Tekort aan Covid-19-beddens
Tekort aan Covid-19-beddens

Tekort aan Covid-19-beddens

Sommige Covid-19-pasiënte word noodgedwonge per noodvlug of ambulans na hospitale vervoer waar ’n bed wel vir hulle beskikbaar is.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Namibië is “definitief” in sy derde golf van die Covid-19-pandemie, met pasiënte wat baie siek is en tot drie weke in ’n intensiewesorgeenheid (ICU) deurbring.

Die Windhoekse pulmonoloog, dr. Willie Bruwer, sê Covid-19-pasiënte is “baie siek en ons sukkel om hulle beter te kry. ICU-pasiënte lê ook tot drie weke hier voor ons hulle na ’n gewone saal kan oorplaas, so die omset is nie vinnig nie,” sê Bruwer.

Met verwysing na die gebrek aan die beskikbaarheid van beddens vir dié pasiënte sê hy dit wissel in beide staats- en private hospitale, maar verlede week was “absolute chaos”.

Bruwer, wat reken Namibië is reeds in sy derde golf, sê die vorige twee golwe het met stil tye gepaardgegaan wat meer leë beddens verseker het.

“In die winter lê die sale in elk geval vol met nie-Covid-pasiënte wat byvoorbeeld griep en longontsteking het, veral in Junie en Julie. Die sale is dus in elk geval vol en daar is nie ’n gaping om ’n oorvloei van Covid-pasiënte te huisves nie.”

Met verwysing na elektiewe operasies sê hy dit is aanvanklik gestop, met dié opnames se beddens wat vir dié pasiënte gebruik is. Waar hy aanvanklik so ’n besluit ondersteun het, het die gevolge en komplikasies wat dit inhou nou sy siening verander.

“Dit is nie so eenvoudig nie en ’n moeilike besluit. Dié elektiewe gevalle het nou so opgehoop dat ’n elektiewe geval nou ’n noodgeval geraak het.”

’n Twee-en-dertigjarige vrou van Windhoek wat positief vir Covid-19 getoets het en enkele dae later erge asemnood ervaar het, het in ’n onderhoud met Republikein vertel sy is na een van die private hospitale in die hoofstad waar tydens ’n ondersoek bevind is haar suurstofvlakke was baie laag en haar hartklop en polsslag baie hoog.
Sy is by ongevalle op suurstof geplaas, omdat die hospitaal nie ’n bed vir ’n Covid-19-pasiënt oop gehad het nie. Navrae deur ’n dokter het bevestig daar is geen beddens in ander private of staatshospitale in die hoofstad vir haar beskikbaar nie. Die dokter het gehelp om goedkeuring vir ’n suurstofmasjien by haar mediese fonds te kry wat deur die verskaffer by die hospitaal afgelewer is en waarmee sy huis toe is.

“Daar is maar steeds paniek, want jy is nie ’n dokter nie, maar drie dae later was daar vir my ’n bed in ’n private hospitaal beskikbaar waarnatoe ek oorgeplaas is,” het sy gesê.

Intussen het ’n dokter in private praktyk in Windhoek in ’n onderhoud met Republikein gesê die gebrek aan beddens vir Covid-19-pasiënte in private hospitale en in ICU’s maak dat baie siek pasiënte noodgedwonge op eie houtjie by die huis moet probeer herstel of dat reusekoste aangegaan moet word om hulle per noodvlug of ambulans na ’n hospitaal in die land te vervoer waar wel ’n bed beskikbaar is.

Volgens die dokter was daar in Desember wel ekstra beddens in die hoofstad beskikbaar omdat chirurgiese sale hiervoor gebruik is.

Die dokter is van mening private hospitale het ’n “morele en etiese verpligting” om ekstra beddens vir Covid-19-pasiënte beskikbaar te stel en eerste lewensbedreigende situasies en siektes te hanteer.

Die dokter het verwys na ’n plaaslike spesialis wat na bewering noodgedwonge Covid-pasiënte, soms tot vier per dag, uit ongevalle moet ontslaan met suurstofverrykers.

“Die pasiënte lê by die huis, sonder noodsaaklike medikasie soos Remdesivir, deksametasoon en bloedverdunners waarvan sommiges binneaars toegedien moet word. Die persoon moet in hierdie siek toestand sy eie suurstofsaturasie monitor. Wat gebeur as die suurstof op is?”

Die dokter is van mening operasies soos knie- en heupvervangings kan wag, maar noodchirurgie wat lewensbedreigend is moet steeds kan plaasvind.

Volgens hom is daar genoeg noodwerk vir chirurge en kan hulle steeds ’n bydrae lewer deur diens in gewone sale te doen.

“Hulle moet opstaan en sê ‘ek het nie nou nodig om die operasie te doen nie, daar is iemand daar buite wat daardie bed nodig het.’”

Volgens die dokter kos dit die mediese fondse reusebedrae om mense met noodvlugte na hospitale oraloor die land te laat vlieg waar ’n bed wel beskikbaar is.

“Ek het twee baie siek bejaarde pasiënte gehad wat ek met ’n ambulans Swakop toe moes stuur om daar opgeneem te word.”

Hy het ook verwys na ’n pasiënt van Oranjemund wat Ongwediva toe gevlieg moes word om hier opgeneem te word.

“Mense word sodoende nie vinnig genoeg behandel nie en die goue uur waarna verwys word waarin jy ’n pasiënt nog kan red, gebeur nie. Ook word noodpersoneel in so ’n geval soveel langer aan ’n Covid-pasiënt blootgestel.”

Hy skryf die land se hoë sterftesyfers toe aan die feit dat teen die tyd dat pasiënte by die hospitaal aankom, hulle nie meer gered kan word nie.

“Wanneer ’n pasiënt uiteindelik by die hospitaal uitkom, het die hart reeds vir ’n geruime tyd nie genoeg suurstof gekry nie en gaan die persoon in orgaanversaking.”

Weens die gebrek aan beddens in private hospitale, is dit volgens hom nie verseker dat ’n pasiënt met ’n mediese fonds nie in ’n staatshospitaal gaan beland nie.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer