Toekenning van plase onder vergrootglas
Toekenning van plase onder vergrootglas

Toekenning van plase onder vergrootglas

Klagtes oor baantjies vir boeties in die toekenning van hervestigingsplase gaan deur die ombudsman ondersoek word.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - ’n Omvattende ondersoek na wie voordeel trek uit die toekenning van hervestigingsplase en of die proses regverdig en deursigtig is, gaan deur die kantoor van die ombudsman aangepak word.

Adv. John Walters, Namibië se ombudsman, het dié ondersoek gister bevestig nadat dit bekend geword het die toekenning van ’n hervestigingsplaas aan adv. Vicki Erenstein ya Toivo en ander lede van die elite is in sy visier.

Die plaas van 2 376 hektaar is in Maart deur die ministerie van grondhervorming aan ya Toivo toegeken. Dit is ’n deel van die plaas Joyce (nommer 198) in die Omahekestreek.

Ya Toivo, weduwee van die nasionale held mnr. Andimba Toivo ya Toivo en spesiale raadgewer van die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, het aan Republikein gesê haar oorlede man het ’n hervestigingsplaas naby Omaruru gehad wat nie geskik vir boerdery was nie. Dit is waarom hulle vir ’n ander plaas aansoek gedoen het.

Dié toekenning het tot fel openbare kritiek gelei. Die grondaktivis mnr. Job Amupanda, leier van die Regstellende Herposisioneringsgroep (AR), het ’n klag oor dié besluit by die ombudsman ingedien.

Sy kantoor het Amupanda Woensdag in kennis gestel dat ’n “sistemiese ondersoek” na klagtes oor die beweerde onregverdige toekenning van plase deur die ministerie van grondhervorming gedoen gaan word.

Amupanda se klagte sal deel van hierdie ondersoek vorm.

“Dit het reeds tydens ons openbare verhore oor rassisme en diskriminasie (in 2017) geblyk daar word gediskrimineer in die toekenning van plase en dat net sekere mense grond kry,” het Walters gister aan Republikein gesê.

Wat die Ya Toivo-plaas betref, sê hy sy kantoor het in Januarie ’n klag ontvang dat die besluite oor haar en ander begunstigdes se plase nie regverdig was nie.

“Ek was in Januarie nog met vakansie toe ons gevra is om in te gryp, aangesien daar vermoed is die hervestigingskomitee in die Omahekestreek gaan sekere mense bevoordeel wanneer die lede vergader om aanbevelings aan die nasionale komitee te maak.

“Ek het met die goewerneur (mnr. Festus Ueitele) gepraat en gevra dat verteenwoordigers van my kantoor toegelaat word om die komitee se vergadering by te woon. Sy woorde aan my was ‘ombudsman, daar is wetgewing wat jou verhoed’,” het Walters gister vertel.

Die nuus oor wie die mense is wat plase gekry het, het eers twee maande later bekend geword.

Benewens Ya Toivo het die ministerie ook hervestigingsplase toegeken aan hoofman Sam Kambazembi van die Kambazembi- tradisionele owerheid, me. Angelina Sinvula, wat by die ministerie van finansies werk, en die hoof van grondhervestiging in die Omahekestreek, me. Mclesia Mbaisa.

Dit het opnuut tot woede onder Namibiërs gelei en die regering is in die sosiale media daarvan beskuldig dat hy lede van die elite bevoordeel.

Walters sê sy kantoor gaan nie fokus op die individuele gevalle waaroor klagtes ontvang is nie, maar gaan omvattend en “sistemies” na die hervestigingsproses kyk.

“Ons het reeds ’n lys van al die begunstigdes by die ministerie aangevra,” sê hy.

Hy sê die doel van die ondersoek is ook om tydens die nasionale grondkonferensie later vanjaar aanbevelings te maak oor hoe die proses en die kriteria ter wille van regverdigheid en deursigtigheid verbeter kan word.

Ueitele kon gister nie telefonies vir kommentaar oor die Januarie-vergadering bereik word nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!