Te laat, te min?
Te laat, te min?

Te laat, te min?

Dani Booysen
Aan die een kant moet Namibiërs bly wees dat dissiplinêre optrede gevolg het weens oorbesteding van N$1,8 miljard om 'n nuwe oliebergingsaanleg in Walvisbaai op te rig.

Ou infrastruktuur was lankal onvoldoende en dit is dus 'n belangrike nasionale belegging.

Die regering skryf die oorbesteding toe aan wisselkoersrisiko's wat na bewering nie in ag geneem was nie.

Dit is een van die min gevalle waarin dit nou bekend geword het dat betrokkenes aangetree word.

Mnre. Leevi Hungamo en Chris Nghaamwa is glo van wangedrag en moontlike ander, onbekende oortredings aangekla. Die permanente sekretaris van finansies, me. Erica Shafudah, het 'n finale, skriftelike waar­skuwing ontvang.

Aan die ander kant wonder baie Namibiërs hoekom senior ministers wat by die projek betrokke was blykbaar nie voor stok gekry gaan word nie. Of om dit sterker te stel, skotvry daarvan gaan afkom.

Die indruk wat nou geskep word, is dat 'n tegniese subkomitee die septer geswaai het en dat ministers verteenwoordig op die oorhoofse komitee 'n rat voor die oë gedraai is. As dit die waarheid is, skep dit groot kommer oor goeie staatsbestuur.

Namibiërs weet ook nie presies hoeveel soortgelyke “blapse” al sedert 1990 plaasgevind het nie.

Enersyds is dit wetlik korrek dat sulke optrede 'n vertroulike kwessie tussen werkgewer en werknemer is. Andersyds gaan dit hier oor 'n massiewe bedrag belastinggeld en deursigtigheid, wat beteken dat die verhore se uiteinde wel openbaar gemaak sal moet word.

Dit is nie onmoontlik dat die saak in die hof sal draai nie.



So sê ander

15 Mei 2017



'Wolk hang oor Molefe se kop'



As dit nie so tragies was nie, was dit lagwekkend; en as dit in 'n ander land gebeur het, sou ons meewarig daaroor kon grinnik.

Maar helaas, dit is in Suid-Afrika waar iemand wat onder die wolk van bewerings van belange­botsing, staatskaping en boetie-kapitalisme by 'n staatsonderneming weg is, sowaar sy pos terugkry, nogal teen dieselfde ruim voorwaardes.

Dit is die land waarin finansministers nie weet of hulle 'n naweek, 'n maand of 'n jaar in hul pos gaan wees nie. Instellings wat moet sorg vir die wigte en teenwigte om ongebreidelde magsmisbruik in toom te hou, word eerder geïgnoreer, sodat gunstelinge in poste kan kom waar dit die regerende elite ten beste bevoordeel.

As die regering radikale ekonomiese transformasie wil laat slaag – hoe hy dit ook al definieer – is deursigtigheid, etiese leierskap en verantwoordbaarheid van die uiterse belang by so 'n belangrike ekonomiese skakel soos Eskom.

• NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer