Telers moet genetika met plaastoestande paar
Telers moet genetika met plaastoestande paar

Telers moet genetika met plaastoestande paar

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Ondanks die swakste landboutoestande ooit in die Namibiese boerderygeskiedenis is topgenetika gister by die Windhoek Skou beoordeel.

Mnr. Siggi von Lüttwitz, voorsitter van dié skou se beeskomitee, het gister in ’n onderhoud met KletsKompas, Namibia Media Holdings (NMH) se aanlyn ontbytprogram, gesê Namibiese telers het meer topgenetika in hul kuddes as wat daar kos vir die diere is.

Hy het gemaan telers moet tydens seleksie sorg aan die dag lê om nie net na die diere se genetiese waardes te kyk nie, maar ook na hoe aanpasbaar hulle in gewone veldtoestande is.

“Telers moet sorg dat hulle die teelwaardes met die diere se aanpasbaarheid balanseer. Die bes geselekteerde bees is die een wat die beste op jou plaas vaar,” was sy raad aan telers.

Windhoek Skou beleef vanjaar een van sy swakte jare wat bees- en kleinvee-inskrywings betref.

Mnr. Hennie Kruger, lewendehawekoördineerder by die Windhoek Skou, sê die droogte het ’n reuse-impak op inskrywings gehad en net 259 beeste is vir beoordeling ingeskryf. Tien jaar gelede, in 2009, is altesaam 703 beeste ingeskryf.

Volgens Von Lüttwitz kos dit ongeveer N$5 000 om een bees vir die skou voor te berei. Dit sluit nie uitgawes soos vervoer en verblyf vir die duur van die skou in nie, sê hy.

Aangesien die skou vanjaar net ses dae pleks van nege dae lank is, is die program ook aangepas.

Beoordeling het eers gisteroggend begin en maak vandag klaar.

Kruger sê daar is ook geen rasgenootskap wat vanjaar nasionale kampioenskappe aanbied nie.

Die veeparade en prysuitdeling vind môre om 16:30 in die arena plaas.

Kommentaar

Republikein 2025-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer