Terug skool toe vir graad 0 tot 3
Terug skool toe vir graad 0 tot 3

Terug skool toe vir graad 0 tot 3

Hoewel sommige ouers nog onseker is, is skole gereed en opgewonde om weer klasse voort te sit.
Yandi Du Plessis
My Zone-redaksie - Leerlinge vanaf graad 0 tot 3 het gister (7 Julie) weer vir aangesig tot aangesig onderrig teruggekeer met leerlinge en onderwysers wat opgewonde was om weer by die skool te wees.

Die My Zone-span het vier laerskole in Windhoek besoek om te sien hoe gereed die skole is om weer leerlinge te ontvang.

Dié skole sluit in Laerskool Martti Ahtisaari, Laerskool Eros, Privaatskool Dr. Rita Johnson en Laerskool Moses van der Byl. Al dié skole pas al die vereiste maatreëls toe om leerlinge, onderwysers en ouers te beskerm en ’n veilige leeromgewing te verseker.

Al die skole het handontsmetmiddel en merkers in plek om leerlinge te wys waar hulle moet staan en seker te maak die regte sosiale afstand word deurlopend gehandhaaf.

Volgens mnr. Romanus //Garoeb, skoolhoof van Laerskool Martti Ahtisaari, was die skool opgewonde om weer hul leerlinge terug te hê.

“Die opgewondenheid onder personeel en leerlinge om klasse van aangesig tot aangesig voort te sit, was vanoggend orals tasbaar. Elke kind het die reg tot onderrig en ons is so bly om weer aan dié reg te voldoen.”

Tydens ’n vergadering met ouers is onder meer die verskillende tydgleuwe vir leerlinge se aankoms en wanneer hulle weer opgetel moet word bespreek.

Die leerlinge word in twee groepe verdeel wat op verskillende tye af- en opgelaai moet word, om die getal leerlinge wat op ’n gegewe tydstip by die skool is, te beperk.

Laerskool Moses van der Byl gebruik dieselfde stelsel. By dié skool die eerste groep leerlinge se begintyd om 07:45 en hulle kan teen 10:05 gehaal word. Die tweede groep begin om 11:00 en eindig teen 13:00.

“Met die ouers se hulp is al ons klaskamers ook ontsmet. Die skool het ook temperatuurmeters en handontsmetmiddel gekry om seker te maak ons kan al die leerlinge se temperatuur meet en hul hande ontsmet,” sê //Garoeb verder.

//Garoeb sê onderwysers ontvang die leerlinge by die skoolhek en vergesel hulle tot by hul klaskamers terwyl hulle seker maak die regte sosiale afstand word heeltyd gehandhaaf.

Laerskool Martti Ahtisaari het ook die getal leerlinge per klas verminder van meer as 40 tot 19 of 20 leerlinge.

By Laerskool Eros was van die leerlinge bietjie onseker met hul aankoms by die skool, maar steeds opgewonde om terug te wees.

By dié skool is merkers geverf om vir leerlinge te wys waar hulle mag en nie mag rye staan nie, sodat die regte sosiale afstand gehandhaaf kan word. Ouers en besoekers mag ook glad nie sonder om vooraf te reël die skoolperseel binnegaan nie.

Me. Desire Goagosus, ’n onderwyseres by Moses van der Byl, sê die skool het alle skoolbanke met plastieksakke oorgetrek, sodat dit makliker is om die tafels te ontsmet en skoon te hou vir die volgende groep leerlinge.

Dié skool maak ook van ’n bokssisteem in die klaskamers gebruik. Leerlinge moet dus binne die gemerkte area bly om hul sosiale afstand te handhaaf.

Die skool laat leerlinge ook nie toe om skooltoebehore te deel nie.

By die Privaatskool Dr. Rita Johnson was veel minder leerlinge as by ander skole te sien.

Van die ouers is nog onseker oor die veiligheid van hul kinders om terug te keer skole toe. Die skool het egter alle nodige maatreëls ingestel om die veiligheid van leerlinge te verseker. Merkers is oral sigbaar vir leerlinge om aan te dui waar hulle moet staan en handontsmetmiddel is oral beskikbaar. Personeel van die skool is gereed en opgewonde om weer hul leerlinge terug te verwelkom.

Hoewel sommige ouers nog onseker is, is skole gereed en opgewonde om weer klasse voort te sit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!