Toep kan gestremdes help
Toep kan gestremdes help

Toep kan gestremdes help

Augetto Graig
Augetto Graig – “Ek moedig elke Namibiër aan om ’n spesiale poging aan te wend om ’n kampvegter vir gestremde mense te word,” het die adjunkminister vir gestremdheidsaangeleenthede in die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, me. Alexia Manombe-Ncube, Vrydag gesê.

Sy was die hoofspreker by NamPower se geleentheid waar dié instansie hul ondersteuning aan Possible Trading, ’n plaaslike maatskappy wat die toep Connect Africa ontwikkel, aangekondig het.

Connect Africa is ’n toep wat geskrewe woorde na gesproke taal oorskakel, of gesproke taal na geskrewe woorde.

Possible Trading se mnr. Timoteus Nangombe, die gehoorgestremde me. Ester Negumbo Kumbu en die siggestremde me. Pelgrinna Shimanu Ndumba het die werking van die toep gedemonstreer.

Ndumba het gesê toegang tot inligting kan gestremde mense laat uitblink en hulle die kans gun om tot die ekonomie by te dra.

“Ons sal werk skep vir ander gestremde mense,” het sy gesê.

NamPower se skenking behels twee skootrekenaars, twee videoprojektors, drie tabletrekenaars, een rekenaar en een kamera ter waarde van ongeveer N$70 000.

“Tegnologie is goed wanneer dit mense bymekaarbring. Met hierdie inisiatief sal ons begunstigdes – die siggestremdes en die gehoorgestremdes – ’n gevoel van aanvaarding beleef. Ons glo hierdie toerusting sal begunstigdes bemagtig om kennis en inligting in te samel en te deel. Kennis is krag,” het me. Otilie Mujoro, hoof van die NamPower-stigting gesê.

Die adjunkdirekteur van navorsing en vernuwing in die ministerie van hoër onderwys, tegnologie en vernuwing, dr. Nhlanhla Lupahla, het uitgebrei oor die nasionale stelsel van vernuwing wat fokus op die verbinding tussen deelnemers soos privaat onderneminings, universiteite en openbare navorsingsinstansies.

Hy het NamPower bedank vir hul ondersteuning aan jong Namibiese innoveerders.

“Sodoende bied julle nie net hoop aan baie siggestremde en gehoorgestremde kinders daar buite nie, maar julle voldoen ook aan die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) se industrialisasiestrategie, om werk vir jong mense te skep in lyn met die tema van bevordering van infrastruktuurontwikkeling en jeugbemagtiging,” het Lupahla gesê.

Die voorsitter van die Namibiese Nasionale Vereniging van die dowes (NNAD), me. Beata Armas, het deur middel van ’n tolk beklemtoon dat die toep nie ’n tolk kan vervang nie, veral nie vir gehoorgestremde mense nie.

Baie gehoorgestremdes kan nie lees nie, dus help die toep hulle nie, sê sy.

Die toep kan ook nie ’n lewende gesprek met ’n tolk vervang nie, dring sy aan.

“Ons leuse is steeds, niks oor ons sonder ons. So baie van julle het voortgegaan en vir ons besluit sonder om ons deel te maak van onderhandeling om raad vir die beste moontlike uitkoms te gee. Wanneer ons finansieringsversoeke vir die bevordering van tolke of ander gebaretaalopleiding rig, is baie van julle nie gewillig om ons te ondersteun nie,” sê sy.

Die toep kan tans glad nie gebaretaal vertaal of verwerk nie, maar Nangombe sê dit is steeds net ’n prototipe en hulle werk daaraan om dit ook as ’n funksie in te sluit.

Verder wil hulle ook verseker die toep kan inheemse tale verwerk, prentjies beskryf, en van lyn gebruik word.
[email protected]

FOTO
Possible Trading se mnr. Timoteus Nangombe en mee. Pelgrinna Shimanu Ndumba en Ester Negumbo Kumbu wys hoe hul toep werk. Foto Augetto Graig

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!