Tiener maak droomdebuut by kus

Trustco United se enigste twee seges sover dié seisoen was beide teen die Welwitschias.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die gekombineerde kusklub Welwitschias sukkel maar om op dreef te bly in Krieket Namibië se premierliga vir eendagkrieket, veral op die naweke wanneer hy 'n hand vol spelers aan die nasionale o.19-groep afstaan.

Die Welwitschias het Saterdag op die Sparta-veld in Walvisbaai hul tuiswedstryd teen Trustco United met sewe paaltjies verloor.

Die kusspan sou onder normale omstandighede verwag het om veel meer kompeterend te wees teen die onbestendige bloues van Windhoek, vir wie Saterdag se oorwinning net hul tweede van die seisoen was.

United se kaptein Darren van Dyk het die loot gewen en die tuisspan die eerste kolfkans gegee. Die Welwitschias is binne 31.5 boulbeurte almal vir 139 lopies uitgeboul.

Hul probleme het vroeg begin toe die eerste vier paaltjies met die span se tellings op 1, 6, 14 en 34 geval het. Die kolwers Morné van Bosch (0), Steve Winborn (2), Justus Hangula (3) en die potensieel gevaarlike Lauritz Haccou (17 van 9 balle, twee sesse) kon nie lank staande bly nie.

Die middelkolwers Shalako Groenewald (49 van 42 balle, 4x4 2x6) en Marco Malan (42 van 52 balle, 3x4 3x6) het 'n aanvallende vennootskap aan die gang gekry. Dit het op 103/5 geëindig toe Groenewald net voor sy vyftigtal 'n aflewering van Jan-Ivan van Dyk in die hande van Dickson Vambe geslaan het.

Die laaste paar paaltjies het ook vinnig gevou, met die beste United-bouler van die dag die tienerjarige Jan-Ivan van Dyk (5/14 in 6.5 boulbeurte) wat in sy premierliga-debuut as speler van die wedstryd bekroon is.

Christopher Coombe het 3/44 in 8 en die ekonomiese Danie van Schoor 1/20 in 8 geneem. Die Windhoekers was gedissiplineerd met net drie wydlopers en geen foutbal vir die dag nie.

In die United-kolfbeurt was Lo-han Louwrens die eerste wat sy paaltjie verloor het toe hy vir 13 (18 balle, 1x4) van Ben Shikongo se boulwerk uitgevang is.

Danie van Schoor (39 van 72 balle, 4x4) het egter saam met sy kaptein Darren van Dyk (26 van 31 balle, 2x4 2x6) oordeelkundig gekolf totdat laasgenoemde hom met 'n aflewering van Marco Malan misgis het en uitgevang is (United 77/2).

Op 119/3 is Van Schoor uitgehardloop, maar teen daardie tyd was Christopher Coombe (34 nie uit nie van van 34 balle, 4x4 1x6) reeds goed op dreef teen sy voormalige spanmaats en was daar nie veel vir Brandon Groenewald (5*) om te doen voordat die wenlopie geslaan is nie.

Die United-kolwers het Shalako Groenewald (0/18 in 8 boulbeurte) se draaiballe met respek behandel.



WANDERERS KLOP O.19's

Die wedstryd op die CCD-veld het laat begin vanweë die nat buiteveld wat deur die vroegoggend se reënbui agtergelaat is. Die spel is dus tot 30 boulbeurte per span ingekort.

Die Namibiese o.19's, wat net vriendskaplik in die premierliga meeding, se kaptein Divan la Cock het die loot gewen en sy opposisie ingestuur om te kolf.

Dié besluit is vroeg beloon met die eerste deurbraak om van Wessel Myburgh ontslae te raak, wat van sy eerste bal op pad na 'n tweede lopie uitgehardloop is.

Kort op sy hakke het die nasionale spankaptein, Jan Frylinck, gevolg toe hy van Jan-Izak de Villiers se boulwerk deur Ettienne Beukes uitgevang is vir 'n onoortuigende 1 van 14 balle.

Samsung FNB Wanderers het die skade stelselmatig herstel met 'n 80-vennootskap tussen die aanvangskolwer Karl Birkenstock (35 van 54 balle, sonder 'n grenshou) en nommer vier JJ Smit, wat 'n goeie 59 van 71 balle (3x4 1x6) geslaan het. Smit se vyftigtal het hom die toekenning as speler van die wedstryd besorg.

In die laaste paar boulbeurte het Andrew Forrest (35 nie uit nie van 27 balle, 3x4 2x6) saam met sy kaptein Nicolaas Scholtz (18* van 12 balle, 1x4 1x6) die grenstou aangeval om hul span se 30 boulbeurte op 155/4 af te sluit.

In die o.19's se boulaanval het Jan-Izak de Villiers (2/19 in 6 bb) van Frylinck en Smit ontslae geraak. Ettienne Beukes (1/9 in 3) en Mauritius Ngupita (0/21 in 6) het ook skaflike boulsyfers gelewer, maar Eric Wilson (0/45 in 6) en Altus Opperman (0/40 in 6) het die meeste van die straf verduur.

Met die kolf het die o.19's eerste vir Dian Neethling (4) verloor wat uitgehardloop is in 'n misverstand wat hom en Ramon Wilmot in dieselfde kolfkampie laat beland het.

JC Balt (1) is deur Karl Birkenstock skoongeboul, wat die jongspan se hoop op Ramon Wilmot (22 van 44 balle 1x4 1x6) en Divan la Cock (19 van 30 balle, 1x6) geplaas het.

Victor van der Watt (geboul vir 1) kon nie aan die gang kom nie, voordat Matthew de Gouveia (29 nie uit nie van 33 balle, 1x4 1x6) en Jan-Izak de Villiers (33 van 36 balle, 1x6) met 'n moedige, maar vergeefse vennoot­skap van 56 lopies probeer het om die o.19's binne trefafstand van die teiken te bring.

Die jongspan se totaal van 126/6 was net goed genoeg om met 29 lopies teen Wanderers te verloor.

Die Wanderers-bouler Tershwin Raubenheimer (2/5 in 3 bb) se slagoffers was La Cock en Van der Watt. Karl Birkenstock het ook vyf suinige boulbeurte afgestuur (1/10).

• Die oorblywende wedstrydbepalings in die premierliga:

9 Februarie: WHS Old Boys tn United (CCD-veld); Welwitschias tn CCD Tigers (Walvisbaai).

16 Februarie: Wanderers tn Welwitschias (Wanderers-veld); CCD Tigers tn United (CCD-veld).

23 Februarie: Wanderers tn CCD (Wanderers-veld); United tn Namibië o.19 (United-veld); Welwitschias tn Windhoek Old Boys (Walvisbaai).

2 Maart: United tn Wanderers (United-veld); CCD Tigers tn WHS Old Boys (CCD-veld); Welwitschias tn Namibië o.19 (Walvisbaai).

Die semifinale is vir die naweek van 9 Maart geskeduleer, voor die eindstryd op 30 Maart.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!