Toekoms van voedselproduksie in Berlyn bespreek
Dit word al hoe belangriker vir lande om selfvoorsienend voedsel te produseer, het ‘n landbouprofessor in Duitsland oor die toekoms van landbou gesê.
Deon Schlechter in Berlyn - Die rol van die landbousektor gaan in die onmiddellike toekoms toeneem op plaaslike-, streeks- en ’n globale skaal.
Dit beteken dat Namibië en Duitsland se reeds sterk bilaterale bande verder verstewig sal word. Duitsland voer tans sowat 90,8 miljoen euro’s se handelsprodukte na Namibië uit, terwyl laasgenoemde sowat 8 miljoen euro se produkte na Duitsland uitvoer.
Onder die vaandel van die Gesellshaft für Internationale Zusammenarbeit (GIZ) in Duitsland se reeks lesings in die hoofstad Berlyn oor die toekoms van landbou, het prof. Rainer Langosch, dekaan van die fakulteit landbouwetenskap aan die Neubrandenburg Universiteit, met hierdie woorde vertroosting gebring vir ‘n Namibiese landbougemeenskap wat op sy knieë is vanweë die knellende drooge.
Langosch het aan Die Boer faktore uitgelig wat ‘n rol speel in die Duitse landbousektor en kosvoorsiening, en gesê die toekoms gaan geslyp word in terme van verhoudinge tussen lande en rolspelers en dit gaan ‘n beduidende uitwerking op ekonomieë hê.
“Selfvoorsiening gaan belangriker as ooit wees,” het hy benadruk. Hy het uitgewys dat Duitsland reeds aartappels teen ’n tempo van 147% van die totale huishoudelike gebruik produseer, terwyl die persentasie vir vars suiwelprodukte 124% is. Duitsland oorskrei ook sy kaasproduksie (120%), varkvleis (118%), graangewasse (110%), hoenderproduksie (110%), beesvleis en lamvleis (106%). Verder voorsien Duitsland in 72% van sy eierbehoeftes, 43% van sy wynbehoeftes, 36% van sy behoefte aan groente en 22% van sy vrugtebehoeftes.
Duitsland spog al met 34 800 plase wat herwinbare energie genereer en 23 200 plase wat aktief deelneem aan woud- en houtbewaringsprojekte. Meer as 10 300 plase is betrokke by regstreekse bemarking. Bogenoemde is almal bykomende bronne van inkomste as voorbeeld van hoe gediversifiseer die bedryf reeds is, sê hy.
Hy het ook uitgewys dat al minder plase al hoe meer grond doeltreffend bestuur. As voorbeeld het hy daarop gewys dat 836 500 plase in 1980 net 14,5 hektaar gemiddeld bestuur het, terwyl net 275 400 plase nou gemiddeld 60,6 hektaar bestuur.
Daarteenoor het die produksie per hektaar vir graan opgeskiet van 2,58 ton in 1950, tot amper 8 ton per hektaar verlede jaar.
Aartappelopbrengste het in dieselfde tydperk byna verdubbel van 24 400 kg tot 44 440 kg en melkproduksie per koei het vermeerder vanaf 2 450 l tot 7 745 l per jaar. Eierproduksie het gestyg van 120 eiers per hen tot 297 eiers per hen per jaar.
TOEKOMS
Oor die toekoms het hy gesê boere se besluitnemingsproses sal bepaal word deur tegniese, sosiale-, politiese en ekonomiese faktore.
“In 1850 het voedsel en drank die ondersteuning van 61% van verbruikers geniet. Nou is dit net sowat 14%,” het hy opgemerk.
“Die snelgroeinde wêreldbevolking moet gevoer word en die immergroeiende vraag na hoëgehalte voedsel gaan hand aan hand met beter lewensverwagtinge. Omgewingsbewaring en klimaatsverandering sal die hooftemas op die aganda van landbou bly en die betekenis van die sektor sal verder benadruk word.”
Hy het bygevoeg dat die bestedingsvolumes in landbou steeds groei en ekonomieë is sterk aandrywers vir strukturele veranderinge. Die organiseringsproses volg op die tegniese proses en die tegniese proses genoodsaak verdere strukturele veranderinge deur produktiwiteit te verhoog.
“Landbou is geïntegreer in internasionale voorsiening. Een boer voed 145 verbruikers. Maar boere moet die logika en meganismes van die totale waardeketting verstaan. Boere moet goeie boere wees. Maar meer nog, hulle moet uitstekende bestuurders wees.”
Oor uitdagings het hy gesê surplusse van bemestingstowwe moet beveg word en kennis moet geneem word dat plantbeskerming besig is om te verander.
“Dieregesondheid is kardinaal, en politieke besluite en wetsontwerpe moet sorg vir sterk en voorkomende regulasies om klimaatsverandering te stuit.
“Die toekoms van landbou is in ons almal se hande.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie