• Tuisblad
  • Sake
  • Tekkie Town-drama: ‘Omkopery’ en Christenvideo’s
Tekkie Town-drama: u2018Omkoperyu2019 en Christenvideou2019s
Tekkie Town-drama: u2018Omkoperyu2019 en Christenvideou2019s

Tekkie Town-drama: ‘Omkopery’ en Christenvideo’s

Volgens ’n WhatsApp is ’n werknemer glo twee jaar se salaris aangebied om na die maatskappy terug te keer.
Hanlie Stadler - Steinhoff Africa Retail (Star) ontken dat hy ’n werknemer van die winkelgroep Tekkie Town, ’n Star-filiaal, “omgekoop” het om sy bedanking terug te trek. Die maatskappy betaal wel ’n veiligheidswag om die werknemer by sy huis te beskerm.

In ’n WhatsApp wat aan Netwerk24 gestuur is, word beweer Werner de Bruin is op 29 Junie twee jaar se salaris aangebied – benewens sy maandelikse salaris – om na Star terug te keer. Dié WhatsApp beskryf die aanbod as “omkoopgeld”.

’n Woordvoerder van Star ontken dat De Bruin sodanige bonus aangebied is.

Net dae ná die beweerde aanbod, op 1 Julie, het De Bruin volgens hofdokumente gebieg oor sy betrokkenheid by ’n beweerde sabotasieplan by Tekkie Town.

Hy het hart oopgemaak teenoor Yolind Strydom, Tekkie Town se finansiële hoof, en Corné Klem, ’n lid van Star se uitvoerende komitee en direkteur van Star se spesialisafdeling, waaronder Tekkie Town val.

Die plan, wat selfs Projek Al-Kaïda gedoop is, het onder meer behels dat rekenaartoerusting aangeskaf is waarop Tekkie Town-inligting gekopieer is en dat ’n “agterdeur” geskep is om toegang tot Tekkie Town se stelsels te kry met die oog daarop om dit te ontwrig.

Op 2 Julie is ’n tussentydse interdik in die landdroshof in George teen De Bruin bekom waarin Nunanda Property Investment eis dat hy al die rekenaartoerusting in sy besit aan Nunanda oorhandig.

Nunanda is ’n maatskappy waarvan Bernard Mostert, voormalige uitvoerende hoof van Tekkie Town, en Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town, die direkteure is.

Hulle voer aan die rekenaartoerusting behoort aan hulle.

Verlede Vrydag (6 Julie) het Star op sy beurt in die hooggeregshof in Kaapstad ’n tussentydse interdik teen sewe respondente bekom waarin hulle beveel word om enige harde- of sagteware met Tekkie Town-inligting daarop aan Star te oorhandig.

Die respondente in dié saak sluit in Van Huyssteen, Mostert, voormalige uitvoerende hoof, Willem Wait, voormalige inligtingshoof, en Anton Roetz, hoof van IT-navorsing en -ontwikkeling, asook die maatskappye Nunanda, AJVH Holdings en die Swartvlei Equestrian Estate.

AJVH is Van Huyssteen se volle voorletters (Abraham Johannes van Huyssteen) en Swartvlei is sy perdeplaas.

Volgens De Bruin se beëdigde verklaring is die betrokke rekenaartoerusting met “Mostert se kredietkaart” gekoop. Op een plek beskryf hy dit as “Mostert se Tekkie Town-maatskappykredietkaart”.

De Bruin het tot 17 Julie om te reageer op die interdik teen hom in George. As hy nie daarop reageer nie, sal die tussentydse interdik finaal word. Hy is die enigste respondent in dié saak.

Star wou nie sê in wie se besit die betrokke rekenaartoerusting op die oomblik is nie. Die vermoede bestaan dat De Bruin dit aan Star oorhandig het.

Volgens Mostert se verklaring in dié saak het De Bruin ’n veiligheidswag by sy huis in George aangestel. Dié wag het Wait weggewys toe hy die rekenaartoerusting wou kom haal. Volgens Mostert het De Bruin in die huis weggekruip toe Wait daar was.

’n Woordvoerder van Star het by navraag bevestig dat die maatskappy die veiligheidswag betaal.

Van Huyssteen, Mostert en die ander vyf respondente moet voor 31 Julie reageer op die hofbevel in die Kaapse hooggeregshof, anders sal dié bevel finaal gemaak word.

Nog feite uit die hofstukke

Die groep van nagenoeg 150 personeellede van Tekkie Town en Star se spesialisafdeling wat dit oorweeg het om te bedank, het te midde van beweerde sameswering “Christelike video’s gekyk vir inspirasie”, volgens De Bruin se beëdigde verklaring. ’n Video van die akteur Denzel Washington is ook vir hulle gewys. “Die video’s het my bemoedig. Ek het gevoel asof die senior bestuur (insluitende Mostert) ’n doelwit gehad het, en ’n plan, en dat hy (Mostert) agter hulle gestaan het.” Onderhandelinge is met erns tussen Star en die Tekkie Town-stigters gevoer oor of hulle Tekkie Town kan terugkoop. Mostert het Star glo R2 miljard vir Star se spesialiteitsafdeling aangebied. Dit sluit benewens Tekkie Town in Dunns, John Craig, Shoe City en Refinery. Star wou R3,8 miljard hê en dié transaksie het deur die mat geval, waarna net op Tekkie Town gefokus is. ’n Transaksie kon egter nie beklink word nie en dit het Van Huyssteen glo baie kwaad gemaak. “Daar was spekulasie dat hy die onderneming wou seermaak,” beweer De Bruin. Die bedanking van tot 150 mense by Star is op ’n braaivleis op Van Huyssteen se plaas Swartvlei bespreek. Volgens De Bruin is die “uitstappery” beskryf as ’n vorm van sabotasie wat daarop gemik was om Star se aandeelprys te laat val. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer