Tjiuee en Wian beste van die jaar

Die spelers se keuses as speler van die jaar beklink elkeen ’n prys danksy die Namibië Brouerye.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die slot Tjiuee Uanivi en flank Wian Conradie is gesamentlik as die Spelers se Speler van die jaar bekroon ná afloop van Namibië se 2019 internasionale rugbyseisoen.
Die twee voorspelers met die onblusbare werkvermoë het elkeen nege stemme van hul spanmaats gekry, uit die 36 spelers wat die land verlede jaar op toetsvlak verteenwoordig het.
Hulle is gevolg deur die agtsteman Janco Venter met vier stemme, terwyl daar twee stemme elk vir senter JC Greyling, losskakel Helarius Kisting en haker Torsten van Jaarsveld was.
Dié toekenning verteenwoordig die eerste keer in jare dat uitblinkers vir die nasionale span amptelike erkenning kry, nadat David Philander die laaste keer in 2009 as Namibiese rugbyspeler van die jaar bekroon is.
“Beide hierdie spelers is waardige wenners wat in die afgelope seisoen werklik uitgestaan het,” sê die president van die Namibië Rugby-unie, mnr. Corrie Mensah, wat elke toets bygewoon het.
“By die Nasiebeker in Uruguay het ons ganse spelersgroep hul vlak van prestasie geweldig gelig, gemeet aan die sukkelende situasie waarin ons ná die provinsiale SuperSport-reeks was. Dit het aanleiding gegee tot ons dramatiese en geskiedkundige eerste oorwinning teen Uruguay.
“Hierdie momentum het oorgespoel na die Wêreldbeker, ondanks die feit dat ons aanvanklik nog bekommerd oor die skouerbesering van ons toerkaptein Johan Deysel was.
“Tjiuee het ingetree as kaptein teen Italië en die Springbokke en het hom goed van sy taak gekwyt. Hy was deurentyd ’n toring van krag wat voorlangs leiding gegee het. Hy is vir ons ’n belangrike speler en ek is baie bly dat hy so goed deurgekom het.
“Ek is trots op elke speler se bydrae – vernaam die jong spelers wat baie belofte toon om in die komende jare nog meer tot ons nasionale span by te dra.”
Vreemd genoeg het Namibië in die Wêreldbekerjaar 2019 net vyf toetse gespeel – teen Uruguay en Rusland by die Nasiebekertoernooi in Montevideo, gevolg deur die Wêreldbekertoernooi se drie wedstryde teen Italië, Suid-Afrika en Nieu-Seeland.
Dit was minder as die voorafgaande twee jare (agt en nege in 2017 en 2018), grootliks omdat Rugby Afrika se kompetisie verlede jaar nie plaasgevind het nie, terwyl Tifoon Hagibis in Japan ook veroorsaak het dat die Wêreldbeker-ontmoeting met Kanada gekanselleer is.
As hoofborg van Namibiese rugby het die Namibië Brouerye (NBL) toegetree en bevestig dat Uanivi en Conradie vir hul besondere prestasie elkeen met ’n naweek vir twee by óf Mokuti Lodge óf die Strand Hotel beloon word.
Die 25-jarige Conradie, wat in November by sy nuwe klub Doncaster Knights aangesluit het, se fisieke inklimspel het onder vriend en vyand respek afgedwing, hoewel sy vaardige balverspreiding in kontak ook ’n onderskatte wapen op die aanval is.
Hy het uit Engeland soos volg gereageer: “Ek moet sê ek het dit glad nie verwag nie, maar ek is regtig baie geëerd om dié prestasie met Tjiuee te kan deel.
“Dis vir my ’n groot eer om elke keer vir my land te kan uitdraf en veral by ’n Wêreldbeker. Daarom sal ek elke keer my hart uitspeel as ek daai trui oor my kop trek en so sal ek hoop dat elke speler wat daai geleentheid kry dieselfde sal doen!
“Alle eer aan God – sonder Hom sou ek dit nooit kon doen nie. Ek sê ook dankie aan al die goeie spelers en die afrigtingspan met wie ek kon werk, want sonder hulle sou dit glad nie moontlik kon wees nie.”
Uanivi (29), wat die volle 80 minute van elke toets verlede jaar gespeel het, is tans gelyk met Nico Esterhuyse as die Namibiese slot wat die meeste toetse begin het (31).
Uanivi is ook tans oorsee, want hy het sedert die Wêreldbeker by die Franse klub Massy begin speel.
Hy sê: “Ek is geëerd; dit het altyd waarde wanneer so ’n toekenning van die spelers af kom. Op my beurt voel ek dis belangrik om elkeen geluk te wens dat die span deurgaans ten volle ’n eenheid gebly het en so goed op die veld presteer het in wat moontlik sielkundig ons moeilikste jaar was. Die uitdaging is nou om op hierdie grondslag voort te bou.”

ANDER TOEKENNINGS
• Namibië Sewesspeler van die jaar: Adriaan Booysen.
Die nasionale afrigter, David Philander, motiveer sy aanwysing soos volg: “Ons het net twee toernooie gehad, so die uitblinker was nie so moeilik om te kies nie.
“Adriaan het van die Wêreldbeker teruggekeer en onmiddellik voluit by die sewes kom oefen. Sy debuuttoernooi was die kontinentale kwalifisering vir die Olimpiese Spele, waar hy ons speler van die toernooi was met sewe drieë. Sy kragtige lopies en veggees was fantasties en hy het dadelik tuis gelyk in die sewesspel.”
• Beste speler van die 2019 Super¬Sport-uitdaagreeks: Jean-Claud (JC) Winkler.
Phil Davies, afrigter van die Windhoek Draught Welwitschias, sê: “Vir my was dit JC Winkler, die skrum¬skakel. Hy was baie ongelukkig om nie die Wêreldbeker-groep te haal nie. Hy het ’n puik taak vir die span verrig en is ’n intelligente speler.”
• Namibië o.20-speler van die jaar: Jacques Theron.
Johan Diergaardt, afrigter van die o.20’s verlede jaar, sê: “Jacques Theron, ons skrumskakel, was baie hardwerkend. Hy het in elke wedstryd alles gegee en het ook goeie oordeel aan die dag gelê.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer