Terugslag vir Ziveli-projek
Terugslag vir Ziveli-projek

Terugslag vir Ziveli-projek

Die beplande ontwikkeling van 'n leefstylkompleks buite Windhoek staar reuse-uitdagings in die gesig.
Ter ondersteuning van sy uitspraak vroeër vandeesmaand het regter Collins Parker gesê die minister van omgewing en toerisme het nie geluister na talle teenstanders van die Ziveli Lifestyle Village-projek voordat hy op 31 Oktober verlede jaar goedkeuring verleen het dat dit kan voortgaan nie.

Dit volg nadat die Auas Vallei-inwonersvereniging, die Harmony Mountain Village en inwoners van Tranquility se appél teen die minister se klaringsertifikaat van die ontwikkeling in hoërhof geslaag het.

Klaring is ontoelaatbaar onder huidige wetgewing, wat die minister se besluit onwettig maak.

Parker het gesê nabygeleë inwoners bied reeds ‘n geruime tyd lank teenstand teen die ontwikkeling van die kompleks en betwis die geldigheid van die minister se klaring.

Hul appél teen die minister se besluit is egter eers ná die geldige tydperk ingehandig, maar Parker het dit aanvaar op grond daarvan dat die appellante eers op 12 Februarie vanjaar van die minister se besluit in kennis gestel is.

OPNUUT TOESTEMMING KRY

Die gevolg is dat die projekontwikkelaars, Square Foot Developers, opnuut vir klaring by die minister sal moet aansoek doen.

Terselfdertyd moet die minister eers na die appellante asook hul kundiges luister, voordat hy weer toestemming kan gee vir die voortsetting van bouwerk by Ziveli.

Afgesien van die vertraging wat hierdeur veroorsaak word, kan die voortsetting van die konstruksiewerk wat reeds begin is, verder vertraag word indien die minister voorts met die appellante sou saamstem.

Dit sluit in die vereiste dat die nabygeleë Luiperd Valley Lifestyle Village by die stadsbeplanningsregulasie van Aris sal moet aanpas.

DIGTE ONTWIKKELING

Tans word daar glo ook te dig op mekaar in die Ziveli-behuisingskompleks gebou en word die toelaatbare behuisingsdigtheid oorskry.

Sou die minister die projek nog steeds laat voortgaan, glo die appellante dit is ‘n aanduiding dat die ontwikkelaars die minister om die bos gelei het. Die feit dat die minister reeds toestemming gegee het, versterk glo die klag van misleiding.

Die ontwikkelaars het glo aanvanklik gesê hulle wil sowat 15 km suid van Windhoek ‘n aftreeoord bou, wat toelaatbaar is in die relevante bou-ordonnansie indien erwe nie kleiner as 450 m² is nie.

Die boukode is glo reeds oortree toe die projek vir die eerste keer voorgestel is en gesê is 186 wooneenhede word op 'n oppervlakte van 27 hektaar beplan. Intussen het die aantal wooneenhede wat vir die stuk grond beplan word, tot 309 vermeerder.

Die klaers meen dit is ontoelaatbaar omdat, in teenstelling met 'n woonkompleks vir senior burgers, ‘n kompleks wat gesinne huisves, baie geraas en verkeer gaan meebring.

Meer mense sal ook tot groter omgewingsbesoedeling lei omdat meer rommel en rioolwater gegenereer sal word, terwyl ondergrondse water strawwer gebruik sal word.

As die klaers se saak slaag, sal die ontwikkelaar moet aansoek doen vir die verslapping van bouregulasies, of hul bouplanne moet aanpas en dus die reeds gedeeltelik geboude huise weer moet sloop.

Omdat bouwerk so lank vertraag wordDaarbenewens bestaan die gevaar dat, , sommige belangstellende kopers sal kop uittrek.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer