Teek verloor eissaak teen regering
Teek verloor eissaak teen regering

Teek verloor eissaak teen regering

Oudregter Pio Teek se eis van N$6 miljoen se skadevergoeding teen die regering is van die hand gewys.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die siviele eis om skadevergoeding deur mnr. Pio Teek, eertydse waarnemende hooggeregshofregter, teen die minister van justisie en die ombudsman vir sy vervolging meer as 'n dekade gelede op klagte van onder meer ont­voering en verkragting, het in die hoërhof misluk.

Hy het N$6 miljoen geëis vir die benadeling van sy reg op 'n ­regverdige verhoor, laster en die skending van sy grondwetlike regte.

Regter Herman Oosthuizen het sy eis Dinsdag van die hand gewys en gelas dat die partye elk hul eie koste in die geding betaal.

Dit is die tweede hof­terugslag vir Teek binne die bestek van 13 maande.

In Februarie verlede jaar het regter Thomas Masuku die staat se aansoek om verlof tot appèl teen sy vryspreking in 2010 op hierdie klagte toegestaan.

Die staat het appèl aangeteken teen Teek se vryspreking op twee klagte van ontvoering, een klag van verkragting, 'n klag van die pleeg van 'n onsedelike of immorele daad met 'n meisie onder die ouderdom van 16 jaar en 'n klag van die ver­skaffing van alkohol aan 'n persoon onder die ouderdom van 18 jaar.

Dié klagte het gespruit uit aantygings dat hy twee meisies van onder­skeidelik nege en tien jaar oud op die aand van 28 ­Januarie 2005 in Katutura opgelaai het en na sy huis by Brakwater geneem het.

In sy pleitverduideliking het hy aan die hof gesê hy het die meisies opgelaai omdat hy hulle in die straat gevind het en omdat hulle vuil en honger gelyk het. Hy het hulle toe na sy huis geneem om vir hulle kos te gee.

Hy is in 2006 onskuldig bevind en ontslaan.

Drie Suid-­Afrikaanse hooggeregshofregters het egter in April 2009 op appèl in Windhoek se hoog­geregshof bevind dat Teek nie in Julie 2006 op al die klagte teen hom vrygespreek moes gewees het nie en die saak is na die hoërhof terugverwys.

Op 16 Desember 2010 het waarnemende regter Ronnie Bosielo van Suid-Afrika, wat Teek verhoor het, hom egter 'n tweede keer vrygespreek.

Dit is die staat se appèl teen dié tweede vry­spreking wat verlede jaar geslaag het.

Sy herverhoor in die hoërhof is tans hangende.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!