Tekort aan plaaslike langlewemelk ervaar

Namibië se suiwelverwerker Namibia Dairies is by 'n keerpunt in sy voortbestaan, maar stu innoverend voort.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die viering van melkmaand wêreldwyd in Junie het nie in Namibië vir breë glimlagte by melkliefhebbers gesorg nie. Die rede daarvoor is die tekort aan ­langlewemelk wat tans in die land ervaar word.

Dít, sê die suiwelverwerker Namibia Dairies, gaan vererger aangesien minder melk geproduseer word.

Die maatskappy, wat deel is van die Ohlthaver & List-groep, sê in 'n verklaring hy is by 'n keerpunt waar eksterne druk hom oor sy voortbestaan laat besin.

Mnr. Pieter van Wyk, tegniese hoof van Namibia Dairies, sê die uittrede van melkboere uit die bedryf en die vermindering van produksie het tot die tekort aan langlewemelk gelei, en dit gaan vererger.

Hy sê tans lewer produsente 800 000 liter melk per maand mínder as wat twee jaar gelede die geval was. Dit is ongeveer 10 miljoen liter melk minder per jaar.

Die styging in die vraag na langlewemelk is die gevolg van die Covid-19-pandemie en die feit dat mense dié melk eerder as vars melk koop noudat hulle minder gereeld inkopies doen en produkte verkies wat 'n langer rakleeftyd het, verduidelik Van Wyk.

Die rede vir die daling in produksie van die afgelope twee jaar is grootliks aan die droogte en die lae vlak van die Hardapdam toe te skryf waarvandaan water vir die produksie van voer kom, sê Van Wyk.

Volgens hom het die goeie reën vir van die kleiner boere wat onder ekstensiewe toestande produseer, uitkoms gebring.

Vir die groot, intensiewe produsente soos die !Aimab Superplaas waar die meeste van die land se melk geproduseer word, is die prentjie nie juis rooskleuriger nie.

Van Wyk sê die veranderde vraag van verbruikers het meegebring dat Namibia Dairies aanpassing maak om te oorleef.

“Maak nie saak hoe sleg die marktoestande is nie, Namibia Dairies is nie by die punt waar hy die wit vlag gaan hys nie. Die noodsaaklikheid om te verander, word trouens verwelkom en gesien as 'n geleentheid om Namibië se suiwelbedryf te transformeer,” sê Van Wyk.



BOU OP STERK PUNTE

Volgens hom is die maatskappy proaktief besig met die herontwerp van sy produkte en operasionele bedrywighede. Sy produktereeks gaan ook uitbrei en gediversifiseer word.

“Namibia Dairies sal die grens ver­skuif om méér as sy bestaande suiwel- en niesuiwelprodukte aan te bied nadat markte ondersoek en die lewensvatbaarheid bepaal is.”

Van Wyk wys daarop dat Namibia Dairies die grootste koueketting-verspreidingsnetwerk in die land het. Die maatskappy sal op dié sterkpunte voortbou en innoverende ontwikkelings aanpak ter wille van volhoubaarheid, sê hy.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer