'Te min vir toerisme begroot'
'Te min vir toerisme begroot'

'Te min vir toerisme begroot'

Die minister van die omgewing en toerisme het verlede week sy begroting in die Nasionale Vergadering gemotiveer.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die ministerie van die omgewing en toerisme se totale begroting is meer as N$402 miljoen, waarvan sowat N$337,8 miljoen vir die bedryfsbegroting geoormerk is en sowat N$64,2 miljoen vir ontwikkeling.

Die grootste toekenning in die bedryfsbegroting gaan die aan eerste program, wildlewe en beskermde gebiede-bestuur, waarvoor sowat N$178,6 miljoen geoormerk is.

"Ons fokus op onder meer die vestiging van volhoubaarheid op die lange duur, goeie regering en die deeglike bestuur van die Gemeenskapsgebaseerde Natuurlike Hulpbronprogram tot voordeel van ons mense," het die die minister, mnr. Pohamba Shifeta, verlede week tydens die motivering van sy begroting in die Nasionale Vergadering (NV) gesê.

"Mens-dier-konflik moet bestuur word op 'n manier wat die regte en ontwikkleingsbehoeftes van ons mense erken, terwyl die behoefte aan die bewaring van biodiversiteit moet lei tot die vermindering van voorvalle van mens-dier-konflik."

Die tweede program behels die beskerming en bestuur van sleutelspesies en natuurlike habitat waarvoor sowat N$26,4 miljoen begroot is.

"Die effektiwiteit in die beskerming en bestuur van sleutelspesies en natuurlike hulpbronne, volhoubare gebruik van wild en ander wetenskaplike dienste is gerig op die verbetering van die natuurlike hulpbronne-grondslag vir ekonomiese ontwikkleing," sê Shifeta.

Die ontwikkeling van toerismegroei en dobbelregulasies is die derde program waarvoor slegs N$21,9 miljoen begroot is. Rolspelers in die toerismebedryf het op navraag van Republikein gesê dié bedrag is hopeloos te min om effekteiwe toerismebemarking te doen.

Shifeta het gesê die geografiese verspreiding van toeriste en voordele van toerisme moet verbeter word deur die implementering van die Nasionale Volhoubare Toerismegroei- en Ontwikkelingstrategie.

Die beskerming van die omgewing en natuurlike hulpbronne is die vierde program waarvoor sowat N$22,7 miljoen begroot is.

"Die program is verantwoordelik vir omgewingsake soos omgewingsimpakstudies, afval- en besoedelingsbestuur, inspeksie van die omgewing, biodiversiteit en volhoubare grondbestuur," sê die minister.

"Hierdie fondse sal gebruik word om omgewingsbeplanning en -bestuur te voorsien en die implementering van ons Omgewingsbestuurwet op plaaslike en streeksvlak te monitor."

Die vyfde program behels infrastruktuur en ontwikkeling, onderhoud, monitering en evaluering waarvoor sowat N$74,4 miljoen begroot is. Dit fokus op effektiewe en doeltreffende beplanning en tegniese dienste.

"Die fondse is vir onderhoud, opgradering en ontwikkeling van nuwe infrastruktuur wat belangrik is vir ons beskermde gebiede, veral wat mens-dier-konflik betref. Dit sluit in heinings, waterpunte, asook rioolstelsels en paaie vir toerismeontwikkeling," verduidelik Shifeta.

Meer as N$77,9 miljoen is geoormerk vir die sesde program wat beleidskoördinering en die administrasie van finansies en menslike hulpbronne insluit.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer