Te oordeel aan kool, mors SA tonne kos
Engela Duvenage
Te oordeel aan kopkool, word hope geld en liters water vermors wanneer boere in Suid-Afrika produkte lewer wat nie geëet word nie. Dít is die gevolgtrekking van ’n studie deur voedselwetenskaplikes en naoes-deskundiges aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hulle het bereken dat R16 miljoen se kool jaarliks landwyd vermors word. Die water wat in die proses vermors word, is genoeg om jaarliks in die behoeftes van 195 000 mense te voorsien.
Dié bevindings is onlangs in die British Food Journal gepubliseer. Dit is die eerste navorsingspoging van dié aard om te bereken hoeveel kos in Suid-Afrika vermors word, asook wat die omgewingsimpak van ’n spesifieke voedselsoort is nadat dit geoes of geproduseer is.
Dit vorm deel van navorsingspogings deur die US se voedselsekerheidsinisiatief om naoes-verliese en voedselvermorsing te beheer.
Die publikasie vorm deel van Karen Munhuweyi se MSc-tesis. Haar studieleiers is prof. Umezuruike Linus Opara, wat die Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel (SARChI) in naoes-tegnologieë hou, en dr. Gunnar Sigge van die US se departement voedselwetenskap.
“Kommerwekkend is nie net hoeveel kool nié ons etenstafels bereik nie, maar ook hoeveel hulpbronne soos water en energie vermors word wanneer ongebruikte groente geproduseer word,” het Opara die belang van hul bevindings opgesom.
Die Stellenbosse navorsingspan het kopkool as onderwerp gekies omdat dit ’n groente is wat wêreldwyd verbruik word en ’n stapelvoedsel in baie Suid-Afrikaners se dieet is.
Vars kool kan drie tot vyf dae op winkelrakke gehou word. Afhangend van die gehalte daarvan word kopkole daarna kleiner geknip, in plastiek toegedraai of weggegooi.
Hoe is die studie gedoen?
Munhuweyi het kopkole by drie kleinhandelaars op Stellenbosch gekoop terwyl hul rakke volgepak was en verbruikers die uitgestalde produkte deurgekyk het.
Die kopkole is drie tot sewe dae nadat dit gekoop is, verskeie kere getoets om onder meer die veranderings in kleur, tekstuur, gewigsverlies en chemiese balans daarvan te oorweeg. Sommige is getoets voordat dit gestoor is, terwyl ander by kamertemperatuur (tussen 22°C en 25°C) gebêre is. ’n Paar kopkole is by ’n optimale bewaringstemperatuur van tussen 0°C en 0,5°C gebêre.
Data-opnemers is gebruik om die temperatuur en humiditeit binne die winkels te monitor.
Die groente is ook ondersoek om te bepaal watter al sleg geraak of insek- en meganiese skade opgedoen het. Die navorsers wou hierdeur vasstel hoeveel kopkole reeds op winkelvlak oneetbaar was of nie verkoop kon word nie.
Die bevindings
Gemiddeld 21% van die koolkoppe is by aankoop verwerp. Die kool is tussen 53c en 82c per kilogram aangekoop. Dit kan omgesit word in ’n verlies van 68c vir elke kilogram kool wat by die drie kleinhandelaars aangekoop is.
Meganiese skade het tot 50% van die verliese uitgemaak. Dit word dikwels veroorsaak wanneer die produk in die oes- en die vervoerproses rof behandel word. Tot 35% van die verliese is veroorsaak omdat die groente sleg geraak het.
Die studie het gewys dat die algehele verliese tot 30% beperk kan word as die kool teen die regte temperatuur verkoel eerder as sewe dae teen mertemperatuur geberg word.
Waarde van die verliese
Die navorsers het hul resultate uitgebrei om te bereken hoeveel van Suid-Afrika se jaarlikse kooloes van sowat 103 000 ton nie op ’n bord beland nie.
Hulle het bereken dat minstens 21 950 ton kool ter waarde van R16 miljoen gemiddeld jaarliks op nasionale kleinhandelsvlak verlore gaan. Die totale volume van hierdie fisieke verliese kan ’n maand lank in die daaglikse voedselbehoeftes van minstens 84 000 mense voorsien. Dit is genoeg om ’n daaglikse inname van vitamien C aan 73 000 mense te voorsien.
Uitwerking op die omgewing
Die navorsers is nie net bekommerd oor hoe die produkverlies die beskikbaarheid van voedsel en voeding sal raak nie, maar ook oor hoe dit die omgewing gaan raak wat betref die vrystelling van kweekhuisgasse en die verbruik van water en energie.
Hulle het bereken dat ongeveer 27 miljoen megajoules (of sowat 7,5 miljoen kilowatt) fossielenergie en vier miljoen kubieke meter varswaterbronne in die produksie van hierdie vermorste produkte verspil word.
Die volume kool wat in die proses gestort word, lei gemiddeld tot die vrystelling van sowat 2,9 miljoen ton van die kweekhuisgas koolstofdioksied.
“Minstens 75 miljoen bome moet geplant word om hierdie vrystellings te verreken. Die vars water wat verlore gaan, sou ’n jaar lank in die daaglikse behoeftes van meer as 195 000 mense kon voorsien,” het Opara bereken.
Die navorsers het ook bevind dat erge naoes-verliese nie net tot armoede weens verlore voedsel en inkomste bydra nie. Dit dra ook by tot omgewingsprobleme, die onvolhoubare gebruik van ons hulpbronne en die onnodige vrystelling van kweekhuisgasse.
-Die Burger/Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie