoe op deeske aarde kan jy die een dag nog iets werd wees in jou werkplek en die volgende dag (bloot omdat jy op daardie dag verjaar en ’n sekere ouderdom bereik het) nie meer as ’n produktiewe lid van die werkerskorps gereken word nie?
Ek verkies die woord beleë bo bejaard, senior burger of pensioenaris, al is ek volgens die kleinseuns stokjare oud. Beleë omvat net soveel meer. Dit impliseer geleef en beleef. ’n Aweregse sin vir humor omdat jou verwysingsraamwerk soveel groter is.
Waardering vir mense en hul hebbelikhede – meestal. Vrede met sekere goed al raak jy steeds opstandig oor ander – gelukkig is die opstandigheid deur die jare getemper. Wat sou mens iemand noem wat beleë is?
Ek’s bly ek’s oud genoeg om ’n ouma te wees, maar jonk genoeg om uit eie vrye wil bietjie verder van die ingang by die winkelsentrum te parkeer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie