TLU SA wil met banke praat oor boere se penarie
TLU SA wil met banke praat oor boere se penarie

TLU SA wil met banke praat oor boere se penarie

Klimaatstoestande maak die situasie vir boere in Suid-Afrika onhoudbaar en hul skuld beloop nagenoeg N$200 miljoen.
Sarel van der Walt - Die landbou-organisasie TLU SA wil met die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) praat oor die “gure en langdurige finansiële omstandighede” waaronder baie boere gebuk gaan.

Mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA, sê in ’n verklaring dié organisasie het reeds só ’n versoek tot Basa gerig.

Meintjes sê TLU SA is baie bekommerd oor die volhoubaarheid van landbouproduksie in die land.

“Ons is baie bekommerd oor die gure en langdurige finansiële omstandighede waaronder heelwat van ons landbouers gebuk gaan.



“Daar is die laaste paar jaar in veral sekere distrikte deurlopend uiterste klimatologiese omstandighede wat die winsgewendheid van die produsent onder hewige druk plaas.”

Meintjes sê die land staan van die beste boere in die wêreld af weens dié omstandighede wat heeltemal buite hul beheer is.

“Die manier waarop landbou gestruktureer is, bring mee dat die risiko van die produksieproses grootliks rondom die primêre produsent (die boer) gesentreer is.

“Hulle moet hul grond as sekuriteit beskikbaar stel om finansiering te kry. Indien daar weens byvoorbeeld droogte nie ’n opbrengs is nie, dra die boere alleen die risiko,” sê Meintjes.

“Ná ’n paar jaar se misoeste word die situasie vir boere onhoudbaar. Hulle bly in die skuld by die verskillende finansiële instellings en insetmaatskappye.”

Meintjes sê TLU SA doen ’n beroep op Basa om met die organisasie in gesprek te tree en sodoende die produsente se oorlewing in moeilike tye te bespreek.

“TLU SA meen die hele waardeketting moet op ’n ander wyse in die risiko deel,” sê Meintjes.

“In goeie tye kan só ’n ooreenkoms tot die voordeel van elke skakel in die produksieproses strek, terwyl dit in moeilike tye sal help om die landbouer in produksie te hou.”

Landbouweekblad het verlede maand berig mnr. Pierre Venter, hoofbestuurder van menslike nedersettings by Basa, het gesê boere se skuld by die groot kommersiële banke, wat hulle op die landbou toespits, het einde 2018 altesaam R148,3 miljoen beloop.

“Boerderyskuld beloop volgens dokumente van Basa en die Land Bank sowat R200 miljoen. Dus lyk dit asof kommersiële banke tot 74% van dié skuld dra,” het Landbouweekblad geskryf.

Op sy beurt sê Agri SA die hoop uitgespreek dat mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, in sy begrotingsrede verlede week onder meer “doeltreffende en vinnige direkte hulp” aan boere in droogtegeteisterde gebiede sou bied.

“Landboubesighede kan as agente optree om droogteverligting te help versprei. Dit kan ’n openbare ouditproses volg om deursigtigheid te verseker en moontlike korrupsie te verminder.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!