Terugslag vir staat in piramideskema-saak
Terugslag vir staat in piramideskema-saak

Terugslag vir staat in piramideskema-saak

Die lasbrief in die bedrogsaak waarin drie mense glo 'n piramideskema bedryf het en beleggers­ nagenoeg N$11,5 miljoen verloor het, is ongeldig.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



Regter Alfred Siboleka het gister in die Windhoek-hoërhof in die saak van mnr. Charles van Rensburg en die egpaar Melanie en Jeremia van Niekerk teen die staat beslis dat die lasbrief om beslag op dokumente van die beslote korporasie West Coast Financial Aid (WCFA) te lê, ongeldig is.

Die bewysstukke waarop beslag gelê is, kan dus nie meer as getuienis in die hof aanvaar word nie.

WCFI is 'n beslote korporasie wat deur Van Rensburg en die Van Niekerks bedryf is.

Dié trio staar 256 klagte van bedrog, alternatiewelik diefstal, 256 klagte dat hulle 'n besigheid sonder magtiging bedryf het en 'n klag van roekelose of bedrieglike bedryf van 'n beslote korporasie in die gesig.

Die staat beweer die drie het vanaf Februarie 2004 tot Augustus 2006 'n ­piramideskema op Oranjemund bedryf.

Van Rensburg en mnr. Van Niekerk het elkeen 'n 50%-aandeel in WCFA gehad en mev. Van Niekerk was die hoofbeampte daarvan. Daar word beweer dat WCFA gebruik is om beleggers te bedrieg wat tot verliese van ongeveer N$11,46 miljoen gely het.

Siboleka het in sy uitspraak gesê die lasbrief wat in September 2015 deur die landdros op Oranjemund uitgereik is, het nie voldoen aan die vereistes van die Strafproseswet nie. Die aansoekers het ook die hof versoek om hulle vry te skeld in terme van artikel 174 van die Strafproseswet, maar Siboleka het dit van die hand gewys.

In die klagstaat beweer die staat die Van Niekerks en Van Rensburg het kontantdeposito's van lede van die publiek gewerf met die belofte van ongeloofwaardig hoë opbrengste van tussen 7% en 15% per maand. Die beleggers is glo meegedeel die geld wat hulle belê het, word gegee aan mense wat geld van WCFA leen en dat hulle 'n opbrengs op hul belegging sal ontvang van rente op dié lenings.

Die staat beweer ook dat die drie beskuldigdes nie die beleggers se geld gebruik het om lenings aan te bied soos beloof nie, maar die geld vir eie gebruik aangewend het.

Daar word ook aangevoer die drie was nie veronderstel om kontantdeposito's van die publiek te ontvang nie omdat hulle nie 'n gelisensieerde bankinstelling was nie.

“Verskeie getuies, onder wie pensionarisse, het voor die hof getuig hoe hulle geskrewe kontrakte met die be­skuldigdes aangegaan het tot die effek dat hulle hul belegging sou terugkry sowel as maandelikse rente van 15% daarop. Hulle het die bietjie pensioengeld wat hulle gehad het, belê met die hoop dat dit sou groei, net om alles te verloor,” het Siboleka gesê.

Die verhoor sal op 8 Mei weer 'n aanvang neem.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!