Tiervis swem byna 400 km

Tydens ’n studie is vasgestel tiervisse swem oor grense tussen Angola, Namibië en Botswana, wat internasionale samewerking op dié gebied noodsaak.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Namibiese navorsers verbonde aan die ministerie van visserye en mariene hulpbronne het geskiedenis gemaak toe hulle vasgestel het ’n tiervis in die Kavangorivier het tot 397 km ver geswem.

Dit is die verste afstand op rekord wat ’n migrerende varswatervis al op die Afrikavasteland afgelê het.

Die Kamutjonga- Binnelandse Vissery-instituut (Kifi) se hoof- visseryebioloog, dr. Francois Jacobs, en sy kollega, die bioloog mnr. Deon Tiyeho, het ’n navorsingsartikel hieroor onlangs in die toonaangewende internasionale Journal of Fish Biology gepubliseer.

Kifi is in die Kavango-Oosstreek geleë.

Tydens die studie is altesaam 49 tiervisse met radiosenders toegerus in dié deel van die Kavangorivier wat deur die Mahangu-wildpark vloei.

Die visse is van Julie 2016 tot Mei 2017 vir so lank as 246 dae per boot en met ligte vliegtuie gevolg.

Twaalf van dié tiervisse het van die plek waar hulle radiosenders ontvang het tot 397 km stroomop en 116 km stroomaf geswem.

Dié afstande is aansienlik langer as ’n vorige skatting dat individuele tiervisse tussen 0,5 km en 105,9 km in die Zambezirivier afgelê het.

Jacobs en Tiyeho meen dit is moontlik dat ander varswatervisspesies ook soortgelyke afstande aflê, soos sekere visspesies in die Nigerrivier, maar gedrags- ekologiese studies van varswatervis in Afrika is skaars.

“Terwyl die tiervisse die lang afstande geswem het, het hulle die territoriale grense van Angola, Namibië en Botswana afgelê, wat weer eens bewys internasionale samewerking is nodig vir die bestuur van varswatervisspesies,” het die navorsers in ’n nuusverklaring gesê.

Jacobs sê bewaringsgebiede in riviere behoort tiervisbevolkings ’n mate van beskerming te bied.

Hy verduidelik die Afrika-tiervis, die Hydrocynus vittatus, dra grootliks tot voedselsekuriteit, die stimulering van die plaaslike ekonomie asook die lewensbestaan van oewergemeenskappe in Namibië by.

Tog heers kommer dat tiervisgetalle in Namibië se standhoudende noordelike riviere besig is om te daal.

Dienooreenkomstig het die ministerie, in samewerking met die Noorweegse Instituut vir Natuurnavorsing (Nina), die Suid-Afrikaanse Instituut vir Akwatiese Biodiversiteit (Saiab), die Universiteite van Namibië (Unam) en KwaZulu-Natal asook Namibia Nature Foundation (NNF) hulpbronne bymekaargebring om vas te stel of varswater- bewaringsgebiede doeltreffend vir die bestuur en bewaring van dié visspesie is.

“’n Bewaringsgebied wat oor 2 tot 5 km strek, sal na raming tussen 25,9% en 34,6% van die tiervisbevolking sowat 75% van die tyd beskerm.

“’n Bewaringsgebied van 10 km lank sal minstens 50% van tiervisse vir sowat 75% van die tyd beskerm,” het Jacobs verduidelik.

Hy sê meer navorsing is nodig om vas te stel wat die optimale dekking en ligging van die bewaringsgebiede moet wees.

“Dit is noodsaaklik dat die bewaringsgebiede in ’n rivierstelsel ook sytakke en die regte lengte insluit wat visse benodig om toegang tot hul habitat, eet- en broeiplekke te kry. Menslike aktiwiteit in ’n gegewe omgewing en die impak op visse se biologiese prosesse moet ook in ag geneem word,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!