Tjaarts diu00e9 BMW wydsbeen op mat
Tjaarts diu00e9 BMW wydsbeen op mat

Tjaarts dié BMW wydsbeen op mat

Deesdae hoef jy nie meer jou elektriese motor saans by die muur in te prop nie. Jy parkeer hom net bo-oor 'n plat matjie.
Knormoer - Knormoer weet nie heeltemal wat die bekoring is nie, maar hy sien oorkant in die Volksrepubliek van rys, hamers en sekels is daar 'n nuwe voorliefde vir Hummers.
Ja, jy kan deesdae 'n rasegte Humvee in China bestel, kompleet met 'n V8 van 6,5 liter onder die kap. Of daar 'n leertjie saam met die Hummer kom vir die ietwat kleiner van postuur Chinese om gemaklik by hul nuwe 4x4's in te klim, weet hy nie.
Maar hy gaan ook nie vra nie. Jy sukkel nie met 'n Chinese bestuurder nie. Wat nog met een agter die stuur van 'n drietonrenoster op wiele. Die Hummer – jip, die H1, die weermag-weergawe en nie die latere mak gemaakte H3 wat by ons ook te kry was nie – word aan die Chinese gebied met die komplimente van Bob Lutz.
Vir dié wat kan onthou, Lutz was op sy dag, so 'n dekade of wat gelede, die produkhoof by General Motors. Lutz se maatskappy, Humvee Export, bou die H1 Hummer by hul aanleg in Michigan, waarna dit na China ver­skeep word.
Sê die een baadjiedraer: “Dis ongelooflik. Daar is net hierdie groot mark in China vir mense wat pret wil hê teen 10 kilometer per uur.” Klink vir Knormoer na die bouproses van die Groot Muur.
Sit hom in 'top'
Terwyl Knormoer nog ril by die gedagte dat 'n Jeep vandag met nege ratte toegerus is, sien hy Volkswagen het inderdaad aan 'n nuwe ratkas gewerk wat jou tien keuses sou bied.
Ja, sou bied, want die Duitsers het intussen van hul planne afgesien. Die ding werk só. In die ou bedeling (lees: voor Dieselgate) was die mantra by die maatskappy “groter is beter”. Onthou die Bugatti Veyron?
Dit was onder hierdie virtuele leuse dat die witjasse toe aangesê is om 'n nuwe outomatiese ratkas te ontwerp met tien ratte. Planne was inderdaad glo redelik ver gevorder. Die idee was om die groep se bestaande sewegang-DSG-ratkas te neem, die eerste twee ratte uit te haal en met korter ratte te voorsien.
Dit sou plek skep vir 'n verdere twee ratte aan die boonste end. Daarna moes nog net een ekstra rat bygevoeg word. Die sewegang-'kas word tans in die VW-groep se klein gesinsmotors ingespan, soos die Polo en Golf. Die korter eerste ratte sou beter versnelling bied, is onder meer gesê.
Maar nou is daar 'n nuwe direksie, en die fokus is al hoe meer op elektriese voertuie, waarvan die hope wringkrag met die wegtrek beskikbaar nie korter ratte nodig het nie.
Knormoer is net verlig, want sover hou hy telling met sy vingers waar hy in die ghêrs is. En as ons bokant tien gaan draai, gaan dinge lol. Kyk, Ma, geen drade
Soos so baie ander dinge in die lewe maak tegnologie ons lewe net daardie raps gemakliker.
Die volgende voordeel van tegnologie is dat dit aanhou makliker word. Die viniel-langspeelplaat het plek gemaak vir die CD-skyf. Die CD vir die iPod. Die iPod vir die USB-stokkie. Kry die idee?
Deesdae hoef jy nie meer jou elektriese motor saans by die muur in te prop nie. Jy parkeer hom net bo-oor 'n plat matjie. Wel, dis nie enige matjie nie. BMW se nuwe 530e – die groen-model in die gesin – het hierdie funksionaliteit. Laat lê die spesiale mat in die middel van die motorhuis se vloer, en parkeer jou Beemer wydsbeen daaroor. En siedaar, jou ryding se pap battery is oor vier ure volgetjaarts. Sonder 'n draad, kabel of knoppie in die pad.
Knormoer hou sommer baie van hierdie idee. Hy dink daar is 'n hele paar van ons plaaslike rugbyspelers wat ons saans so wydsbeen oor die matjie kan laat staan, so pap is hulle deesdae. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!