Tekkie Town-stigter eis R42 miljoen in nuwe saak
Tekkie Town-stigter eis R42 miljoen in nuwe saak

Tekkie Town-stigter eis R42 miljoen in nuwe saak

Vantevore het uit hofstukke in ’n ander saak gelyk Van Huyssteen is moontlik steeds in verbinding met Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.
Hanlie Stadler

R41 638 366 plus rente en regskoste. Dís die enorme bedrag wat Braam van Huyssteen, stigter van die skoenwinkel Tekkie Town, van Steinhoff Africa Retail (Star), of alternatiewelik sy filiaal Pepkor, eis.

Van Huyssteen voer aan Star het kontrakbreuk gepleeg deur die dienskontrak wat hy as werknemer met die maatskappy gehad het, eensydig te beëindig.

Van Huyssteen het op 24 Mei vanjaar as ’n direkteur van hoof van Star se eiendomsafdeling bedank te midde van onmin oor bonusse en werksomstandighede by die kleinhandelgroep in die nadraai van die Steinhoff-skandaal.

Vantevore het uit hofstukke in ’n ander saak gelyk Van Huyssteen is moontlik steeds in verbinding met Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Die twee, albei eienaars van renperde, het langs die renbaan ontmoet.

Jooste was die een wat Van Huyssteen oortuig het om Tekkie Town aan Steinhoff te verkoop, grootliks vir aandele in Steinhoff, wat nou byna 95% minder werd is as ten tyde van die transaksie.

Jooste word deur die Valke ondersoek nadat “rekenkundige ongerymdhede” verhinder het dat Steinhoff sy resultate vir die boekjaar tot September 2017 kan uitreik. Die maatskappy het sedertdien halfjaarsyfers uitgereik (vir die ses maande tot Maart 2018), maar ’n forensiese ondersoek na sy boeke deur PwC kan nog tot Desember duur.

DIENSKONTRAK

Die eis vir byna R42 miljoen is die afgelope week in die hooggeregshof in Kaapstad aanhangig gemaak. Star en/of Pepkor het tien dae om aan te dui of hulle die saak gaan bestry, waarna hulle binne 20 dae hul teenargumente moet uiteensit.

Van Huyssteen sê in die hofstukke toe Steinhoff sy winkelgroep gekoop het, het hy ’n vastetermyn-dienskontrak met Steinhoff gesluit. Hy sou van 1 September 2016 tot 30 September 2021 in die maatskappy se diens wees.

Toe Steinhoff kort daarna Tekkie Town aan Pepkor verkoop het, en Star, Pepkor se moedermaatskappy, afsonderlik genoteer het, het Star sy werkgewer geword, en Van Huyssteen voer aan dieselfde voorwaardes is bloot voortgesit.

Van Huyssteen gee toe daar was geen skriftelike of selfs mondelinge bevestiging hiervan nie, maar dis “stilswyend” en “implisiet” deur Ben la Grange, toe Star se uitvoerende hoof, en Riaan Hanekom, finansiële hoof, aanvaar. Star het ook van toe af as sy werkgewer “opgetree”.

In dié stadium het Van Huyssteen ’n totale vergoedingspakket van nagenoeg R13,6 miljoen verdien. Dit het ’n jaarlikse salaris van R2,8 miljoen, ’n bonus van R1,4 miljoen en langtermynbonusse van altesame R9,4 miljoen ingesluit.

Toe die sop vanjaar suur word, het Leon Lourens, uitvoerende hoof van Star ná Le Grange se bedanking, op 19 April vir Van Huyssteen gesê hy is nie meer ’n werknemer nie. ’n Prokureursbrief wat dit betwis en eis dat hy sy pligte terugkry, is op 15 Mei aan Star gegee, maar Star het nie daarop gereageer nie.

Van Huyssteen het toe op 24 Mei onder dwang bedank.

Die enorme bedrag wat Van Huyssteen eis, is om hom in die posisie te plaas wat hy sou gewees het indien hy sy dienskontrak tot September 2021 uitgewerk het.

Dit sluit sy pakket vir 2017 in en aanvaar ’n jaarlikse verhoging van 6% daarvan. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!