Te koop: 100 buffels in Waterberg
Te koop: 100 buffels in Waterberg

Te koop: 100 buffels in Waterberg

Die diere word weens die droogte verkoop om die druk op die weidingsgebied in die park te verminder.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Voornemende buffelkopers het nog tot Woensdag 14 Oktober kans om hul tenderdokument vir die koop van 100 buffels in die Waterbergplato-park by die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme in te dien.

Die ministerie bied 100 siektevrye buffels van hoë waarde te koop aan, waarvan 70 vroulike buffels en 30 bulle is.

Die buffels word volgens die ministerie weens die droogte verkoop om die druk op die weidingsgebied in die park te verminder.

In die advertensie van die ministerie wat verlede week in koerante gepubliseer is, word egter gemaan alle risiko’s moet deur die koper gedra word.

Indien dit ’n buitelandse koper is, moet alle uitvoerpermitte in orde wees en daar moet aan veeartsenyregulasies voldoen word.

Die buffels is reeds in bomas in die park.

Verlede jaar is 500 buffels opgeveil en twee jaar gelede het 200 buffels uit die park ’n inkomste van N$5 miljoen gegenereer, teen N$25 000 per kop. Dié buffels is deur die Peace Parks-stigting (PPF) in Zambië in die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsbied (Kaza) hervestig.

16 BUFFELS VERDRINK

Intussen het die ministerie ’n ondersoek van stapel gestuur nadat 16 buffelkarkasse Woensdag in die Kwandorivier naby Gondwana se Namushasha Lodge gevind is.

Volgens die ministeriële woordvoerder, mnr. Romeo Muyunda, word vermoed dat die buffels vir roofdiere gevlug en verlede Dinsdag in die rivier in die Bwabwata Nasionale Park versuip het.

Monsters is volgens Muyunda geneem om vir moontlike siektes te toets.

Byna ’n jaar gelede, in November 2019, het ’n soortgelyke voorval in die Choberivier in die Zambezistreek plaasgevind.

Tussen 400 en 500 buffels het in die Choberivier naby Serondela Lodge versuip.

Dit was toe ook vermoed die buffels is deur 'n trop leeus van Botswana af in die Choberivier ingejaag wat 'n stormloop veroorsaak het. Toe die buffels deur die rivier swem, kon hulle nie die rivier aan die Namibiese kant oorsteek nie, want die rivieroewer is te hoog om uit te klim, het die bestuurder van die lodge, me. Laura Erculei, destyds gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer