Tjek in die pos, sê Hage
Pres. Hage Geingob het gister by Staatshuis oor onder meer skuld, die SME Bank en grond gepraat.
Augetto Graig
Pres. Hage Geingob het gister gesê die regering is “innig spyt” oor 'n hoop agterstallige rekeninge wat nie betaal is nie en het sy “persoonlike versekering” gegee dat al dié skuld teen die einde van Augustus betaal sal wees.
“Ons verstaan die ernstige uitwerking wat dit op sakebedrywighede, veral op ondernemings van klein- en mediumgrootte, gehad het. Ons het empatie met dié besighede wat weens die ekonomiese verlangsaming moes toemaak en werknemers wat hul werk weens dié sluitings verloor het,” het Geingob by Staatshuis gesê.
Rekeninge het vanweë swak belastinginvordering en die trae ekonomie agterstallig geraak, sê Geingob. In vanjaar se begroting moes N$1,7 miljard opsy gesit word vir rekeninge wat verlede jaar reeds betaal moes wees. Intussen is nóg sowat N$2 miljard se agterstallige rekeninge in die regering se boeke opgespoor.
Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, sê die Kabinet het besluit om N$2,2 miljard vir die delging van agterstallige skuld beskikbaar te stel. Voorts is N$3 miljard gevind om vir groot infrastruktuurprojekte te betaal, wat meer as verwag gekos het.
SME Bank
Geingob het aantygings ontken dat hy “stil” was oor sekere sake van beweerde korrupsie en nie daadwerklik opgetree het nie. Tydens sy staatsrede was die kwessie van die SME Bank sub-judice en kon hy nie in detail daarop kommentaar lewer nie, het hy gesê.
Die regering het egter nie ingegryp en die Bank of Namibia (BoN) probeer verhoed om teen die SME Bank op te tree nie, sê Geingob. “Ons het hulle (BoN) egter om meer tyd gevra om ons in staat te stel om die saak met ons politieke eweknieë in Suid-Afrika en Zimbabwe op te neem,” het hy gesê.
“Dit is jammer dat die bank sedertdien voorlopig gelikwideer is en gewone Namibiërs hul werk verloor het. Hul verlies raak ons almal direk en indirek,” het Geingob gesê.
Die SME Bank was níé 'n “Hage-projek” soos sommige wil voorgee nie, het hy beklemtoon.
Dit was 'n kabinetsbesluit om die voormalige kredietwaarborgskema in dié bank te omskep. As die destydse minister van handel en nywerheid het hy bloot dié besluit uitgevoer, sê Geingob.
Hy het ook na voortgaande en nuwe sake van beweerde korrupsie – Avid, Offshore Development Company en die Staatspensioenfonds (GIPF) se ontwikkelskapitaalportefeulje – verwys en gesê dit is ondersoek of word ondersoek. Oor bewerings van wanpraktyke rakende die Kora-musiektoekennings en Namdia sê Geingob dit word deur die minister van staatsondernemings ondersoek.
“Stappe is gedoen en ek is dus nie stil nie,” sê Geingob.
Grond
Die Namibiese Forum vir Nie-regeringsorganisasies (Nangof) het in 'n brief aan Geingob gesê hulle is bekommerd dat daar nie genoeg tyd vir voldoende gesprekke voor die beplande nasionale grondkonferensie later vanjaar is nie.
Boonop beplan die Landless People's Movement 'n parallelle konferensie in September waar grond ook 'n onderwerp sal wees.
Geingob sê dit mag dalk meer doeltreffend wees vir alle gesprekke om voor die nasionale grondkonferensie afgehandel te wees. Die kwessie sal dalk ná gesprekke met belangehebbers en veral Nangof weer in oënskou geneem word, sê hy.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie