Teengif-trust gestig ná seuntjie sterf
Met geen teengif teen sebraslange beskikbaar nie, gaan die De Wet-familie 'n trust stig om te help met navorsing.
Francoise Steynberg
Vrolike kinderlaggies in 'n cul-de-sac in die Elisenheim-landgoed noord van Windhoek is stil nadat klein Deon Heunis (Dehan) de Wet (2) sy dapper stryd teen sebraslanggif verloor het.
Dehan is Woensdagaand laat in sy bed deur 'n sebraslang op sy regteroog gebyt en het volgens sy pa, mnr. Louw de Wet, teen alle verwagtinge vir 108 ure teen die gif geveg wat twee volwasse mans kan dood.
Maandagoggend, ná vier en 'n half dae in Mediclinic in Windhoek, kon sy lyfie nie meer die gif hanteer nie, veral nadat sy hart twee keer gaan staan het en sy niere aangetas is.
Gisteroggend het huishulp me. Nadia Pieters met trane in haar oë, die stil huis binnegegaan. “Ek was so lief vir Dehan, hy was so 'n lieflike kind.”
Sy driejarige broer, SJ, is ook nou stil waar die twee woelwaters altyd saam in die straat met hul fietsies gery en hokkie gespeel het. Dit was asof Dehan met 'n hokkiestok in sy hande gebore is, net soos sy kranige hokkiespelerma, me. Denené de Wet, wat 'n laerskoolonderwyseres by die Windhoek Afrikaanse Privaatskool is.
Toe slangvanger mnr. Eugene Peters Woensdagaand die sebraslang onder die bed verwyder om in die natuur vry te laat, is alle vrolikheid ook uit die straat uit, met net die voetstappe van simpatiseerders wat kos, blomme en vertroosting aandra.
'WêRELD VERENIG IN GEBED'
Sedert die tragiese voorval het boodskappe en gebede van oral in die wêreld ingestroom.
“Dankie vir al jul pragtige gebede. Ek kan nie vir julle beskryf hoe klein ons voel in God se palm en te besef hoe verskriklik baie mense ons seun aangeraak het nie. Ons lewens hier op aarde is om vir God te verheerlik. Wanneer jy die wêreld sien saamstaan, ongeag ons verskille, glo mens dat almal 'n familie kan wees,” skryf Louw op Republikein se Facebook-blad.
“Ek het gedink Dehan trek 'n nasie saam, maar hy het inteendeel die wêreld as 'n nasie saamgetrek! Ons is rou en seer, maar ons offer ons kind aan God vir hierdie wonderwerk wat hy verrig het deur ons seun as 'n getuienis van God te gebruik om 'n verskil aan die menslikheid van mense te maak. 'n Huis word gebou met individuele bakstene wat saamstaan. . .”
Die De Wets het bevestig dat hulle 'n trust vir die navorsing van teengif teen slangbyte gaan stig, die Deon Heunis de Wet Antivenom Trust Fund.
“Selfs in die dood is daar lewe. Ons sal die wêreld help in die Naam van God om mense oraloor in die wêreld teen slangbyte te help. Ek offer my kind aan God, soos Abraham, met die groter prentjie in my hart,” skryf Louw op sy Facebook-blad.
TEENGIF
Op die Facebook-blad Snakes of Namibia verduidelik slangvanger mnr. Francois Theart waarom daar nog nie teengif teen sebraslange in Namibië is nie.
Hy sê die teengifprojek is reeds in die laat 90's in samewerking van die ministerie van die omgewing en toerisme en dr. Christo Buys gestig, maar dit het deur die mat geval omdat daar geen geld of belangstelling van die publiek was nie.
“Vir die afgelope vier dekades het dr. Buys probeer om bewustheid oor die kwessie te skep, maar soos gewoonlik was daar geen belangstelling van private of regeringsektore nie,” sê Theart.
“Om 'n teengifproduksielyn te begin, is baie duur – meer as N$100 miljoen – en die kliniese toetse sal ook jare neem.”
Theart sê hy en Buys het in 2016 die Namibia Snakebite Interest Group (NSIG) gestig om mediese praktisyns te leer hoe om slangbyte te hanteer en 'n oplossing te vind vir sebraslang-teengif.
“Daar was verskeie bewusmakingspraatjies en -kursusse vir mediese praktisyns oor slangbyte, maar die bywoning was swak en niemand het belangstelling getoon nie.”
Hy sê hulle het met teengifproduseerders van ander lande gepraat, 'n internasionale slangbytkonferensie in Leind in die Nederlande bygewoon en 'n fantastiese netwerk opgebou.
“Maar om teengif te produseer, verg tyd, geld en kundigheid. Ons het geen fondse nie en alles wat ons gedoen het soos navorsingsprojekte, die druk van boekies oor slangbytbestuur, het ons gedoen sonder enige steun van die publiek,” sê Theart.
VERSLAG
Hy het in samewerking met die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) 'n verslag saamgestel om mens-slang-konflik te verminder.
Volgens die verslag is vanaf Augustus 2015 tot Julie 2018 altesaam 509 slange van 16 spesies uit stedelike en gebiede rondom Windhoek verwyder.
Dit sluit 163 pofadders (32%) en 135 sebraslange (27%) in.
Theart sê die meeste slange is in die oostelike woonbuurte van die hoofstad verwyder: 62 in Eros (12%), 57 in Klein Windhoek (11%), 40 in Ludwigsdorf (9%), 40 in Avis (9%), 36 in Brakwater (7%) en 31 in Elisenheim (7%). In die res van die woonbuurte is tussen 1 en 22 slange elk verwyder.
Die meeste slange is volgens die verslag in die volgende maande in die drie jaar verwyder: 92 in Januarie (18%), 78 in Maart (15%) en 77 in Februarie (15%). “Die algemene neiging wys daar word minder slange vanaf April verwyder en dan begin die piekseisoen weer in Oktober. Die patroon stem ooreen met die reënval; soos die reënval verhoog, so ook die beweging van slange,” maan Theart.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie