Te min opleidingshospitale knou studente
Te min opleidingshospitale knou studente

Te min opleidingshospitale knou studente

Die getal studente by Namibië se mediese skool het van 52 tot 600 gestyg.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die Universiteit van Namibië (Unam) se mediese skool (SOM) kon vanjaar minder as 50% aansoekers aanvaar wat aan die vereistes vir medies of aptekerswese voldoen.

Uit die 2 229 aansoeke wat ontvang is, is 'n skrale 166 studente vir die huidige akademiese jaar aanvaar.

Die rede hiervoor is 'n gebrek aan geakkrediteerde opleidingsgeriewe vir die kliniese opleiding van ­studente wat hul internskappe moet voltooi.

Tans het Namibië net vyf geakkrediteerde hospitale met 'n ­spesifieke aantal gespesialiseerde dokters wat met die kliniese opleiding kan help. Dit sluit Oshakati, Onandjokwe, ­Katutura, Windhoek Sentraal en ­Ongwediva Medipark in.

Volgens Unam se visekanselier is dié “vermorsing” te groot om te aanvaar en iets wat Namibië nie kan bekostig nie.

Prof. Lazarus Hangula, het tydens SOM se negende witjas-seremonie gesê die skool het met 52 ­studente begin en spog vandag met 600 ­studente. Dit sluit nie 'n verdere 100 studente in wat aan die skool vir openbare gesondheid op Unam se Oshakati-­kampus verbonde is nie.

Hangula het voorts gesê hy wag vir ten minste nog vier, maar verkieslik ses, leerplanne in spesialis- mediese gebiede.

GELYKE TOEGANG

“Wanneer dit gebeur, sal Namibië op die pad wees om sy doel van gelyke toegang tot gehalte gesondheids­dienste te verwesenlik.”

Volgens Hangula is dit 'n nood­saaklike voorvereiste om die doelwit van universele gesondheidsdekking te behaal.

Die mediese skool het vanjaar ook studente ingeneem vir tandheelkundige chirurgie, arbeidsterapie en ­fisioterapie. Ses studente het ook met hul meestersgrade in narkose begin.

Die skool vir tandheelkunde word later vanjaar ingewy, terwyl SOM ook in die laaste pylvak vir die vestiging van 'n skool vir aanvullende gesondheidsberoepe is. Dié skool sal die tuiste van die departemente vir radio­grafie, fisiese medisyne en rehabilitasie wees. Laasgenoemde sal in die basiese departemente verdeel word.

“Dit is ook die eerste eindpunt van die nasionale mediese skool-projek.”

Hangula het sy dank uitgespreek teenoor die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste vir die gebruik van hul geriewe en ­hulpbronne wat sonder huiwering vir onderrig en opleiding beskikbaar is.

“Soos ons reusetreë neem om die bepalings van die samewerkingsooreenkoms te implementeer, is ons daarvan bewus dat meer bereik kan word as ons saam beplan en ons pogings en hulpbronne kombineer.”

In dié verband het hy na die Medipark-hospitaal as voorbeeld verwys.

Volgens Hangula is 'n “beduidende deurbraak” gemaak om baie meer private hospitale te betrek om meer dokters, aptekers, verpleegsters en ander gesondheidslui op te lei.

“Reusegeleenthede is deur die beleid en wet op private-openbare vennoot­skappe geskep.”

Hy het verwys na internasionale vennote soos die universiteite van Cardiff, Turku en Stellenbosch wat tot SOM se sukses bygedra het. 'n Mentorskapprogram en 'n oriënterings­kursus “om te leer hoe om te leer” gaan voortaan ook by die skool ­aangebied word om studente met ­aanpassing en hul studies te help.

Hangula tree vanjaar ná 'n dienstydperk van 25 jaar by Unam uit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!