Tjekkie beloon 'n 'Muirse' swaar vis

Visvang
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die jaarlikse Henties Visfees het die afgelope naweek sy gebruiklike kwota verrassings gelewer, maar soos gewoonlik was die visvangkompetisie die spil waarom alles vir die meeste van die besoekers aan die kus gedraai het.

Met die rowwe water en seetoestande wat Saterdag geheers het, was die vis wat aan wal gebring is, maar meestal kleinerig en min in vergelyking met vorige jare se vangste. Selfs die wengaljoen kon gemaklik tussen die steenbrasse die eerste plek ingeneem het.

Leon Krause van Leon's Tackle Shop op Hentiesbaai het aan Republikein vertel dat die swaarste steenbras van 11.38 kg wat aan Patrick Muir se aas gaan proe het, werklik 'n gelukskoot en 'n “rondloper” was.

“Daar het baie mooi galjoene uitgekom; daar was seker 'n stuk of vyftien van hulle wat meer as 1.5 kg geweeg het. En die ouens weet as hulle 'n galjoentjie van 1.5 kg en meer uitgebring het, is dit 'n mooi vis. Die water was rof en daarom was die groot visse so skaars en die galjoen redelik volop,” het Krause verduidelik.

Slegs een baber is ingeweeg en in die kabeljou-, steenbras-, galjoen- en dassie-afdelings is slegs twee pryse uitgeloof. Nie een leervis of 'n elf is by die roofvisafdeling gevang nie.

Die algehele wenner in die afdeling vir eetbare vis was Patrick Muir se steenbras wat die skaal op 11.38 kilogram laat kreun het om 'n ewe gewigtige tjek van N$10 00 te bank. Kort op Muir se hakke in die tweede plek is Allen Langenstrassen se kabeljou van 3.79 kg wat N$6 000 aan hom besorg het.

In die kabeljou-afdeling het Nicky Nieuwoudt se vis met 2.72 kg die eerste prys net-net voor Annelien Langenstrassen se vangs van 2.565 kg weggeraap. Nieuwoudt se beloning van N$4 000 is nie te versmaai nie en Langenstrassen se N$2 000 is ewe handig vir haar moeite.

By die steenbrasse spog Willem Oberholzer met N$4 000 in die eerste posisie nadat sy vis (2.225 kg) JP Visser se grootste (1.94 kg, N$2 000) oorskadu het.

Barnard Byl trek 'n knewel van 'n galjoen uit om met 2.325 kg die eerste plek in te neem en N$4 000 in sy beursie te steek, terwyl Wentzel Smal tweede (N$2 000) met sy vis van 2.095 kg is.

Ene Bertrum (geen van aan organiseerders verskaf nie) se dassie (1.39 kg) besorg aan hom die eerste plek asook N$4 000. Hier was Eddie Olivier tweede met 'n vis van 'n paar gram ligter (1.35) wat hom N$2 000 ryker maak.

Liaan de Jager se baber van 645 gram was die enigste inskrywing en N$1 000 is aan hom vir sy moeite besorg.

Om die speelveld gelyk te maak, kon elke hengelaar net een vis inskryf. Muir kon byvoorbeeld nie sy kabeljou vir die swaarste vis inskryf én dit by die kabeljou-afdeling herhaal nie.

- Bykomende inligting Adolf Kaure

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!