Thomas Cook vou: Kans vir Amazon, Booking.com
Meer as 21 000 mense is letterlik oornag werkloos gelaat.
Saamgestel deur Hanlie Stadler
Byna 'n miljoen Britse reisigers is gestrand gelaat nadat die reisagentskap Thomas Cook Maandag aansoek gedoen het om verpligte likwidasie.
Daarby is meer as 21 000 mense letterlik oornag werkloos gelaat.
Alle vlugte en besprekings deur die agentskap is eensklaps gekanselleer, berig Bloomberg.
CNN berig mense het Maandag letterlik by lughawens opgedaag om uit te vind hul vlug is gekanselleer.
Derduisende mense is boonop nou by vakansiebestemmings gestrand en moet oor die volgende twee weke teruggevlieg word. Brittanje se burgerlike lugvaartowerheid gaan help om hulle terug te kry in hul tuisland.
Ander lugdienste het reeds aangedui dat hulle sal help met dié poging.
Die administrateurs gaan nou bates verkoop om krediteure te betaal aan wie Thomas Cook nagenoeg £1,9 miljard skuld.
Aandeelhouers gaan geen geld terugkry nie en daar word verwag dat krediteure net 'n fraksie gaan terugkry van die geld wat hulle geleen het.
Thomas Cook is nou al 'n paar jaar lank in die moeilikheid. Onderhandelinge met Fosun Tourism Group waardeur skuld vir aandele verruil sou word, het misluk en aanleiding gegee tot die likwidasie-aansoek. Die Britse regering het besluit om nié die onderneming met belastingbetalers te probeer red nie.
Caroline Bremner, navorser oor die reisbedryf van Euromonitor International, sê Thomas Cook was die derde grootste reisagentskap in Wes-Europa, met 'n markaandeel van 5,9% in Europa en van 16% net in Brittanje.
Dit bestaan sedert 1841.
Bremner reken agentskappe soos TUI en Jet2 Holidays en aanlyn reisagentskappe soos Booking.com en Expedia sal die gaping in die mark betree. “Ons kan dalk selfs sien dat Amazon die mark herbetree met sy besprekingswebwerf vir goedkoop vlugte, soos wat hy onlangs in Indië bekend gestel het.
“Een ding is vir seker, die ineenstorting van Thomas Cook laat 'n enorme gaping in die reisbedryf-landskap.”
Brittanje se vakbond vir lugdiensvlieëniers, Balpa, het in 'n verklaring gesê dis “verwerplik” hoe werknemers behandel is.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie