Teel só vir veldaangepaste beeste

’n Veekundige sê die idee dat beeste met varke en hoenders in terme van vleisproduksie moet meeding, is so vergesog as om te wil hê hoenderboere moet hoenders teel wat met beeste as grasverbruikers kan kompeteer.
Elvira Hattingh
“Waarom is vandag se wetenskaplik geteelde beeste minder produktief en winsgewend op die veld?

“Al wat ons met vandag se prestasietoetsing kon regkry, is om diere te teel wat beter voeding nodig het en nie op swakker voeding nog goed kan presteer nie,” het die Zambië-boer en bekende weidingkenner, mnr. Johann Zietsman, gesê.

Zietsman is van mening die grootste probleem met moderne beesteling is wetenskaplikes met ‘n maatband, skaal en rekenaar.

“Ons is nie baie slim om die verkeerde maatstawwe akkuraat te meet nie. Die natuur is eenvoudig om te verstaan indien ons as ‘n geheel daarna kyk, maar baie ingewikkeld indien ons ‘n som van detail probeer maak,” het hy gesê.

Hy het gesê boere moet daarna streef om met veldproduktiewe bees te boer. Eienskappe van dié tipe beeste sluit onder meer in relatief vinnige groei tot hul raamgrootte, praktiese vrugbaarheid, ‘n optimale hoeveelheid melk en bestuursgemak.

Zietsman sê die toepassing van drukbeweiding, of nieselektiewe beweiding, lei dikwels tot ‘n afname in beeste se liggaamskondisie en dat dit nodig is om dit deur bestuur- en teelpraktyke teen te werk.

Dit beteken jy moet met beeste boer met ‘n hoë inherente liggaamskondisie, ‘n korter herstelperiode op suurveld toelaat, jou koeie op groen weiding laat kalf, van rumenstimulante gebruik maak en kalwers op vier maande speen.

VRUGBAARHEID

Zietsman sê die belangrikste eienskap vir winsgewendheid is vrugbaarheid en dat hy met akademici verskil oor die oorerflikheid daarvan.

“Hoe kan ‘n oorlewingseienskap swak oorerflik wees? Ons gebruik die verkeerde maatstawwe om vrugbaarheid te meet. Die komponente van vrugbaarheid, naamlik jou vee se liggaamskondisie en hormoonbalans, is hoogs oorerflik.”

Hy sê veekundiges maak die aanname dat dit swak oorerflik is op grond van kalfpersentasie, maar dat kalfpersentasie deur beter voeding verhoog kan word en dat dit dan niks met oorerflikheid te doen het nie.

“Die sogenaamde maer en ‘doeltreffende’ genetika wat akademies vrugbaar is, moet gewoonlik gevoer word om gereeld te kalf. Dit verskil van praktiese vrugbaarheid, wat inherente liggaamskondisie en hormoonbalans vereis.”

Hy het gewys hoe ‘n proef wat in noordelike Zimbabwe gedoen is, bewys het ‘n koei se kalfdatum is die grootste bepaler van haar tussenkalfperiode (TKP). Koeie wat in die reënseisoen op groen gras kalf, se TKP was gemiddeld 325, terwyl koeie wat in die droë seisoen gekalf het, se TKP tot 425 dae was.

“Vrugbaarheid kan dus net gemeet word wanneer die datum van kalwing in berekening gebring word.

“Dit kan beteken ‘n koei wat ‘n TKP van 325 dae het en in die reënseisoen kalf, net so vrugbaar is soos een met ‘n TKP van 407 dae wat in die droë wintermaande kalf,” het Zietsman gesê.

“Die beginsel is dat jy nie onverwerkte TKP kan gebruik om koeie se vrugbaarheid te meet nie.”

Zietsman sê ook dat tweejaarkalwing noodsaaklik is en dat boere ‘n 42 dae teelseisoen moet handhaaf.

DOELTREFFENDE GRASVERBRUIK

“As ek kyk na foto’s van my oorlede pa se beeste in die 1950’s vra ek myself af: Is die wetenskaplik geteelde beeste van vandag produktiewer op weiveld as dié van 60 jaar gelede? Absoluut nie!

“My pa het bulle geselekteer wat die vetste op die veld is. Hierdie beeste lyk so omdat hulle die taaiste is.

“Sedertdien het die skaal egter gekom en ons het begin om beeste op verskillende ouderdomme te weeg en het van byvoeding gebruik begin maak. Gevolglik het ons beeste geteel wat al hoe vinniger groei en uiteindelik groter word, terwyl hulle van byvoeding afhanklik geraak het.”

Hy sê onomwonde die lewering van maksimum wins per hektaar vereis die gebruik van Afrika-genetika.

Zietsman het verwys na veldtoetse wat by Namibië se Omatjenne-navorsingstasie, asook op Matopos in Zimbabwe gedoen is waarin bevind is dat Nguni- en Mashona-beeste die beste kalfpersentasie, asook beste produksie per eenheid op natuurlike weiding kon handhaaf. Dié inheemse beesrasse was saam met Bonsmaras, Simmentalers en Sussex-beeste in die proef.

“Die Nguni’s se speengewig was natuurlik die laagste, terwyl dié van die Simmentaler die hoogste was. Ons ‘onverbeterde’ rasse, wat nie deur die mens geselekteer is nie, is nog by verre die doeltreffendste veldaangepaste beeste.”

Zietsman sê al word hy minder betaal vir sy “bont beeste” as wat hulle vir meer konvensionele “rooi beeste” betaal, sal hy as produsent steeds sy doelwit van maksimum wins per hektaar behaal.

“Hoe meer ons op ‘n konvensionele manier geteel het, hoe meer het ons beeste geteel wat beter voeding benodig. Kan ons nie sien dat vandag se wetenskaplik geteelde beeste minder produktief en winsgewend op die veld is nie?” het Zietsman gevra.

Hy sê hoewel alle boere sal erken die kleinste koeie in hul kuddes is die vrugbaarste, word daar steeds vir al groter beeste geteel.

“Kleiner koeie het die ‘onregverdige voordeel’ dat hul inname, relatief tot hul grootte, baie meer kan wees as dié van groter koeie. Groter koeie is ‘geneties gestremd’ in die sin dat hulle nie soveel kos kan inneem nie,” het hy gesê.

“Alles in beesboerdery, beesteelt en beesbestuur draai egter om liggaamskondisie, want die kanse is beter dat koeie wat in ‘n goeie kondisie is, elke jaar sal kalf.

“Liggaamskondisie is ’n aanduiding van beeste se aanpasbaarheid, die doeltreffendheid van grasomsetting, en is die belangrikste bepaler van praktiese vrugbaarheid.”

Zietsman sê die slotsom is dat liggaamskondisie noodsaaklik is. Gevolglik word beesboere voor ‘n keuse gestel: Hulle kan téél vir liggaamskondisie of vóér vir liggaamskondisie.

Zietsman sê sekere rasse het inherente liggaamskondisie. Dit word bepaal deur beeste se raamgrootte, klimatologiese aanpassing, hul parasiet- en siekteweerstand, asook hul vreetlus.

VOEROMSETVERHOUDING

Zietsman sê die meet van beeste se voeromsetverhouding is wiskundig en biologies verkeerd.

Hy sê eienskappe wat geneties negatief verbind is met inherente liggaamskondisie, sluit in daaglikse groei, gewig, melk en voeromsetverhouding. Die rede hiervoor is dat vetvleis baie meer energie as maervleis bevat.

Hy is van mening dat Fase-C voeromsettoetse tipies maer diere bevoordeel.

“Die probleem is: Die energiewaarde van die kos wat die diere inneem, is vir almal dieselfde, maar die vleis wat hulle produseer, verskil. Sekeres produseer meer vet- as maervleis. Dié diere het egter meer energie nodig.

“Die uiteinde is dat ons diere teel wat beter voeding nodig het, terwyl ons eintlik diere wil teel wat vet kan aansit, wat as reserwe gebruik moet word om produktief op die veld te wees.

“Gevolglik selekteer ons dan eintlik vir maer diere, want hulle gaan die beste in hierdie tipe toetse vaar. Dan moet ons verstaan dat as ons hierdie bulle koop, ons hul nageslag sal moet voer om elke jaar te kalf.

“’n Goeie voerkraalbees sal nooit ‘n goeie veldbees wees nie,” het Zietsman gesê.

Voglens hom moet daar ’n onderskeid getref word tussen die teel van ‘n goeie grasverbruiker of ‘n goeie graanverbruiker.

“Daar is diegene wat meen ons moet met graanverbruikers soos hoenders en varke meeding. Dit is so goed soos om vir ‘n hoenderboer te sê hy moet hoenders teel wat met beeste op gras kan meeding.

“Is alle stamboeke, rasgenootskappe, universiteite en die Landbounavorsingsraad (LNR) verkeerd? Ek vra weer, is die ‘verbeterde’ rasse beter?” het Zietsman gevra.

IS SWAARDER BETER?

“Wat is beter, ‘n 320 kg speengewig of ‘n 200 kg speengewig as die eerste een tydens speen 50% van sy volwasse gewig behaal het en laasgenoemde reeds 60%?

“Konvensioneel sou die eerste geval die beste wees. As ons egter maksimum wins per hektaar wil hê, moet verse op die ouderdom van twee jaar kalf. Daarvoor moet verse op eenjarige ouderdom minstens 60% van hul volwasse gewig bereik het.

“Die tweede kalf het dié mylpaal reeds op speenouderdom bereik.”

Zietsman sê die vrugbaarste koeie is dié wat op die jongste ouderdom kalf en in dieselfde toestande die vinnigste weer dragtig raak.

Zietsman het gewys hoe beeste se grootte ‘n invloed op hul gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) en doeltreffendheid het.

Hiervolgens kan kleiner beeste minder energie-eenhede inneem en dieselfde gewigstoename as groter beeste hê – soveel so dat ‘n dier van 200 kg sowat 10 keer meer doeltreffend as een van 500 kg kan wees.

“Hoe groter die dier in terme van raamgrootte, hoe swakker is sy energiedoeltreffendheid.

“Diere moet in verhouding tot hul grootte groei om ewe doeltreffend te wees. Dit wil sê ‘n groter dier moet baie vinniger as ‘n kleiner een groei om ewe doeltreffend te wees,” het hy gesê.

“In die praktyk beteken dit ‘n koei wat 600 kg weeg, moet dubbel soveel as ‘n koei van 300 kg eet om ewe doeltreffend te wees. Vanweë koeie se metaboliese grootte, is dit egter nie fisiek moontlik nie.

“Dit is hoekom groter koeie se kondisietelling dikwels nie so goed soos dié van kleineres is nie – hulle het beter voeding nodig. Dít het op sy beurt ‘n invloed op of hulle vrugbaar is en op hul kalfpersentasie,” het Zietsman gesê.

“Ons kan dus nie GDT as ‘n maatstaf vir doeltreffendheid gebruik nie. Ons selekteer diere wat vinniger groei omdat hulle groter is.”

DOELTREFFENDHEID

Hy het ook ‘n vergelyking getref tussen drie koeie wat 400, 500 en 600 kg weeg, en wie se grasinname onderskeidelik daagliks 9%, 10,4% en 12% van hul gewig is.

“Om ewe doeltreffend te wees, moet daardie koeie speenkalwers van onderskeidelik 187 kg, 220 kg en 250 kg lewer. Die kalwers moet op 12 maande reeds 60% van hul volwasse gewig bereik, sodat die versies by ‘n bul geplaas kan word. Dit beteken op 12 maande moet die kalwers 240 kg, 300 kg en 360 kg weeg.

Die eerste kalf hoef dus net 53 kg vanaf speen tot op ‘n jaar op te tel, terwyl die ander twee onderskeidelik 80 kg en 110 kg moet optel.

Die doeltreffendste gras-omsetter is die dier wat relatief tot sy raamwerk die vinnigste groei. Dit is maklik om so ’n bul in ’n groep uit te ken – dit sal die bonkigste een wees (die 8-in-5-pakkie versus die 9-in-10-pakkie).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!