Theron-broers vat oor by Vasbyt

Motorsport
Andrew Poolman
Otis Finck - Nico Theron (26) en sy 30-jarige broer Herman het as span 490 punte uit 'n moontlike 600 opgestapel toe hulle Vrydag die nuutste weergawe van die jaarlikse Weskus 4x4 Vasbyt ingepalm het.

Dit was die eerste keer dat die twee saam meegeding het sedert hulle hierdie kompetisie ook in 2011 gewen het.

Met hul Land Rover genaamd Poetsie het hulle die algehele oorwinning behaal en ook as die wenners van die C-klas uit die stryd getree.

Die Weskus 4x4 Vasbyt is 'n hindernisbaan van tien hoogs uitdagende skofte – waarvan die Theron-broers volpunte (60) vir sewe uit die tien behaal het.

Die Suid-Afrikaners Izak en Annelie Maritz het dié byeenkoms tevore vier keer op 'n streep gewen. Hulle was terug met hul tweeliter Cilica pypkar met die naam Goofy wat altyd gewild onder die skare toeskouers is. Die Maritze het altesame 530 punte opgestapel, maar omdat die kompetisie deel van die Namibiese kampioenskapsreeks vorm, het hulle nie op die algehele puntestand in aanmerking gekom nie.

Nog 'n sterk Suid-Afrikaanse duo was Corries Hudson en Robbie Schafner met “Dis Feng” in die Super D-klas.

Die 17-jarige Floris Smit Junior was die jongste lat tussen die 36 inskrywings met 19 voertuie wat vanjaar aan die agterkant van Duin 7 aan die buitewyke van Walvisbaai byeen was.

Die wind het Vrydag weggebly en die weer het mooi saamgespeel. Duisende toeskouers het soos gewoonlik saamgedrom om die drywers se vernuf te aanskou en hulle luidkeels aan te moedig.

Die borge se verteenwoordigers Anzelle Strauss (WesBank) en Mic van Zyl (Ironman) het by die prysoorhandiging bevestig dat hulle sal aanhou om die kompetisie te ondersteun.

Agt spanne het in die A-klas en vier in die B-klas meegeding wat onderskeidelik vir kort- en langas-voertuie voorsiening maak. Daar was vyf inskrywings in die C-klas vir gemodifiseerde voertuie.

Die Vasbyt se tien hindernisse was geen maklike taak nie. Jou voertuig moes regop en binne die aangeduide grense bly as jy punte wou byvoeg. Drie spanne se voertuie het in die sandput omgeslaan, terwyl vele ander deelnemers in die ander skofte hul rieme styfgeloop het. Gelukkig het niemand beserings opgedoen nie.

Die moddergat was vanjaar almal se moses. Niemand kon die eindstreep haal sonder om vas te val nie.

Ter afsluiting is resies deur die modder gehardloop – 'n pretitem wat deur Andrew van der Linde gewen is.

Namib Desert 4x4-klub se voorsitter Theuns van Zyl het die geesdriftige ondersteuners vir hul bywoning bedank. Hy het ook waardering vir die hulp van die baanbeamptes en klublede uitgespreek, asook die ryers wat almal help vermaak en tot 'n suksesvolle dag bygedra het.



Die wenners:

A-klas: 1 Floris Steenkamp en Hele Steenkamp 450 punte; 2 Dirk Bosman en Dries Oberholzer 310; 3 Ben Lange en Francois Lotter 300.

B-klas: 1 Chris Bruyns en Frank Scholtz 420 punte; 2 Morné Oosthuisen en Niels Gartener 410; 3 Theuns van Zyl en Deon Louw 350.

C-klas: 1 Nico Theron (Jnr) en Herman Theron (Jnr) 490 punte; 2 Hanjo Horn en Kirstie Horn 440; 3 Johan La Cock en Renier La Cock 380.

Algeheel: 1 Nico Theron (Jnr) en Herman Theron (Jnr) 490 punte; 2 Floris Steenkamp en Hele Steenkamp 450; 3 Hanjo Horn en Kirstie Horn 440.

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!