Teenstropingseenhede ‘kan nie voorbly’
Kenners is bekommerd dat stropery op plase die afgelope tyd erg toegeneem het, met onder meer draadstrikke wat oral gestel word.
Elvira Hattingh – “Daar gaan nie ‘n aand verby waar daar nie iewers gestroop word nie. Ek kan nie voorbly nie, die ding ruk handuit. Dis ‘n bekommernis.”
Só sê mnr. Rickus Spangenberg van Windhoek K9 Academy, wat honde oplei om die spoor van vee- en wilddiewe te sny en hulle vas te trek.
Hy sê dié tipe misdaad het die afgelope maande drasties toegeneem en die stel van draadstrikke, om te jag met honde en van die pad af met ‘n knaldemper op gewere, is tans aan die orde van die dag.
“Vee- en wilddiewe het al baie slim geraak. Hulle het verskillende registrasiemerke vir die motors wat hulle vir stropery gebruik en hulle weet dikwels waar kameras is en vermy daardie paaie. Hulle sit ure en bedink hul planne,” sê Spangenberg.
Hy voorsien nie dat daar gou ‘n einde aan diefstal op plase gaan kom nie, veral nie met Covid-19-inperkings wat al hoe meer mense werkloos en honger laat nie. Boonop is sindikate ook by die stelery op plase betrokke.
“Nog ‘n probleem is die deursnee-boer is ouer en het nie altyd nog die krag om saans sy plaas te moet beveilig nie. As hy heeldag bees gewerk het, kan hy nie dit ook nog doen nie,” sê hy.
Spangenberg sê hy het sy honde-eenheid met slegs drie mense begin, maar het nou bykans 130 mense in diens. Hy sê teenstropingseenhede is ‘n goeie teenvoeter, maar dit kos geld, terwyl borgskappe skaars is.
“Dit is dalk tyd dat boere bedags hul beeste met wagte en perde oppas en hulle vee snags in krale laat slaap. Alles kos egter geld.
“Boeregemeenskappe kan bymekaarkom en dan as ‘n groep teenstropingseenhede aanstel en betaal om gebiede op te pas,” stel hy voor. Hy sê hulle hoop om in die toekoms valskermsweeftuie (paragliders) te kan aanskaf, asook toerusting vir nagvisie. Die items is egter baie duur.
Boonop is die teenstropingswerk baie gevaarlik en kan ‘n wag wat saam met ‘n hond hardloop wat spoorsny, nie swaar wapens saam met hulle dra nie. “Dit is egter my passie en ek sal dit doen so lank as wat ek kan,” sê hy.
SUKSESSE
Nog een van die land se grootste teenstropingseenhede, Nyime, se mnr. Stephen Weyand sê hulle het ook die afgelope tyd ‘n toename in misdaad op plase ervaar, veral as dit kom by die stel van strikke en stropery van wild en vee.
“Ons het egter baie suksesse in gebiede soos Hochveld en plek-plek in Omitara gehad, waar die aanhitsers van dié tipe misdade gevang is,” het hy gesê. Hy het bygevoeg hulle ontvang oraloor baie goeie samewerking van die polisie as dit by die bestryding van plaasmisdade kom.
Hy sê veral op plekke waar teenstropingseenhede bedrywig is, is die misdaad onder beheer. Op plekke soos byvoorbeeld Kamanjab, moet deurbrake nog gemaak word.
Weyand sê dit is belangrik dat boere deurlopend bewus moet wees van wat op hul plase aangaan, hul lyndrade patrolleer en skoonhou en gereeld vir vreemde voetspore moet kyk.
Nyime beskik ook oor ‘n K9-honde-eenheid en het sedert sy ontstaan in 2013, van krag tot krag gegaan en werk nou oraloor die land. Dit bied tans werk aan 150 mense en help selfs met die beskerming van verskeie van die regering se renoster- en olifantreservate, buiten dat dit stropery op private kommersiële grond ook bestry.
DESPERAAT
Die uitvoerende hoof van Intelligence Support Against Poaching (Isap), mnr. Fritz Kaufmann, sê die hele land is tans onder druk as dit by misdade op plase kom, met veral die Otjozondjupastreek waar “baie dinge aan die gang is”.
“Die mense is honger, daar is nie werk, geld of kos nie,” sê hy.
Hy sê hy praat nie stropery goed nie, maar merk op mense is desperaat. “Jy kry ook die wat dit kommersieël dryf en die vleis word verkoop sodat iemand sy sakke met geld kan volstop.”
Hy sê die aandklokreël bemoeilik sake vir boere wat soms moet rondry om die veiligheid van hul plase te verseker.
Hy sê boere verkeer tans onder finansiële druk, veral ná die afgelope droogtes waartydens hulle baie vee en wild verloor het.
Kaufmann stem saam dat oplettendheid en waaksaamheid boere se beste verweer teen misdaad is. “Let op na vreemde motors wat rondry, neem hulle registrasiemerke. Laat weet jou bure as jy vreemde voertuie opmerk,” sê hy.
Hy sê radioverbindings binne boeregemeenskappe kom al hoe meer in gebruik en is noodsaaklik vir plaasveiligheid. “Ons sien in baie van die misdade op plase dat dit ‘inside jobs’ was’” het hy gesê. Hy sê boere moet ook in voeling met hul eie plaaswerkers bly.
STATISTIEK
Die Nossob Misdaadvoorkomingsforum (NCPF), wat statistiek byhou van die steel van wild en vee, asook infrastruktuur in die Omitara-, Witvlei- en Steinhausen-omgewing, se voorsitter, mnr. Jürgen Matthaei, is ook van mening dit het veral die afgelope tyd weer toegeneem.
In slegs die eerste ses maande van 2021 het landbouers in die gebied verliese van reeds N$900 500 aan diefstal gely – meer as dubbel die verliese wat in die eerste halfjaar van 2020 ervaar is.
Tóé is gesamentlike verliese van nét onder N$400 000 gely.
Sedert Januarie vanjaar is kleinvee ter waarde van N$121 500 in die omgewing gesteel, asook grootvee met ’n beraamde waarde van N$529 250, wild ter waarde van N$102 750 en ander items ter waarde van sowat N$147 000.
Januarie en Maart was die maande waarin diefstal hoogty gevier het, met N$109 500 se kleinvee wat in Januarie alleen gesteel is en N$132 000 se grootvee in Maart. In laasgenoemde maand is ander items, soos infrastruktuur ter waarde van N$132 000, ook in die gebied gesteel.
Grootvee en wild blyk van die gewildste items te wees wat in dié omgewing gesteel word, wat die Omitara-, Witvlei- en Steinhausen-omgewing insluit.
In 11 maande in 2020 alleen het boere uit die omgewing verliese van meer as N$1,65 miljoen weens diefstal by die NCPF aangemeld.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie