Toergidse trek aan kortste end
Toergidse trek aan kortste end

Toergidse trek aan kortste end

Die voorsitter van die Ontluikende Toerisme-ondernemingsvereniging het tog hoop vir die toerismebedryf.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Die Ontluikende Toerisme-ondernemingsvereniging (Etea) sê hul lede het geen ondersteuning tydens die Covid-19-pandemie ontvang nie.

“Daar was geen ekonomiese veiligheidsnet vir ons lede tydens die pandemie nie,” het die voorsitter van Etea en 'n vryskuttoergids, mnr. Joseph Kafunda, gesê.

Hy was gister een van die sprekers by die Federasie vir Namibiese Toerisme-verenigings (Fenata) se toerismedialoogdag in Windhoek.

“Tog is daar 'n natuurlike dryfkrag om dit te oorkom, vernuwend te wees en sterker te word. Hierdie dryfkrag het daartoe gelei dat ons leiding in die toerismebedryf geneem het en voortgaan om as vereniging te groei,” het hy gesê.

Kafunda was ook gister 'n gas van Republikein se aanlyn geselsprogram, Kletskompas, waartydens hy gesê het veral toergidse is hard deur die pandemie getref.

“Toergidse, veral vryskuttoergidse is die hardste geslaan. Binne drie maande ná die uitbreek van die Covid-19-pandemie het ons ons werk verloor en geen inkomste gekry nie,” het Kafunda gesê.

“Ons het briewe geskryf en is net rondgestuur. Ons is van bakboord na stuurboord van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme na die finansministerie gestuur om vir hulppakkette aansoek te doen. Niks.

“Selfs die banke was ons nie goedgesind nie en het ons hof toe gesleep as ons nie betaal nie.”

Op die vraag hoe hulle oorleef het, het hy gesê “ons moes maar net die gordels stywer vastrek”.

Kafunda sê toerisme is 'n waardekettingbedryf: “Iemand wat gekerfde makalanipitte, water aan toeriste verkoop of spyseniering doen, is deel van hierdie waardeketting.”

Tog is hy hoopvol oor die toerismebedryf: “Kyk na nuwe bronmarkte soos binne Afrika en plaaslike toerisme, maar pryse sal gesak moet word.”

Kafunda sê Etea is eg Namibies en vir Afrika wat ontwerp is om “uit te reik na ons bure en die hele vasteland buite ons tradisionele markte”.

Volgens Kafunda is Etea gestig as 'n platform vir voorheen benadeelde Namibiërs om deel te wees van die toerismebedryf.

“Etea is outentiek en deur ons lede wil ons ons herverbind aan wat belangrik is – ons wortels, kultuur en bewaring – en dit weer deur nuwe oë sien,” het Kafunda gesê.

“Etea is ontwerp om inklusief te wees waar niemand uitgesluit voel nie. Almal is welkom om aan te sluit,” sê hy.

“Etea se boodskap is duidelik: Ons mense, ons produkte en ons stories,” beklemtoon Kafunda.

[email protected]


FOTO
Mnr. Joseph Kafunda, vryskuttoergids en voorsitter van Etea. Foto Facebook

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!