Tekens duidelik Delta is hier
Tekens duidelik Delta is hier

Tekens duidelik Delta is hier

Gesondheidsgeriewe in die openbare en private sektor oraloor in die land het in onlangse weke die hoogste aantal pasiënte in Namibië se geskiedenis opgeneem.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Daar is absoluut geen twyfel dat die hoogs aansteeklike Delta-variant wél in Namibië is nie.

Alle tekens is daar en dit is duidelik te sien in die vinnige styging in die aantal Covid-19-gevalle in die land, sê dr. Ismael Katjitae.

Katjitae was aan die woord tydens die aankondiging van die nuwe regulasies en het gesê die variant is reeds in buurlande soos Botswana en Suid-Afrika gevind.

Volgens hom is die Sinopharm- en AstraZeneca-entstof waarmee Namibiërs tans ingeënt word, sowat ’n “derde minder doeltreffend” teen die virus, maar steeds baie doeltreffend om mense teen ernstige siekte, hospitalisasie en sterfte te beskerm.

Katjitae sê die meerderheid pasiënte in hospitale is nie ingeënt nie, met sowat 4% van gevalle wat wel reeds ’n eerste dosis ontvang het.

Met verwysing na die gebruik van ivermektien het die spesialis gesê hy sien wél pasiënte wat dit gebruik het en in ’n ernstige toestand in die hospitaal beland en selfs sterf.

“Dis absoluut misleidend dat dit werk. Ek sien pasiënte wat hulself daarmee vir twee, drie weke behandel het en wie se niere onder meer ingee. Hulle kom by die hospitaal in ’n baie ernstige toestand aan en van hulle sterf,” het hy gesê.

Hy het gemaan daar is geen sistemiese wetenskaplike bewyse dat dit vir die behandeling van Covid-19 gebruik kan word nie.

“Ons is heeltyd besig om medikasie te ondersoek en te oorweeg. Ons het vennote, wetenskaplikes, CDC, WHO oraloor in die wêreld en nie een van hulle stel die gebruik van ivermektien voor nie.”

Met verwysing na die entstowwe het hy gesê die voordele oorskry die nadele en dat elke entstof deur omvattende en intensiewe kliniese proewe gegaan het.

Intussen het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, gesê gesondheidsgeriewe in die openbare en private sektor oraloor in die land het in onlangse weke die hoogste aantal pasiënte in Namibië se geskiedenis opgeneem. Van die hospitale is ook tot op 200% van hul normale kapasiteit.

“Ons het ’n bevolking wat nie immuun is nie en hoogs ontvanklik is vir Covid-19, wat hoogs aansteeklik is. Dit is bitter moeilik om te beheer omdat mense as beide ’n oordraer en ’n gasheer van die besmetter (infective agent) is.”

Volgens Shangula het lykshuise maksimum kapasiteit bereik, terwyl begrafnisse op ’n daaglikse basis in gemeenskappe plaasvind.

Met verwysing na die verhoging van kapasiteit het Shangula onder meer verwys na die konstruksie en hergebruik van geboue vir behandeling en isolasie, die aankoop van mediese toerusting soos ventilators, hospitaalbeddens sowel as medikasie vir die behandeling van Covid-19-pasiënte.

Volgens Shangula is die regering “ernstig bekommerd” oor die vertragings wat die aflewering van entstowwe in die wiele ry. Die entstowwe wat in Maart en April ontvang is, is volgens hom grootliks opgebruik, met die ministerie wat N$484 miljoen het om nuwe entstowwe aan te koop.

Intussen gaan inentings landswyd voort by inentingspunte waar entstowwe steeds beskikbaar is.

Die land het 197 200 entstowwe ontvang waarvan die meeste reeds gebruik is. Teen Dinsdag was nog net 35 503 entstowwe in verskillende distrikte oraloor in die land beskikbaar. Hiervan was 12 195 AstraZeneca en 23 311 Sinopharm. Sowat vyf distrikte het al hul toegekende voorraad AstraZeneca gebruik, terwyl twee distrikte hul toegekende Sinopharm-dosisse gebruik het. Die beskikbare entstowwe sal gebruik word vir eerste inentings sowel as persone wat as hoë risiko geklassifiseer is.

Volgens Shangula kan die tweede dosis volgens riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) tot ses weke uitgestel word en sal die vertraagde toedien van dié dosis nie individue negatief beïnvloed nie.

Tans is daar 1 732 isolasiebeddens landswyd in beide die private en openbare sektore beskikbaar waarvan 143 intensiewesorgeenhede (ICU)-beddens is.

Die regering gaan in die komende weke gaan twee veldhospitale in Windhoek (70 beddens) en Oshakati (40) oprig. Nog ’n gebou by die Katutura-hospitaal met ’n kapasiteit van 46 beddens, sowel as die verpleegstersaal gaan ook omskep word, terwyl ’n eenheid met 100 beddens eersdaags ook by dié hospitaal opgerig gaan word. Dit sal die aantal isolasiebeddens tot 2 024 landswyd opstoot.
Shangula sê 300 draagbare suurstofsilinders is ook in Windhoek afgelewer en sal gevul en na gesondheidsgeriewe in veral afgeleë gebiede gestuur word.
Die regering wil ook suurstofkonsentreerders aankoop vir pasiënte wat nie hoëvloei-suurstof benodig nie.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!