Telecom in kuberaanval
Telecom in kuberaanval

Telecom in kuberaanval

Dié staatsonderneming sê ­kuberkrakers kan op enige iemand toeslaan.
Augetto Graig
Augetto Graig – Telecom Namibia was laas week die teiken en slagoffer van 'n­ ­kuberaanval wat verskeie dienste lamgelê het.

Volgens Telecom se woordvoerder, me. Nomvula Kambinda, is 'n poging deur kuberkrakers teen Telecom se interne korporatiewe netwerkkommunikasiestelsel opgemerk. “As voorsorgmaatreël het Telecom besluit om van sy interne korporatiewe IT-stelsels af te skakel, om die maat­skappy toe te laat om regstellend op te tree en enige skade te beperk,” sê sy.

Kambinda dring daarop aan dat Telecom nie die enigste teiken van kubermisdadigers is nie.

“Namate die wêreld meer verbind raak en netwerke aanhou ontwikkel, vermeerder kuberaanvalle wêreldwyd en raak hul pogings om konvensio­nele verdediging te omseil, ook meer ingewikkeld as ooit tevore. Namibië is nie immuun teen sulke pogings nie,” sê sy.

Oor die laaste 12 maande moes Telecom 'n verskeidenheid skadelike sagteware opspoor en beperk.

“Dit wissel van rekenaarvirusse, wurms, 'trojans', reklameware en ­los­prysware,” sê sy. Sy het nie uit­gebrei oor die spesifieke aard van die nuutste aanval nie.

Sy sê Telecom, met sy vennote, stel gevorderde veiligheidsoplossings en maatreëls in om bestaande sekuriteitstelsels te versterk en te verbeter, “om gevorderde kuberbedreigings af te weer”, sê sy.

“Ons netwerk en dienste aan ons kliënte is nie geraak nie, behalwe vir sekere van ons interne prosesse,” sê sy. Telecom-kliënte het egter wel tussen 18 en 20 September gesukkel om die staatsonderneming se kliëntediens te kontak, en Maandag moes e-poskorrespondensie nog deur werknemers se persoonlike adresse, eerder as dié gehuisves by telecom.na, gekontak word.

Volgens Kambinda is alle maat­reëls ingestel om te verseker dienste aan kliënte gaan voort en besighede word minimaal geraak.

“Pogings tot normalisering van die interne korporatiewe IT-omgewing is in 'n gevorderde stadium en sal binne­kort voltooi word,” het sy gister gesê.

Sy sê Telecom bied kuberveiligheidsoplossings aan kliënte deur middel van hul iway Smart Hosting-produk.

“Telecom Namibia het die iway ­e-posplatform opgegradeer en gemoderniseer om verbeterde en funksio­nele dienste aan te bied, en ons is besig met kliëntemigrasie,” voeg sy by.

Hoewel toerusting wat Telecom aan kliënte bied om by hul persele op te stel ingeboude sekuriteits­kenmerke en -funksies bevat, moedig sy ­Namibiërs steeds aan om te verseker hul netwerke en toestelle bly veilig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!