Toerisme nog in diep waters
Toerisme nog in diep waters

Toerisme nog in diep waters

Die hernude entoesiasme om ingeënt te word, sal ons red uit wat waarskynlik die moeilikste tyd vir toerisme is, het die uitvoerende hoof van HAN gesê.
Sanet de Waal
Ellanie Smit – Namibië het sedert Junie verliese van miljoene dollar gely weens kansellasies van toeriste en die nuwe reisbeperkings kan moontlik nóg uitdagings stel.

Me. Gitta Paetzold, die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), het gesê president Hage Geingob se aankondiging verlede Woensdag oor die nuwe beperkings, was te verwagte.

Geingob het aangekondig geen beweging sal tussen streke toegelaat word nie. Toeriste mag wel 'n sone vir toerismedoeleindes binnegaan as hulle 'n negatiewe PCR-toetsuitslag kan wys wanneer hulle die land binnekom.

“Ons is dankbaar die regering het tydens die aankondiging van die strenger maatreëls herhaal dat daar spesiale vergunning vir toeriste sal wees om hulle in staat te stel om met hul toere soos beplan deur Namibië, onder die bestaande openbare gesondheidsmaatreëls, voort te gaan.

“Ons is gretig om te sien dat alle owerhede en wetstoepassers, insluitend mense by padblokkades, die nodige kliëntediens en leiding aan toeriste sal bied om te verseker die paar wat nog in die land is en diegene wat in die volgende paar weke kom, 'n aangename ervaring sal hê en dit met ander deel en ons land as 'n veilige en ideale bestemming bemark,” het Paetzold gesê.

Mnr. Joseph Kafunda, die voorsitter van die Ontluikende Toerisme-ondernemingsvereniging (Etea), het sy kommer oor die impak van die nuwe regulasies op die land se toerisme uitgespreek.

“Ons moet verstaan wat die maatreëls is wat vir toerisme ingestel is. Mag ons tussen streke reis? Dit beperk jou van alle pad- en lugvervoer, daarom moet ons presies verstaan wat die pad vorentoe vir toerisme is. Ons het meer duidelikheid nodig.”



MILJOENE VERLOOR

Paetzold sê die sektor het reeds miljoene dollar in verliese gely deur die kansellasie van toeriste wat van plan was om Namibië vanaf Julie tot September te besoek.

Volgens haar sal dit baie moeilik wees om voor die einde van die jaar vir hierdie verliese te vergoed.

Kafunda meen die regering moet ook internasionaal vir die toerisme sektor baklei.

“In Julie het ek twee toere gehad, albei gekanselleer. Augustus is gekanselleer, nou het ek September en ek hoop dit sal beter wees.

“Almal verloor hoop; ons verloor huise, motors en besighede aan kollateraal. Die banke verstaan nie ons staar 'n pandemie in die gesig nie en sommige van ons het vir 'n jaar en nege maande nie gewerk nie,” het hy gesê.

Volgens Paetzold het die toerismebedryf die afgelope twee weke, met die reisbeperkings in die Khomasstreek, 'n proeflopie gehad vir wat sou kom met die strenger maatreëls.

“Hoewel ons ten volle saamstem dat sulke streng maatreëls absoluut noodsaaklik is om die toename in Covid-19-infeksie te verminder, wil ons 'n beroep op alle Namibiërs doen om die maatreëls soos sosiale afstand, die dra van maskers en higiëne, streng na te kom sodat ons die verspreiding van die virus kan hok slaan.”

Sy het gesê eers wanneer dít bereik word, kan Namibië hoop om weer as 'n veilige reisbestemming beskou te word.

“Dit tesame met hernude entoesiasme om ingeënt te word, sal ons uit waar­skynlik die moeilikste tyd vir toerisme van die afgelope 15 maande kan red.”

Intussen het die woordvoerder van Namibia Wildlife Resorts (NWR), mnr. Mufaro Nesongano, gesê dit is belangrik om te erken die huidige situasie waarin die toerismesektor hom bevind, is ongekend en die regering het in sy wysheid sy uiterste bes gedoen om die gesondheid van sy burgers te bestuur en te verseker die nasie se lewensbestaan word onder hierdie uitdagende omstandighede beskerm.

“Ons ondersteun die regering ten volle.

“Ons kliënte se Swart Vrydag-koopbewyse is tot 31 Augustus verleng. Ons glo van harte dit gee vir ons kliënte genoeg tyd om te reis.”

Hy het bygevoeg die plaaslike toerismemark was ongelooflik ondersteunend teenoor NWR se aanbiedinge gedurende hierdie tydperk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!