Tiener verloor drie vingers ná fratsongeluk

Die 15-jarige Vanessa Grimbeek, 'n leerling aan die Hoërskool Namib op Swakopmund, word beskryf as 'n intelligente, talentvolle tiener met 'n hart van goud en 'n passie vir kuns.
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis – Vanessa is op haar gelukkigste as sy in haar kamer kan sit en verf, of in die motorhuis besig is om iets te skep of te bou.

“Sy is so slim en kom met die vreemdste, pragtigste kunswerke vorendag. Sy maak altyd iets vir al die gesinslede,” vertel haar ma, me. Elana Grimbeek.

Vanessa het onlangs met 'n nuwe kunsvorm begin eksperimenteer – sy het begin om met brandwerk op hout te werk. Volgens Elana het sy 'n natuurlike talent vir dié unieke kunsvorm.

Dít was voor die ongeluk. In 'n fratsongeluk op 1 Julie is Vanessa deur 'n ontblote kragdraad geskok terwyl sy besig was om in die motorhuis te werk. Sy het net “deur God se genade” oorleef. Haar hande het erg verbrand.

Haar ouers het met haar na die naaste hospitaal gejaag, maar die staatshospitaal het nie die nodige toerusting gehad nie. Sy is op 3 Julie na die Katutura-hospitaal in Windhoek gehaas.

Sy het alreeds verskeie operasies ondergaan, onder die sorg van 'n “ongelooflike” mediese span. Sy het haar duim en wysvinger aan haar regterhand verloor.

Haar linkerhandpalm is steeds in 'n kritieke toestand en ná 'n lang operasie lyk dit of die hand gered kan word. Haar pinkie moes egter geamputeer word.

Vanessa se pa, mnr. Neels Grimbeek, het ophou werk om voltyds na haar jonger sussie te kyk. Sy het Williams-sindroom en vereis spesiale sorg. Elana bring meeste van haar tyd langs Vanessa se hospitaalbed deur. Sy sê dit is 'n baie emosionele en uitputtende ervaring.

“Vanessa is en sal altyd 'n sonskyn­kind wees. Sy was tot dusver só sterk. Natuurlik is dit ook baie moeilik vir haar, sy is in baie pyn en alles is vreemd op die oomblik,” sê Elana.

Die meeste van haar gesinslede is op Swakopmund en kan haar ongelukkig weens die reisbeperkings nie besoek nie. “Sy mis hulle baie en hulle mis haar ook. Ons hoop net ons sal al haar mediese rekeninge en behandeling kan dek.”

Haar gesin het 'n pleidooi om finansiële hulp aan die publiek gerig.

Verskeie vorms van die terapie wat Vanessa gaan nodig hê, word nie deur die staat gedek nie. Haar ouers is ook nie in staat om te werk in dié moeilike tyd nie. Hulle het ook spesiale toerusting nodig sodat Vanessa se lewe so normaal as moontlik kan voortgaan ná haar wonde herstel het.

“Geldinsamelings is oral van stapel gestuur deur mense wat ons in hierdie moeilike tyd probeer help,” vertel Elana.

Hulle is ook tans besig om 'n vertoning met twee verrassingsangers te reël. Vriende van die gesin het ook 'n Facebook-geldinsameling begin en Vanessa se ousus, wat 'n Zumba-instrukteur is, wil 'n inisiatief op die been bring waar maatskappye hul werknemers vir 'n uur lank as 'n spanbou-oefening laat dans (Covid-maatreëls sal geld) en dan 'n skenking aan Vanessa maak. Die doel is om geld in te samel vir prostese vir Vanessa.

“Ons is 'n sterk gesin en glo dat ons hierdeur sal kom. Baie dankie aan elke persoon wat 'n SMS gestuur het, gebel en enigsins bygedra of gehelp het. Elke bietjie en elke gebed help en het ons tot hier gedra.”

Elana kan by 081 284 8557 bereik word, of Neels by 081 389 2876.

[email protected]

FOTO’S
Vanessa het haar regterduim en -wysvinger verloor en haar linkerpinkie moes geamputeer word. Foto’s Verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!