Thai-reddingspoging ‘kan dae vat’ terwyl nog reën val
Reddingswerkers het Sondag met die uiters gevaarlike reddingspoging van 12 jong sokkerspelers begin.
’n Vasbeslote groep van 18 internasionale duikers en lede van Thailand se spesialismagte (die Navy Seals) het Sondagoggend omstreeks 10:00 plaaslike tyd (05:00 Namibiese tyd) die modderige water van die Tham Loeang-grot in die noorde van die land aangedurf.
In ’n situasie wat beskryf word as “nou of nooit” het reddingswerkers besluit die tyd is reg om met die uiters gevaarlike reddingspoging van die 12 jong sokkerspelers en hul afrigter, wat al twee weke lank in die grot vasgekeer is, te begin.
Die vroegste wat enige van die reddingswerkers weer terug by die ingang van die grot verwag word, is Sondagaand omstreeks 21:00, sê Narongsak Osatanakorn, leier van die reddingspoging. Dit is 16:00 Sondagmiddag in Namibië.
Die reddingspoging word gekompliseer deur die feit dat die seuns geensins ervare duikers is nie en derhalwe deurgaans ondersteuning moet ontvang, wat die proses vertraag.
Duikers het wel die seuns die afgelope week ’n blitskursus in duiktoerusting gegee, maar die reddingspoging bly uiters gevaarlik aangesien baie van die seuns nie eens kan swem nie.
’n Australiese dokter met jare se ervaring in grotduik het die seuns Sondag ondersoek voordat die reddingspoging begin het, berig The Guardian.
“Hulle is fisiek en geestelik gesond en beskik oor al die nodige kennis vir die reddingspoging,” sê hy.
“Hulle is gereed om uit die grot te kom.”
Volgens Osatanakorn is die water in sommige dele van die grot ook op die laagste vlak in dae, wat Sondag die beste dag tot dusver maak om met die reddingspoging te begin.
Die watervlak het met soveel as 30 cm gedaal, wat beteken die seuns sal vir groot dele op die bodem van die grot kan loop in plaas daarvan om te hoef te swem. Osatanakorn wou egter nie uitbrei oor hoeveel swemwerk van die seuns verwag gaan word nie.
Hy het wel aangedui dat die reddingspoging tot twee dae kan duur.
“Daar is geen beperking op die operasie nie. Dit gaan afhang van die weer en die watervlakke. Ons sal ophou sodra iets sou verander.”
Swaar reën word vanaf Maandag voorspel en die eerste druppels het reeds Sondagoggend begin val.
Nienoodsaaklike personeel is gevra om die gebied rondom die grot se ingang te verlaat om plek te maak vir die duikspan, mediese personeel en veiligheidsmanne. Dit sal die duikers ongeveer vyf uur neem om die vasgekeerde groep te bereik. Daar word verstaan dat elke seun uiteindelik saam met ’n duiker gegroepeer sal word. Sommige dele van die grot is egter so nou dat die seuns daar vir etlike meters ver op hul eie sal moet swem in donker, modderige water.
Reddingswerkers is egter met geen keuse gelaat as om Sondag met die gevaarlike reddingspoging te begin nie, omdat swaar reën in die komende dae voorspel word wat die grot in die praktyk tot Oktober onbegaanbaar sal maak. Vrywilligers op die toneel het dit as ’n situasie van “nou of nooit” beskryf.
Erika Gibson berig intussen indien die watervlak weens stortreën erg sou styg, kan hulle gedwing word om tot Januarie te wag om gered te word.
Die hoeveelheid reën wat die volgende week gaan val in die omgewing van die Tham Loeang Nang Non-grotnetwerk in die noorde van Thailand kan dus ’n bepalende faktor wees in die internasionale reddingspoging wat die wêreld se aandag aangegryp het.
In briefies aan hul ouers wat uit die grot gebring is deur duikers wat hulle Maandag ná tien dae sonder kos gevind het, het een van die seuns geskryf: “Ek is oukei, maar dit is bietjie koud. Moet julle nie bekommer nie en moenie my verjaardag vergeet nie!”
Peter Dennis, voorsitter van die Britse grotreddingsvereniging waarvan ’n ander lid die seuns eerste bereik het, het aan Rapport gesê die reënvalsyfer en suurstofvlak in die grot is bepalend.
Dié vereniging se wêreldbekende lid Rick Stanton (55), ’n brandweerman van Coventry in Brittanje, het die seuns eerste bereik.
‘Die seuns was in verbasend goeie gesondheid.’
Stanton en sy duikmaat, John Volanthen, het die redding tot dusver gelei en word bygestaan deur sowat 80 Thaise vlootvrywilligers. ’n Australiese grotreddingsduiker wat medies gekwalifiseerd is, het hom gister ook by die span aangesluit.
Een van die Thaise vrywilligers, Saman Kunan, is die afgelope week dood toe sy suurstof vermoedelik opgeraak het in ’n poging om die seuns te bereik.
Die seuns is sowat 4 km van die bek van die grot vasgekeer.
“Die verhoogte aktiwiteite en die modder wat dit in die water veroorsaak, maak dat die sig tans vir duikers bitter beperk is. Ons weet nog nie of Saman se suurstof bloot te min was, of hy dalk sy kop gestamp het en of hy nie op sy duikhorlosie kon sien om tred te hou met die suurstof in sy silinder nie,” sê Dennis.
“As die redding begin, sal ons met een duiker voor, ’n seun in die middel en nog ’n duiker agter op ’n stoot-en-trek-wyse werk. Die voorste duiker sal die weg baan en die agterste een sal seker maak die seun volg hom. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie