Thai-seuns se enigste onderhoud met media
Die 12 Thaise seuns en hul afrigter wat verlede week uit ’n grot gered is, is Woensdag opgemerk toe hulle die hospitaal verlaat het onderweg na ’n mediakonferensie.
Hulle het 13:00 (Suid-Afrikaanse tyd) hul eerste openbare verskyning sedert dié redding in Thailand gemaak nadat hulle die wêreld se aandag aangegryp het en sal daarna na hul huise en gesinne terugkeer, berig die BBC.
Die groep het vrae oor hul beproewing beantwoord en dit sou volgens owerhede hul enigste onderhoud met die media wees.
Die nuuskonferensie in Tsjiang Rai is op nasionale televisie uitgesaai.
Die Thaise regering het 45 minute toegestaan op sy kanaal, Thailand Moves Forward, vir die mediakonferensie.
Sommige Thaise televisiepersoonlikhede het gespot dat die seuns sal help met dié program se kykertal wat gewoonlik beskryf word as vervelig.
“Dit is die storie wat alle Thaise mense wil hoor. Moet dit nie afskakel nie, en moet nie die klank afsit nie,” het ’n aanbieder op Voice TV gespot.
Volgens amptenare is die seuns en hul afrigter vrae gevra wat “versigtig gekeur is” en wat joernaliste vooraf ingedien het.
PRIVAATHEID RESPEKTEER
Amptenare het die media en die publiek gevra om die seuns se privaatheid te respekteer as hulle eers uit die hospitaal ontslaan is. Hul dokters is reeds bekommerd oor die invloed van al die aandag op die seuns se geestesgesondheid.
“Die kinders is in ’n moeilike situasie, hulle het gevaar oorkom en as jy riskante vrae vra kan dit die wet oortree,” het Tawatsjai Thaikaew, die sekretaris van die plaaslike departement van justisie, Woensdag aan verslaggewers gesê.
“Ons weet nie watter wonde die kinders in hul harte dra nie,” sê hy
Die Thaise sokkerspan en hul assistentafrigter (25) het op 23 Junie in 'n grot vermis geraak en reddingswerkers van oor die wêreld heen het saamgewerk om die vasgekeerdes daar uit te kry.
Sedert die redding is hulle in ’n hospitaal in Tsjiang Rai behandel en waargeneem.
“Die media kan vrae aan hulle rig en daarna kan hulle terugkeer na hul gewone lewe sonder die media wat hulle lastig val,” sê Soensern Kaewkoemnerd, woordvoerder van die Thaise regering.
Pratsjon Pratsoekan, goewerneur van die Tsjiang Rai-provinsie, het ook aangedui dat daar “niks meer met die media daarná gepraat sal word nie”. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie