Tiananmen bring 'stabiliteit', su00ea Chinese
Tiananmen bring 'stabiliteit', su00ea Chinese

Tiananmen bring 'stabiliteit', sê Chinese

Die bloedige aanslag op China se Tiananmen-plein op 4 Junie 1989 was “die regte besluit”, volgens die minister van verdediging.
Die bloedige aanslag op betogers op China se Tiananmen-plein in die hartjie van Beijing 30 jaar gelede was “die regte besluit”, want sedertdien is daar “stabiliteit” in die land.

Só het Wei Fenghe, die Chinese ­minister van verdediging, Sondag gesê oor die “veldslag op die plein” waar­tydens die Chinese weermag met onder meer tenks op die betogers toegesak het.

Dit is nie bekend of honderde, selfs duisende, betogers dood is nie, want die Chinese regering het nooit weer daaroor gepraat nie. Inligting is totaal gesensureer en doodgesmoor.

Vandaar die verrassende ­uitsprake van Wei tydens die Shangri La-dialoog in Singapoer Sondag toe hy daaroor gevra is.

Hy het na die gebeure op 4 Junie 1989 verwys as “politieke ­oproerigheid.

“Almal is bekommerd oor Tiananmen-plein ná 30 jaar. In die 30 jaar het China onder die Kommunistiese Party baie veranderinge ondergaan. Dink julle die regering was verkeerd met hoe hy 4 Junie gehanteer het? Dit is afgehandel. Die regering het kragdadig opgetree en die oproerigheid stopgesit.”

Hy het gesê China se ontwikkeling sedert 1989 wys dat die regering se optrede regverdig was. “Dit was politieke oproerigheid wat die sentrale regering moes onderdruk, wat die regte beleid was. Dit is daaraan te danke dat China stabiliteit het en as jy China besoek, sal jy daardie deel van die ­geskiedenis verstaan.”

Dinsdag sal die 30-jarige herdenking van die Tiananmen-opstand wees. Chinese soldate het op die betogers, wat deur studente gelei is, geskiet. Burgerregtegroepe en ooggetuies sê honderde, selfs duisende is moontlik dood. China het nooit 'n finale dodetal bekend gemaak nie.

Wei se uitsprake volg nadat Wu Qian, woordvoerder van die ministerie van verdediging, verlede week beswaar gemaak het oor die woord “onderdrukking” gebruik is om die militêre optrede in 1989 te beskryf.

Daar sal Dinsdag geen herdenking van die gebeure wees nie.

In Taiwan is gesê China moet “ernstig berou toon” oor die ­bloedige ingryping op pro-demokratiese betogers op Tiananmen-plein en moet “demokratiese hervormings proaktief bevorder. Ons maan die Chinese owerhede om die geskiedkundige fout te erken en so gou as moontlik opreg daarvoor om verskoning te vra,” lui 'n verklaring van Taiwan se raad vir vastelandsake.

Die raad het gesê Beijing het nog altyd leuens verkondig om die gebeure van 1989 te verbloem.

China het nie op die stellings gerea­geer nie, maar die Engelse Global Times in China, wat wyd gelees word, het in sy kommentaar gesê 4 Junie het

“China teen oproer geïmmuniseer.



VERGETE VOORVAL

“Dit het China net een keer geraak. Die voorval het nie 'n lang uitgerekte nagmerrie vir die land geword nie,” het die koerant, wat deur die heersende Kommunistiese Party se amptelike People's Daily uitgegee word, geskryf.

In die kommentaar word die beto­gings 'n vergete geskiedkundige voorval genoem.

“Al hierdie lawaai van buite die land sal geen rêrige invloed op die Chinese gemeenskap hê nie. Die aksies van die eksterne magte is tevergeefs,” lui die koerant se kommentaar. In die Chinese uitgawe van die koerant verskyn hierdie kommentaar glad nie.

Terwyl die demokratiese Taiwan, wat lank gelede van China weggebreek het, die Tiananmen-gebeure gebruik om China te kritiseer, staan China by sy punt dat Taiwan heilige grondgebied is wat hy gaan terugvat, met geweld, as dit nodig is.

–Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!