Toekoms van 77 Air Nam-vlieu00ebniers onseker
Toekoms van 77 Air Nam-vlieu00ebniers onseker

Toekoms van 77 Air Nam-vlieëniers onseker

’n Terugkeer na aktiewe diens sal vir vlieëniers allesbehalwe eenvoudig wees.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Altesaam 77 vlieëniers van Air Namibia se toekoms is onseker.

Boonop het bykans 75% van die redery se vlieëniers se lisensies verval omdat hulle maande laas weens die coronapandemie gevlieg het, het ’n vlieënier van Air Namibia en president van die Namibië Vereniging vir Lugrederyvlieëniers, mnr. Heino Jakob, gister tydens ’n onderhoud in Kletskompas gesê.

Volgens hom is die opsie om vir ’n ander lugredery te vlieg ook van die tafel, “want werksgeleenthede is tans nie geredelik in die lugvaartbedryf beskikbaar nie”.

Vir die oorwig vlieëniers wie se lisensies verval het, sê Jakob is dit bykans onmoontlik om suksesvol vir ’n ander werk aansoek te doen.

“Selfs as jy gelukkig is om ’n werk te kry, sou dit beteken jy moet Namibië, jou vriende, familie en jou kultuur agterlaat met ’n uitsettingsbevel in jou hand,” sê Jakob.

“Die 77 professionele Namibiese lugrederyvlieëniers sal moontlik oorbodig en sonder hoop wees om hul lugvaartloopbaan voort te sit. Vir die meeste van ons is dit nie net ’n werk nie, maar ’n leefstyl.”

Oor die negatiewe gevolge van die skielike verwydering van die nasionale lugredery op verskeie sektore in die ekonomie is, sê Jakob Air Namibia het 4 550 direkte en indirekte werksgeleenthede ondersteun.

“Volgens ’n 2017-verslag op grond van die 2015-’16 finansiële jaar deur Oxford Economics oor Air Namibia se impak op die ekonomie, het die nasionale lugredery belastinginkomste van N$316 miljoen ingebring en N$704 miljoen tot die bruto binnelandse produk bygedra,” sê Jakob.

Hy sê wêreldwyd is bewys dat sodra ’n nasionale lugredery gesluit het, dit reusepogings en finansiële beleggings verg om ’n nuwe lugredery weer aan die gang te kry.

Jakob voorspel dat dit vyf jaar of langer sal neem om ’n nuwe lugredery in Namibië te vestig, indien ooit.

“As ons ooit weer ’n nuwe lugredery sal begin, sal die meeste van die vlieëniers, grondpersoneel en kajuitbemanning ’n ander beroepsrigting ingeslaan het,” verduidelik Jakob.

Napa hou voet by stuk die sluiting van Air Namibia is nie in die beste belang van die land nie.

Oor die toekoms van die lugvaartbedryf wêreldwyd, sê Jakob die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) voorspel sake sal nie voor 2024 weer na normaal terugkeer nie.

VLIEGLISENSIES IN KAÏRO HERNU

Wat die vervalde lisensies betref, het die vlieëniers ’n voorstel by die regering ingedien om hulle te help om hul lisensies te hernu wat nie verlede jaar tydens die inperkingstyd en met geslote grense kon realiseer nie.

“Die meeste van ons het ’n jaar of meer laas gevlieg,” sê Jakob. Sy laaste vlug was in Mei verlede jaar en in 2020 het hy slegs 50 ure gevlieg.

Vir die vlieëniers om hul lisensie hernu te kry, moet hulle weer opleiding by ’n geakkrediteerde opleidingsinstelling ondergaan.

Volgens Jakob is opleiding in die Egiptiese hoofstad Kaïro goedkoper as in Suid-Afrika.

“Op die oomblik is ’n groep vlieëniers in Kairo besig is om hul vlieglisensies te hernu en hulle sal dan as instrukteurs weer opleiding verskaf,” sê Jakob.

Buiten die twee A330’s, het Air Namibia ook twee Airbus A319-100’s wat ingevolge ’n verhuringsooreenkoms tot hul oorspronklike toestand herstel en aan die eienaars terugbesorg moet word.

Volgens minister Leon Jooste van staatsondernemings sal die A330’s na Malta geneem word om daar herstelwerk te ondergaan.

Dit is een van die bestemmings in Europa waar die eienaar van die A330’s Air Lease 82 aangedui het die vliegtuie aan hom terugbesorg kan word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!