Tiger nog nie heeltemal uit die Woods
Tiger nog nie heeltemal uit die Woods

Tiger nog nie heeltemal uit die Woods

Gholf
Tielman van Lill
Tiger Woods se langverwagte terugkeer ná ''n afwesigheid van byna 16 maande was onoortuigend, maar die voormalige nommer een op die wêreldranglys sê dit het vir hom baie beteken om in die Hero World Challenge-toernooi in die Bahama-eilande mee te ding.

Woods se telkaart oor die vier dae op die Albany-baan het ''n magdom voëltjies (24) ingesluit, maar ook ses dubbele brouhoue. Hy het by tye tekens getoon van die speler wat 14 Grand Slam-toernooie gewen het, maar dit was ook duidelik hy is ver van die speler wat dié sport vir so lank oorheers het. Dit is veral sy kortspel wat onder verdenking is.

Woods het ''n paar lang sethoue ingerol, maar het dikwels gesukkel om die blikkie met sethoue van binne ses voet te vind. Hy het 15de uit 18 deelnemers geëindig.

“Ek is net bly om weer gholf te speel,” het Woods gesê nadat hy die toernooi met ''n ronde van 76, vier houe meer as baansyfer, afgesluit het. “Ek het ''n paar voëltjies aangeteken wat baie vir my selfvertroue beteken het, maar daar was ook te veel dom foute. Ek het byvoorbeeld baie sleg op die syfer­vyfputjies vertoon.”

Woods, wat gister van 898ste tot 650ste op die wêreldranglys geskuif het, sê hy is oorgehaal om hom oor die volgende paar maande onder die voorste spelers te vestig.

“Die goeie ding is dat ek die ranglys vinnig sal klim omdat ek so lank weg was. Ek sal goed vorder, selfs al is ek nie op my beste nie.”

Brandel Chamblee, ''n voormalige toernooiwenner in die PGA-reeks en deesdae ''n ontleder vir Golf Channel, was beïndruk met Woods se naderhoue, maar sê sy swaai laat veel te wense oor.

“Hy het sedert die eerste ronde alles links geslaan van die bof af, maar kon dit nie regstel nie, selfs al het hy later in die toernooi meer konserwatief gespeel. Hy het die bal toe links én regs van die skoonveld begin slaan.”

Chamblee het ook nie veel gedink van Woods se kaphoue om die setperke nie.

Japan se Hideki Matsuyama (24) het die afgelope twee maande vier uit die vyf toernooie gewen waarin hy afgeslaan het. Hy het die Hero-toernooi Sondag, ondanks ''n paar blapse op die laaste nege putjies, met twee houe gewen.

Matsuyama, wat die laaste ronde met ''n voorsprong van sewe houe begin het, het op die tiende putjie ''n dubbele brouhou op sy telkaart ingevul, maar het uiteindelik genoeg gedoen om die toernooi in winderige toestande te wen.

“Ek het baie, baie goed gespeel, maar vandag (Sondag) was nie my dag nie,” het hy toegegee.

Henrik Stenson, die Britse Ope-kampioen, het met ''n laasteronde-poging van 68 tweede geëindig, drie houe voor die Yanks Dustin Johnson, Rickie Fowler en Matt Kuchar.

Die Suid-Afrikaner Louis Oosthuizen het met rondtes van 67, 67, 73 en 72 op 279 (9) in die negende plek geëindig. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!