Teenstropingseenheid oor suksessyfer van 80%
Teenstropingseenheid oor suksessyfer van 80%

Teenstropingseenheid oor suksessyfer van 80%

Die land se grootste teenstropings­eenheid wys hoe privaatpolisiëring 'n enorme verskil kan maak.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Op 24 Oktober vang hulle een van twee beesslagters naby Otjiwarongo. 'n Gemsbokstroper word op die nag van 14 Oktober op die pad tussen Okahandja en Karibib vasgetrek en in dieselfde maand ontdek hulle gesteelde drank op 'n waentjie.

Die private teenstropingseenheid Nyime se naam duik oral op waar wild- of veediewe vasgetrek word. Hulle vang inderdaad 80% van alle stropers op wie se spoor hulle geplaas word. Sedert hul ontstaan vier jaar gelede het hulle altesaam reeds tussen 350 en 400 stropers agter tralies gesit en die land se grootste eenheid in sy soort geraak.

In een van hul interessantste gevalle het hulle stropers op heterdaad betrap. Hulle het weggehardloop, maar een hond het agtergebly. Hulle het die hond op die kar gelaai en toe het hy na die naaste nedersetting na sy baas en die skuldiges gehardloop.

Een van die stigters, mnr. Stephen Weyand, sê Nyime is in 2013 op die been gebring toe hy en mnr. Dirk Visser oor die stropingsprobleem in Namibië gesels het en besluit het daar kan meer gedoen word om dit te bekamp.

Die eenheid, met sy hoofkantoor op Grootfontein, het sedertdien van krag tot krag gegaan en tans bied dit werk aan meer as 'n honderd mense. Nyime werk landswyd en fokus op die beskerming van diere van veral kommersiële produsente. Die teenstropingseenheid is egter ook betrokke by die beskerming van eksotiese wild en renosters by sekere wildreservate.

Weyand wil nie uitbrei oor die taktieke waarvan hulle gebruik maak om stropers te vang nie, maar sê hulle patrolleer verkieslik per voet en soms met motors of vierwielmotorfietse en stel padblokkades met die hulp van die Namibiese polisie, asook die ministerie van die omgewing en toerisme op.

Draadstrikke word gesoek en verwoes, die gedrag van diere word bestudeer om ­moontlike steurings te identifiseer en hulle het kontakte onder plaaslike gemeenskappe om ­inligting te bekom.

“Die meeste van ons kliënte is landbou­produsente en ons werk soms saam met boere­verenigings.”

Weyand sê hulle evalueer dikwels 'n plaas wat onder stropery deurloop en hy kan besluit of hy permanente of tydelike patrollies wil hê.

Afgesien van die polisie en die ministerie van die omgewing en toerisme, werk hulle ook nou saam met ander, kleiner teenstropingseenhede, asook verskeie dorpe se buurtwagte.

“Ons samewerking met die polisie word al hoe beter en soms doen ons operasies saam.”

Hoe lank dit neem om stropers te vang, hang van verskeie faktore af. Soms neem dit baie ondersoekende werk vooraf en soms gebeur dit vinnig,” sê hy.

Weyand sê hul spanne sluit in Oshiwambo-, Kavango-, San- en Ovahimba-spoor­snyers. Hulle word meestal gewerf volgens hul spoorsny-ondervinding. Waar nodig, ontvang hulle ook opleiding. Weyand sê die spoorsnyers uit die Kunenestreek is meestal die beste om spoor in klipperige gebiede te sny, terwyl die San-spoorsnyers goed in bos werk.

Hy sê stropers raak al meer gesofistikeerd en dit raak moeilik om hulle altyd 'n stappie voor te bly.

“Dit help om voorkomend te werk. Patrollies kan spore volg wat in plase ingaan. Soms ontdek hulle strikke of slagplekke.

“Soms bel boere ons as hulle vars spore gewaar het en dit stel ons in staat om vinnig te reageer. Dit is meestal die suksesvolste manier om stropers te vang. Dit is dus belangrik dat boere hul samewerking moet gee,” sê Weyand.

Hy sê daar is beslis sindikate in die land betrokke by stropery en dat Nyime saam met die polisie werk om die “grootkoppe” te probeer vang, maar dat dit 'n ingewikkelde taak is en dat baie speurwerk eers gedoen moet word.

“Die algemeenste redes waarom mense stroop, is omdat hulle kapana maak en omdat dit 'n maklike manier is om geld te maak,” sê hy.

“Ons leef ook in 'n groot land en daar is nie altyd oral beheer op plase nie. Dit mag wees dat 'n boer byvoorbeeld net eenmaal per week op 'n gegewe plek op sy plaas verbykom.

“Daar is dus genoeg tyd en geleentheid om te stroop. Beeste en wild is ook dié diere wat die meeste gestroop word.

“Veral beeste is maklik om te stroop. Hulle is relatief mak en hardloop nie vir mense weg nie.”

Weyand sê voorheen het dit gebeur dat hulle dikwels dieselfde stropers oor en oor vang en die rede daarvoor is dat borgtog goedkoop was en boonop maklik toegestaan is. Sedert strawwe verswaar is, is die hoop dat stropery beter voorkom sal word.

Weyand sê egter as private wetstoepassings­agentskap is dit 'n groot finansiële onkoste om 'n teenstropingseenheid te bestuur.

“Die lopende koste is hoog - dit sluit als in van lone tot brandstof. Terselfdertyd kan ons nie te veel vir ons dienste vra nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!