Toerismebedryf het ‘hoop verloor’
Besteding deur plaaslike toeriste het meer as die besoekers uit ander lande bygedra.
Ellanie Smit – Die toerismebedryf wat eens onder die voorste bydraers tot die land se fiskus was, het in 2020 alleen 27,6% van sy werksgeleenthede verloor, grootliks weens die reisbeperkings wat regerings wêreldwyd ingestel het om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan.
Dié statistiek is vervat in die nuutste Travel and Tourism Economic Impact-verslag wat deur die World Travel and Tourism Council (WTTC) vrygestel is.
Die navorsing in die verslag betrek 185 lande. Die bedryf in Namibië het gedurende 2019 sowat 111 900 mense in diens geneem, wat oor die volgende jaar tot 81 100 afgeneem het. Dit verteenwoordig sowat 11,1% van die land se werksmag en sluit werkgeleenthede deur hotelle, reisagentskappe, lugrederye en ander dienste vir vervoer van passasiers in (pendeldienste uitgesluit).
Die genoemde syfers sluit ook aktiwiteite van die restaurant- en ontspanningsbedrywe in wat direk deur toeriste ondersteun word.
In 2019 het die verslag voorspel dat die reis- en toerismebedryf in Namibië 122 200 direkte werksgeleenthede teen 2029 sou genereer en sodoende 15,7% tot die totale werksmag van die land sou bydra.
Die totale bydrae van die bedryf het egter met 41,4% tydens dié tydperk gedaal. Dit het 15,3% tot die totale ekonomie bygedra, sowat N$28,81 miljoen in 2019, terwyl die volgende jaar tot net 9,8% (N$16,87 miljoen) gekrimp het.
Besteding deur plaaslike toeriste het meer as die besoekers uit ander lande bygedra. Toeriste wat die land vir ontspanning besoek het, het ook meer bygedra as diegene wat op ’n sakebesoek was.
Volgens die verslag is geld wat deur buitelandse besoekers bygedra word, ’n sleutelkomponent van die direkte bydrae van die reis- en toerismebedryf.
Op dié front het Namibië verlede jaar N$2,3 miljoen gegenereer, wat ’n afname van 65,5% van die N$6,6 miljoen in 2019 was.
Intussen sê die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), me. Gitta Paetzold, syfers vir 2021 sal effens beter lyk omdat die toerismebedryf besig was om te herstel met grense wat weer gedurende die jaar oopgestel is.
Met reisbeperkings wat egter opnuut tydens November ingestel is, het die bedryf “hoop verloor”.
“Talle besighede soos gastehuise en gasteplase is nou in die mark, wat tot meer werksverliese lei,” het sy gesê.
Volgens haar het mense baie skepties geraak omdat toerismesyfers net begin optel het toe “een man gekom en besluit het om hierdie reisbeperkings vanweë Omicron in te stel”.
Paetzold sê die enigste manier waarop sulke verliese afgeweer kan word, is as die wêreld ophou om sulke korttermyn reisbeperkings in te stel en ophou om die “toerisme- en reisbedryf te straf”.
Volgens haar moet regulasies óf so opgestel word dat die hele wêreld dit kan uitvoer, óf dit moet in geheel gestaak word.
Paetzold sê dis frustrerend vir toeriste wanneer regulasies elke paar maande verander word en krap sake deurmekaar vir enige internasionale toeriste wat hul vakansies lank vooruit wil beplan. Lae inentingskoerse in Namibië tel ook teen die land.
Die eienaar en stigter van die Namibië Reis- en Toerismeforum, Nrupesh Soni, sê hy het ’n definitiewe toename in die aanvraag na werksgeleenthede in die toerismebedryf sedert verlede jaar bespeur.
“Toerisme is besig om op te tel,” het hy gesê. Volgens hom is meer aandag aan die toergidsbedryf nodig, omdat geen ordentlike graderingstelsel vir toergidse in die land tans bestaan nie. Talle is gevolglik nie gekwalifiseerd nie.
“Ons kry sowat 60% toeriste wat self deur die land toer en nie werklik tot die bedryf bydra nie. Ons moet dus ons eie bedryf vir toergidse ook ontwikkel,” het hy gesê.
– [email protected]
FOTO’s Tanja Bause

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie