Tienjarige boer van Noordoewer
Tanja Bause
Die tienjarige Caleb Holtzhausen van Noordoewer is nie net ’n ontluikende boer nie, maar het ook ’n groot hart vir mense wat minder het as hy.
Dié Holtzhausen-familie het vanaf Suid-Afrika na Noordoewer getrek. In Suid-Afrika was mnr. Christopher Holtzhausen ’n tamatieboer en Caleb het van kleins af saam met sy pa na die lande gaan kyk en van sy pa geleer.
Volgens me. Leatittia Holzhausen het die familie na Noordoewer verhuis en is haar man nou die pakhuisbestuurder van Sonop Farm.
“My man se baas, Albert van die Merwe, het gehoor dat Caleb baie lief is vir boer en dat hy graag wil boer. Hy het vir Caleb gesê, ‘as ’n man wil boer dan moet hy boer.’ Hy het vir hom die stuk grond voor ons huis gegee en die trekker gestuur om die grond te breek sodat Caleb kan begin boer,” het sy gesê.
Caleb het N$1 000 by sy pa geleen om saailinge te koop en sy pa het die geld vir hom geleen met die ooreenkoms dat Caleb hom sal terug betaal wanneer hy sy eerste geld met sy oes verdien.
“Hy het vir Caleb gesê dit is hoe die lewe is en niks is verniet nie. Ons het ook twee Duitse herdershonde en Caleb het die babahondjies verkoop vir geld. Met die geld het hy sy pa terugbetaal en skadunette oor sy groente laat opsit.”
Caleb het in April sy eerste saailinge in die grond gesit. Hy het spinasie, kool, blomkool, beet, wortels, soetmielies en broccoli geplant en reeds geoes.
“Hy het ook twee lyne groente geplant wat nie verkoop word nie. Dit is geplant vir mense wat honger is. Hy gee die groente vir die kerk sodat hulle dit aan behoeftige mense kan uitdeel. Wanneer ons deur die nedersetting ry en sy kool verkoop, sit Caleb agterop die bakkie. Hy kyk rond en wanneer hy iemand sien wat honger lyk of oud is, dan gee hy vir hulle van daai groente.”
Caleb sê: “Ek is baie lief vir Jesus en ek moet vir mense wat nie kos het nie gee. Dit is hoekom ek dit doen.”
Volgens sy ma staan hy elke oggend douvoordag op om na sy boerdery te gaan omsien. Hy trek die onkruid uit, gee kunsmis en maak nat voordat hy tuisonderrig ontvang. Ná skool is hy weer by sy groente.
“Dit is my passie en ek is baie lief vir boer,” het hy gesê.
Die naam van sy boerdery is CRN Boerdery, Ons plant, God laat groei.
“CRN staan vir Caleb Raymond wat sy twee name is en die N staan vir Nel. Caleb se beste maatjie. Hulle twee het saam grootgeword en daarvan gedroom om saam ’n plaas te besit en te boer. Nou boer Caleb vir beide van hulle.”
“Ek wil my boerdery graag groter laat word en baie meer plant,” het Caleb gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie