Toekenning van grond op Groot Aub gestop
Toekenning van grond op Groot Aub gestop

Toekenning van grond op Groot Aub gestop

NAMPA
Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, me. Sophia Shaningwa, het Saterdag die toekenning van grond en die oprigting van nuwe behuisingstrukture op Groot Aub met onmiddellike effek stopgesit. Groot Aub is sowat 50 km suidoos van Windhoek in die Khomasstreek geleë en val onder die Khomas- landelike kiesafdeling.
Die dorp se bevolking het die afgelope paar jaar van 10 000 tot 20 000 gestyg. Die minister se besluit volg op ’n gemeenskapsvergadering waar sy gehoor het ongemagtigde gemeenskapslede en tradisionele leiers ken grond onregmatig toe aan mense van Windhoek en Rehoboth.
Die vergadering, wat vyf ure geduur het, is ook deur beamptes van die Khomasstreeksraad, senior beamptes van die Namibiese Polisie en die stadspolisie, sowel as tradisionele leiers bygewoon.
“Van vandag af word niemand toegelaat om grond toe te ken of te versprei of nuwe behuisingstrukture op Groot Aub op te rig, alvorens ’n behoorlike administrasie nie opgestel is om die sake van die nedersetting te hanteer nie,” het Shaningwa gesê.
Alle huise en sinkhuise wat op hoofriool- en grootmaatwaterpyplyne opgerig is, sal sonder enige vorm van vergoeding aan die eienaars vernietig word.
Die minister het voorts opdrag gegee aan polisiebeamptes verantwoordelik vir die Khomasstreek onder komm. Sylvanus Nghishidimbwa, om wet en orde te handhaaf.
Beamptes van beide die Khomasstreeksraad en die Khomas- landelike kiesafdeling sal alle eiendomme, huise en sinkhuise in die nedersetting binne die volgende paar weke begin registreer.
Shaningwa het voorts ’n beroep op inwoners gedoen om mekaar te respekteer en hulle daarvan te weerhou om alkohol en dwelms te misbruik.
“Mense hou hulle nie meer besig met produktiewe aktiwiteite nie en sit en drink net by sjebeens. Ons sal nooit Groot Aub kan ontwikkel as dit so voortgaan nie. Dit moet ophou.”
Sy het voorts bekend gemaak dat haar ministerie ’n werkswinkel in Windhoek binne die volgende paar weke beplan vir alle rolspelers om probleme op Groot Aub te takel en om toe te sien dat dit tot ’n dorp met behoorlike administrasie verklaar word. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer