Tegnologie vir fopvleis al beter
Tegnologie vir fopvleis al beter

Tegnologie vir fopvleis al beter

Nabootsings in laboratoriums gekweek
Ronelle Rademeyer
Dr. Kobus Laubscher – Nagemaakte produkte is deel van ons lewe en met behulp van die toenemende verbetering in tegnologie weet die meeste verbruikers nie eens hoe die ware Jakob proe nie.

Die lys is te lank om hier op te noem, maar die afgelope jare se ontwikkeling in nagemaakte vleis maak dit noodsaaklik om van kennis te neem. Nabootsing (Engels: imitation) is die naaste lekker Afrikaanse woord, want dit lig die debat na iets meer as nagemaak.

Plaasvervangers vir proteïen van dierlike oorsprong is al lank met ons, maar tot dusver het die groentetjop of -worsie my nog nie persoonlik oortuig nie. Krediet aan die poging, want dit is juis wat die nabootsing van vleis nou op ’n meer tegnologiese vlak dryf. Die nuwe naam is eintlik gekweekte vleis/proteïen. Nie net vleis nie, maar ook ander proteïenbronne soos skaars vissoorte word betrek deur die vermeerdering van selle binne ‘n laboratorium met die eindresultaat ‘n vergelykbare én eetbare produk.

Vir die gewone oog en tong is daar weinig verskil en die vooruitsigte lok miljoene Amerikaanse dollar vir die befondsing van die navorsing. Die ontwikkelaars is so positief oor die vordering dat hulle dapper genoeg is om te voorspel dat 1% van die wêreld se verbruik van beesvleis teen 2030 vervang sal kan word. Dit is volgens ‘n verslag van Mckinsey & Co.

Die wetenskap agter die nuwe ontwikkeling is nie nou ter sake nie; trouens as landbouekonoom betwyfel ek nie die geldigheid nie, maar moet kennis neem van die impak. Derhalwe kan die fokus verskuif na wat bepalend kan wees in die verwagte groei in verbruik. In dié verband moet onthou word dat die soeke na proteïenplaasvervangers nie net die gevolg is van die omgewingsvriendelike debat oor die impak van vleisproduksie op die klimaat nie. Dit gaan oor meer, soos om gesofistikeerde verbruiksprodukte te ontwikkel sonder noemenswaardige verhoogde druk op hulpbronne. Vyf aspekte is van belang.

Die eerste aspek handel oor die vraag of verbruikers die gekweekte vleis sal aanvaar al lyk dit op ‘n haar soos die ware Jakob. Die kwekers beweer verder dat hulle met die selle van selfs uitgestefte spesies vleis sal kan kweek. Wie weet, dalk eet ons nog eendag van die langhaar oerdiere wat ystye oorleef het!

Daar is vervolgens kommer oor die erkende risiko, want gekweekte vleis kan ‘n winskoop word vergeleke met konvensionele rooivleis. Maar is die produk uit ‘n laboratorium betroubaar (vergelyk die oorsprong van die Covid-19 pandemie) en wat van die aanlyn impak soos werkverliese, ensovoorts? Daar is reeds scenario’s ontwikkel oor die impak op die werkplek en dit is veral die laer inkomstevlak werkers wat geraak kan word.

Gekweekte vleis se produksie gaan ander en hoër vlak vaardighede vereis. Derdens bly die koste ’n knelpunt. In 2013 het ‘n Hollandse wetenskaplike vleis gelykstaande aan wat benodig word vir ‘n hamburger, gekweek vir U$ 300 000. In 2021 is die ekwivalent van ‘n hoenderborsie gekweek teen US$4, maar daar is ook gebruik gemaak van proteïen van plantaardige oorsprong. Kwekers is hoopvol om dié goedkoper vervaardigingstendens te handhaaf. Vierdens is beleid nog nie komplementerend genoeg nie. Hoe gaan gekweekte vleis van voorkeur oorgrens handel beïnvloed? Gewone voedselveiligheidsvereistes sal ook hersien moet word.

Laastens is die ekonomie van gekweekte vleis onderhewig aan die ekonomie van skaal. Dit raak beide aanbod en vraag. Baie sal egter aan die aanbodkant moet gebeur om veral verbruikersvertroue te wen en te hou, maar dit is alles moontlik omdat laer pryse en ander veronderstelde voordele van gekweekte vleis verbruikersvoorkeure kan verander en derhalwe ook lei tot vraagverskuiwings.

Daar is dus duidelik veranderings in sig en die landbou moet daarvan kennis neem. Debat hieroor is noodsaaklik sodat die bedryf nie onverhoeds betrap word nie.

Veers moet vleisprodusente hul huis in orde hou om negatiewe persepsies oor hulle produk meer doeltreffend die hoof te kan bied.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer