Tesla Model 3: Jy kan kyk, maar nie ry nie
Tesla Model 3: Jy kan kyk, maar nie ry nie

Tesla Model 3: Jy kan kyk, maar nie ry nie

Elvira Wood - Jy kan in hom sit, voel hoe sy stuurwiel voel en aan sy bande skop, maar jy kan hom nie ry nie. Nie eens vir ’n toetsrit nie.

Dit is nou Tesla se nuutste elektriese motor, die Model 3 wat die afgelope week vir die eerste keer sy verskyning in twee vertoonvensters in dié maatskappy se winkels in die VSA gemaak het.

Mense in Los Angeles en San Francisco kan vir die eerste keer nou gaan kyk hoe dié motor lyk waaroor Elon Musk, die Suid-Afrikaans gebore stigter van Tesla, liries raak.

Tesla het uiteindelik begin om van dié motors aan kliënte af te lewer. Hy het reeds motors aan werknemers wat bestellings geplaas het, gelewer.

Die maatskappy sê op sy webwerf werknemers het voorkeur gekry, gevolg deur mense wat reeds ’n ander Tesla besit.

Daarna word voorkeur gegee aan ander voornemende kopers, afhangende van wanneer hulle hul motor bestel het.

Volgens die San Francisco Chronicle is dit juis omdat die motors nou afgelewer word aan klante wat nie maatskappywerknemers is nie, dat hy besluit het om die Model 3 stadigaan in sy winkels ook ten toon te stel.

Dit gaan egter waarskynlik nog lank vat voor mense toegelaat gaan word om dié vertoonmodelle te toetsbestuur of selfs direk van die winkel te koop.

Tesla het volgens die San Francisco Chronicle die afgelope kwartaal net 2 425 Model 3-motors gebou.

Sowat 455 000 mense het reeds bestellings vir ’n Model 3 geplaas.

Tesla sê op sy webwerf dié mense sal per epos ingelig word wanneer hulle hul finale bestelling kan plaas.

Dit kan volgens Tesla glo tussen 12 en 18 maande duur van wanneer ’n eerste bestelling geplaas word tot dié epos gestuur word.

’n Model 3 kos sowat US$35 000 en kan 220 myl (sowat 350 km) ver ry wanneer die battery gelaai is. – Netwerk24/Bronne: San Francisco Chronicle, Business Insider

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer